My broodnodige oordenking
.
Ons het tans een of ander koolhidraat-kranksinnige knaagdier wat snags wanneer ons slaap, soos ‘n slinkse sluipdief, inkom om net sekere van my kombuiskaste en -rakke te besoek waar hy brood en aartappels sommer dwarsdeur hulle onderskeidelike plastieksakomhulsels vreet. Kwaad en gril is my twee hoofreaksies en plaagbestrydings-probleemoplossing is my geliefde Assie se hoofreaksie. Terwyl die ongenooide eienaardige skepseltjie se dae verseker getel is omdat Assie reeds begin het om teregstellingstoerusting bymekaar te maak, het hy tog die eerste rondte gewen deurdat hy gisteraand sy eie teregstelling ge-systap en die brood van die valletjie af gesteel het! Dit is nogal vernuftige KI (Knaagdier, nie Kunsmatige, Intelligensie), maar ongelukkig gaan die oorlewingsdrang in die ou gediertetjie se instinkgedrewe dierbrein die spyker in sy doodskis word. Die brooddief laat my nogal dink aan ons broodbakmasjien wat onlangs die gees gegee het.
Dit was nogal ‘n indrukwekkende stukkie tegnologie wat die broodbakmasjien aangedryf het. Mens smyt net al die bestanddele in ‘n spesifieke volgorde binne-in, druk ‘n knoppie en binne ‘n uur of twee of drie (na gelang van voorkeurstellings) kom daar ‘n geurige gebakte brood uit. Teenstrydig met die sluipende knaagdier, het die broodmasjien nie ‘n sluipstelling gehad nie en het dit kenmerkende klanke uitbasuin met elke stap in die bakproses. Eers was daar die ghir-ghir-zwoei-zwoei van die dryfbelt tydens die knie-proses en dan die fyn gezoem van die element wat opwarm tot op termostaat-temperatuur en tydens die bakproses, oneweredig-verspreide kliek-kliek klanke wat dui op hitte-uitsetting van die binnewerke van die masjien. Vir ‘n hele klompie jare het die broodbakmasjien uitstekende diens aan ons gelewer, maar iewers in Junie vanjaar, was sy swaansangdienslewering bedenklik en erg teleurstellend. Ons het al die regte klanke gehoor, maar die eindproduk was nie ‘n brood nie. Assie se interne ondersoek het aan die lig gebring dat verskeie binnegedeeltes onherstelbaar verslyt het.
Die knaagdier besteel my van my brood en die broodbakmasjien het my daardie laaste keer bedrieg met ‘n onvervulde belofte van brood! Beide hierdie gedagtes het aanvanklik nogal ligsinnig voorgekom, maar uiteindelik het die gewaarwordinge van my oordenking daaroor my baie diep getref.
Ek het onlangs weer gekyk na ‘n spesifieke episode van die TV-reeks The Chosen waar die karakter van Jesus tyd spandeer saam met kinders. Een van hulle vra Hom wat sy gunsteling-kos is waarop Hy antwoord dat dit brood is. Dit het my weer opnuut laat besef net hoe deurslaggewend brood my herinner aan hoe Jesus se verlossingsdaad my vrygekoop het. Eintlik is die kaskenades van die knaagdier-brooddief nogal vermaaklik, want al steel hy al my brood, kan hy nooit daardie herinnering wat brood vir my inhou, van my steel nie.
Die uitdagende deel van my oordenking en gewaarwording het gekom by die geval van die broodbakmasjien. Baie spesifiek die gedeelte waar hy al die regte klanke maak om die idee te gee dat hy al die nodige stappe volg om ‘n brood te lewer, maar dan uiteindelik nie ‘n brood lewer nie. Ek is tog so bewus daarvan hoe ek hierdie tyd van die jaar ook ‘n bietjie soos die simpel stukkende broodbakmasjien operate. Niemand kan regtig my binne-moegheid, slytasie-skade en/of verslyte stukkend sien nie, maar aan die buitekant gaan ek deur al die regte motions om dit te laat blyk dat ek kan lewer wat ek adverteer….en dan kan ek eintlik nie. Ek het onlangs die gevolg hiervan diep in een van my geliefdes se oë gesien en besef dat ek ‘n verantwoordelikheid het om seker te maak dat my binnewerke behoorlik instandgehou word en dat sukkelende stukkies versien, gediens of selfs vervang word voordat dit breek. As Jesus-volgeling kan ek nie brood, wat direk aan Hom herinner, adverteer en dit nie lewer nie.
.
Here Jesus, baie dankie dat niemand of niks my verlossing of die brood-herinnering daaraan kan steel nie. Ek is jammer dat ek soms, in tye soos nou, adverteer dat ek ‘n herinnering aan U gaan lewer en dit dan glad nie doen nie. Ek is jammer vir al die stukkend wat dit vir ander meebring. Help my asseblief om U getrou te verteenwoordig sodat ander mense kan glo en tot U nader. Amen.






Wat ‘n absoluut verruklike inskrywing, Lulu, en sommer op verskillende vlakke ook. Ek sit my en verwonder aan jou pragtige, suiwer taalgebruik [ dryfbelt, hitte-uitsetting, termostaattemperatuur, om maar enkele voorbeelde te noem. In Nederland word iets wat so uitsonderlik is, as “‘werk van de hoogste plank “‘beskryf’, as ek reg onthou. Dit is so lekker om van die insidente wat jy beskryf, te lees. En dan die geestelike toepassing, wat beslis nie met ‘n haakstok nadergehark is nie. Dit sal my en baie ander bybly, weet ek. Dankie hiervoor!
Liewe Maretha, baie dankie vir jou mooiste woorde! Ek het met groot hartseer besef dat dit beter is om eerder niks te belowe as om brood te belowe en dan dan ‘n onooglike, oneetbare, hardgebakte drellerige gemors te lewer. Die seer in die ontvangers se oë brand tot binne-in ‘n mens se siel om nie eers te praat van die ondraaglike verlange na hulle wanneer hulle verdwaal op hulle geloofspaaie nie. Dankie vir jou waardering! 🙏🏼
Dankie Lulu..
Dankie Rikus.