DIE JA VAN ‘N BEDIENENDE OUPA

POSTED BY

Lulu van Aswegen
DIE JA VAN ‘N BEDIENENDE OUPA

Spesiale verjaardaghuldeblyk aan ons 78-jarige OupaBrood

.

 

Dis nagdonker buite. Binnekort gaan die donker die glinstergoud van ‘n seker sonsopkoms op die horison ontmoet, maar nog nie nou nie. Die toegewyde kok begin sy voorbereiding terwyl almal nog slaap. Hy skraap, skrop, skil, sny, krap, kap en klits en dit neem hom vele ure voordat hy ‘n taamlik-bedenklike versameling rou bestanddele in ‘n pot gooi en die konkoksie aan die kook begin kry.

 

Aanvanklik is die waarneembare geur vanuit die kokende pot effe vreemd, maar met die verloop van tyd, verander die vreemd na verruklik en teen 12:00 is die kos gaar en gereed om opgeskep te word. Daar is ongeveer twaalf van ons wat aansit het vir sekerlik die lekkerste perlemoenpotjie wat ek al ooit geëet het. Niemand staan honger van die tafel af op nie en die eens propvol pot is dolleeg. Die leë pot het my daardie dag aangegryp en die ontwikkelende gewaarwording daaruit, bly my steeds vandag by. Dit het minstens tussen sewe en agt ure geneem om stinkerige see-skepsels te omskep in ‘n verruklike feesmaal in, maar dit het minder as ‘n halfuur geneem om die hele pot leeg te eet. Binne enkele minute word alles waaraan die kok urelank voorberei het, opgeëet en bly daar geen bewys oor van sy swoeg en sweet nie. Is dit werklik die moeite werd? Vanuit die suiwer selfsugtigheid van ‘n lekkerbekkige spysverteringsverbruiker, sou ek daardie dag beslis JA geantwoord het. Maar ek het daardie dag myself in die skoene van die kok geplaas, en ek sou nie vinnig genoeg NEE kon antwoord nie!

 

Die knap kok van destyds het nooit die koste van sy moeite bereken nie, want sy indrukwekkende rekord van sy eersteklasdisse het keer op keer, jaar na jaar bewys dat sy antwoord op bogenoemde vraag nooit NEE kon wees nie. Kosmaak was nog altyd soos sy unieke bediening en hoewel die skaal daarvan beduidend afgeneem het weens natuurlike aftree-omstandighede, weet ek dat hy nooit NEE sal kan antwoord nie. Daardie kok is my pa en hy is vandag 78 jaar oud. Ek het vele kenmerke van my pa geërf, maar ‘n voorliefde vir kosmaak is verseker nie een daarvan nie!

 

In ons AssieTribe staan my pa bekend as OupaBrood, die naam wat my kinders aan hulle oupa toegeken het dertig jaar gelede. Ek kan onthou hoe my ma Makkie geword uit die verkleiningsvorm Oumatjie, maar ek kan glad nie onthou hoe my pa OupaPiet heeltemal vrygespring het om OupaBrood te word nie. Hy het nog altyd daardie naam, soos ‘n statusverheffende titel, met trots gedra. Ek het destyds nogal gereeld in my stilligheid gestoei met die flouerige (selfs dommerige) betekenis van brood, maar nou weet ek dat dit eintlik die gevolg van ‘n verlies aan begrip aan my kant was. Intussen het ek ook, soos my pa, die grootouer van vier kleinkinders geword en geleer dat watter naam jou eie oulikste en slimste kleinkinders kan uitdink, jy dra dit met trots! Selfs wanneer bye Nana baNana word…. Net vir die rekord, dit geld net vir wanneer dit uit my kleinkinders se cute bekkies kom en nie uit die cheeky bekkies van hulle ouers nie!

 

Liewe OupaBrood, baie geluk met jou verjaardag! Baie dankie ook dat jou antwoord nooit NEE was soos myne nie, anders was niemand van ons ooit bederf met jou lekkerste kos nie!

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

4 Comments

  1. Charles James

    Mooiste woorde!

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie liewe Charles! ❤️

      Reply
  2. Sulette Van Der Merwe

    My liefste Oeloels baie dankie vir die kosbare skrywe van ons Oupa Brood, hy het ons sowaar met elke ete wat hy al ooit gekook het bederf en darem het ekke so biekie daarvan geerf…een van die BESTE kokke wat ek ken en al geken het. Happy Bday liefste Oupa Brood!!!

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie vir jou waardering, liefste Let! ❤️

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post