VEERTIGSTE HERDENKING VAN MY GELOOFSVERKLARING

POSTED BY

Lulu van Aswegen
VEERTIGSTE HERDENKING VAN MY GELOOFSVERKLARING

“Ek het vandag my hart vir Jesus gegee. Hy het my verlos van sonde en dood en ek wil Hom volg al die dae van my lewe. Dankie Jesus, vir nuwe lewe, vir ewige lewe!”

– Inskrywing op 22 September 1985 in my eerste 1983 NUWE VERTALING Afrikaanse Bybel

.

 

Dit was ‘n Sondagoggend op die Disakloof CSV kampterrein in Bettiesbaai aan die Wes-Kaapse kus. Die deernisvolle jong dominee het ‘n groepie gewillige tieners begelei om hulle lewens, met algehele oorgawe, toe te wy aan Jesus en ‘n verbintenis met Hom te maak om Hom te volg. Ek was deel van daardie groepie al was ek nog nie amptelik ‘n tiener nie, dit was 32 dae voor my dertiende verjaardag.

 

Hierdie geloofsverklaring was ‘n verstommende vervulling van ‘n onbeskryflike gebeurtenis ses jaar tevore in 1979, op ‘n graad-een-klaskamermat, toe my sewejarige siel aangegryp is deur die derde vers van Stille Nag. Ek het nie daardie dag in my Bosveldklaskamer die woordeskat gehad om uit te druk wat gebeur het nie, maar die vervulling daarvan in 1985 het nie veel woorde benodig nie. “Jesus Heer, voor U mag, voor U ryk moet die duisternis swig. Tot in ewigheid bly U die Lig.”

 

Vandag, 32 dae voor my drie-en-vyftigste verjaardag, dink ek terug aan daardie dag en my deurslaggewende verbintenis met Jesus wat ek steeds vandag met oorgawe eerbiedig. My geloofsreis sedert 1985 is ‘n versameling van belewings en ervarings wat wissel tussen die hoogste hoogtepunte en die laagste laagtepunte. Die duisternis was met kere so versmorend dat dit gevoel het asof dit my gaan verswelg, maar Jesus was altyd daar en Sy Lig het altyd die duisternis verdryf. Daar was seisoene waarin ek die pad van Waarheid so effe byster geraak het deur meegevoer te word deur die aanloklike skermbeskermers (screensavers) van werklikheidsontkennende geloof soos voorgehou deur grootpraterige lekkerbekgelowiges. Dit het my op die klipperige grond-afvoerkante langsaan die teerpad laat voortsukkel al was dit in die regte rigting.

 

Ek ken nie die inhoud van die Bybel uit my kop uit nie, nie eers amper nie en daar is tye wanneer ek effe verleë voel oor al my onindrukwekkende (afwesige) uitkomste, veral na veertig jaar…. Maar dis dan, juis in die lig van my afwesige prestasies, wanneer ek onthou dat hierdie kosbaarste reis van my geloof, teenstrydig met alle prestasie-gedrewe aardse reise, die grootste trefkrag het wanneer my pogings die kleinste invloed het. Gedurende die afgelope vyf jaar het ek vir Jesus leer ken op ‘n vlak veel dieper as ooit tevore nie en ek wil so graag voortbou daarop. Maar terwyl ek steeds te vinnig ry, te vinnig kwaad word en hopeloos te stadig is om verdraagsaam en vergewensgesind te wees, is daar nog te veel van my en te min van Hom.

 

Daarom is hierdie skrywe dan nou die teenoorgestelde van ‘n spogtog. Dis eerder my nederige oorgawe tot verootmoedigende dankbaarheid. Ek staan in sprakelose verwondering oor die onpeilbare diepte van my geloofsreis, ondanks my selfsugtig-menslike inmengerigheid.

 

Here Jesus, baie dankie dat U reeds so getrou nie net vir 40 jaar nie, maar vir amper 53 jaar lank nog altyd by my was, steeds is en altyd sal wees. Dankie dat U Lig altyd die duisternis verdryf. Dankie dat U my Verlosser is en dat U my raaksien en liefhet. Ek wil U steeds volg en dien vir die res van my lewe. Amen.

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    Liewe Lulu, kyk, ons is op dieselfde bladsy! Soos altyd, was jy egter die ribbok en ek die stadige skilpad of slak. Toe ek dertien was, het ek nagte lank in die hoekkamer van ons ou gewelhuis in Petrusburg by die HERE lê en pleit: ”Vergewe tog asseblief al my sondes!” [Een daarvan was onder andere dat ek en ‘n maatjie ‘n middernagfees gehou het, waarvoor ek ‘n bottel ingelegde perskes uit ons ma se spens gesteel het. My ouers het die leë bottel buite gekry en ek het oor alles gejok.] Dit het my ses jaar geneem om vergifnis van hierdie en talle ander sondes [splintergoed van die groot menslike ontaarding] te aanvaar… ook op ‘n kamp te Hartebeespoortdam. Ek, die berouvolle slak, was 19 jaar oud. En anderkant daardie grootste, bevrydende, HEERLIKE, huilende bekering en vryspraak, was ook my lewenspad vol oppe en affe, slote en Elia-togte na Horeb. O, hoe wonderlik beskryf jy die pelgrimstog anderkant die enkele en enigste Ingang in die teenwoordigheid van die Vader in. DANKIE hiervoor!

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Liewe Maretha, baie dankie, nie net vir jou waardevolle bydraes nie, maar ook vir jou gewillige deursigtigheid! Kom ek sê maar net dat die bottel in my eie leë-bottel-storie wat ek kan onthou, alreeds bykans leeg was, maar dat dit nie perskes ingehad het nie. Die voorreg van bekering en die geskenk van vrygekoop wees sal my altyd laat heerlik huil! Hoe kosbaar is dit nie?! ✝️

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post