VrygekoopteBaanbreker se 100ste skrywe
— ‘n gedig —
Op ‘n trappie
in ‘n ruim vertrek,
staan ‘n groot kruik.
Dis vol water, gereed
om bedien te word
aan almal wat dors
en teenwoordig is.
Die water is helder
en dit is suiwer, dit
gee lewe en les dors.
Afwagtende mense is
gretig en desperaat,
want in ‘n wêreld vol
indrukwekkende kruike
met besoedelde water,
is egtheid uiters skaars.
Kreupeles met kneuse,
geswelde bloei-lippe,
knoppe in kele, en
brandende derms.
Die groot kruik op die trappie
bevat die regte water, maar—
Die drinktuit is vlymskerp,
dit sny sagte menselippe.
Daar is klippe onderin, dit
steek vas in mense-kele en
dit brand in mense-derms.
Wanneer die kruik ingespan
word soos ‘n knuppel, dan
kneus dit sagte weefsel.
Die oorspronklike Kruik waaruit
Lewende Water gevloei het,
het seer gesondgemaak,
stukkend heelgemaak,
krom reguit gemaak.
Hy het nie weerloses gesny,
kwesbares gekneus of
stukkendes gebreek nie.
Hy was gekneus, gesny,
stukkendgebreek en geslag…
…sodat alle mense wat in Hom glo, uit hierdie stukkende kant van die ewigheid kan oorstap na die volmaakte kant van die ewigheid toe.






0 Comments