Die stil, siek skouspel van siel-sluipmoord
—die toeskouer—
Op ‘n foto innie koerant
sit ‘n vrou op ‘n sypadjie.
‘n Man met ‘n vuil broek sit
langs haar en hou haar vas.
Rondom sy een gewrig, die
oorblyfsels van vasgebind.
Daar’s ‘n pienk handdoek
rondom haar onderlyf gebind.
Albei se gesigte is verskans.
Joernaliswoorde vertel
nog ‘n storie van geweld.
Soos gister en eergister
en verlede week
en verlede maand
en verlede jaar
en al die vorige jare.
Twee studente is aangeval,
hy is vasgebind en sy is
aangerand en ontklee.
Sy het terugbaklei en
hulle kon weghardloop,
hy met vasgebinde hande
en sy, gekneus en kaal.
Helder oordag, in Bloemfontein.
Onderaan, die kommentaar van
ver-verwyderde vingerkletsers
op skootrekenaars en slimfone.
—die aanskouer—
Die barmhartige samaritaan,
oppad werk toe na etensuur,
betree die toneel, dit is
hoogs ontstellend— ‘n jong
vrou wat kaal weghardloop en
‘n jong man wat agterna hardloop.
Hy stop sy kar, hy ry nie verby nie.
Hy sien die verskrikking en
die vrees in haar verwilderde oë.
Die pienk swemhanddoek op die
agtersitplek bring sagte beskerming
en bedek die jong vrou se skaamte.
Die nooddienste word ontbied.
Die samaritaan vertrek weer.
Ernstige tragedie is afgeweer,
maar onheil bly rondhang—
in die skaduwees, in die stilte.
Niemand kan dit noem nie,
maar almal kan dit aanvoel.
—die beskouer—
Op die vooraand van Erfenisdag,
kyk ek, sonskyn-en-bloulug-vrou,
burger van ‘n reënboognasie
weer na Maandag se koerantfoto.
Ek sien—
die vuil van vreesaanjaende geweld
op die wit broek van ‘n jong man en die
oorweldigende verleë verligting in die
vashougreep van dieselfde jong man.
Ek hoor—
die stilgille van jongmense wat
in lewensgevaar verkeer het.
Onskuldig. Onverdiend. Onverwags.
Ek ruik—
die vrees-sweet van slagofferwees
en die stank van roofdierkwyl.
Ek voel—
die magteloosheid van vasgebind en
die weerloosheid van kaaluitgetrek.
Vanwaar ek sit en skryf,
sien ek see en sonskyn,
maar ‘n diepswaar donkerte
bedreig my hart
en verwurg my siel.
So, liewe leser,
môre wanneer jy jou tjoppie braai
en jou oog die nuus vang waar
een of ander politieke pappit
met ‘n pienatbrein proes en prewel
oor sake ver bo sy vuurmaakplek
om stemme te werf met leë beloftes,
dink aan die erfenis van die jong vrou
op die sypadjie in Bloemfontein.
Sy is nie verkrag nie,
nie Maandag nie…
Maar wat van Dinsdag en vandag
en al die dae daarna?
Wat van al haar geslagsgenote?
Watter werklikheid staar
almal van hulle in die gesig?
Die stille water, diepe grond van
witgepleisterde gesagsowerheidsgrafte,
soos honde wat blaf en nie kan byt nie.
Vrouehatende patriargale kultuur
van verag, verneder en verdruk
onderskryf vergrype van roofdiere.
EENDRAG MAAK MAG
word VERKRAG IS MAG!
Die stil sluipmoord op vrouesiele.
Sy is gered, maar sy is NIE veilig nie!
SHE WAS RESCUED, BUT SHE IS NOT SAFE!





Swaar om te lees, die wereld maak mens bang. Mag sy, en almal wat verniel word, weet dat hierdie tyd op aarde is net ‘n flietende oomblik in die ewigheid. Die bose is toestemming gegee, om te breek en te verslind, maar aan ons ewige adres kan hy nie verander nie.
Dankie vir jou bydrae, liewe Charnetta. Die pyn en lyding aan hierdie stukkende kant van die ewigheid slaan gereeld my wind uit… Jy is reg, NIKS aan hierdie kant kan enigiets aan die volmaakte kant van die ewigheid verander nie! ✝️
Ek stem van harte met Charnetta saam oor die effek van hierdie besinning op die leser. Die trauma, die onuitwisbaarheid van die aanslag… Hierdie jong vrou is in ‘n rotsskeur ingeslinger waaruit ‘n barmhartige samaritaan haar opgetrek het. Mag die HERE hierdie man self beloon. Sy het verkragting na die liggaam vrygespring, maar nie van haar menswees nie. Nie van haar vrouwees nie. Die lot van dogtertjies, jong meisies, volwasse en bejaarde vroue in Suid-Afrika is van die bose. Ons Vader in die hemel, verlos ons van die bose, asseblief. AMEN.
Dankie liewe Maretha. Hierdie toenemende gevalle van die verkragting van beide vroue se liggame asook hulle menswees, verwurg my hart en versmoor my siel… Here, help ons asseblief? 😭🙏🏼
Ja dames ek stem gelyk met julle almal se sê – en ook in my hart pyn dit vir die onregverdigheid en die leed! Dankie Jesus dat ons binne U omhelsing troos en heling vind en dis net genade dat hierdie natuurlike lewe net ‘n stippel is in die ewigheid saam met ons Vader, Verlosser en Trooster
Dankie, liewe Carla, vir die herinnering dat ons tyd aan die stukkende kant van die ewigheid glad nie eers kan vergelyk met VIR ALTYD aan die volmaakte kant van die ewigheid nie!