gewaarwordingsgediggie van ‘n visbevange VrygekoopteBaanbreker
In my ou lewensvissersbootjie
probeer ek om ‘n bestaan te maak.
Ek spook en ek spartel en
ek swoeg en ek sweet, want dit
moet waardig en volhoubaar wees.
Soms werk dit glad en netjies, maar
ander kere werk dit glad nie en dan
voel ek soos vuisvoos Petrus wat
heelnag nette uitgooi en dan, visloos,
met leë nette terugkeer in die oggend.
Soos met Petrus, neem Jesus
my ook noukeurig waar op die water.
Hy ken my binnekant en Hy ken
ook die binnekant van my bootjie.
Steeds roep en vra Hy hoe dit gaan.
Vir Hom is ek altyd waardig en Hy
beskik oor my lewensvolhoubaarheid.
Of ek nou visvolop of visloos opdaag,
Hy nooi my elke oggend vir ontbyt,
‘n genadegeskenk van Sy vis en brood.
Maar Here, ek dink nie U verstaan
my lewe en bediening so mooi nie.
Ek het nie tyd nie en ek het boonop
veel groter visse om vir U te braai.
Kyk net hoe vol is my nette!
Ek staan met ‘n yslike vis in my hande
om my punt aan Hom te illustreer.
Dan val my oë op die koolvuurtjie en
ek sien die geroosterde vis en vars brood.
Hy het dan glad nie my vis nodig nie…
Ek neem ‘n sitplek in by die koolvuurtjie en
terwyl ek, in verwondering, daarna staar,
word ek bewus van my skaamtelike gedrag.
Ek ontglip Hom wanneer ek visloos is en ek probeer
met Hom onderhandel wanneer Hy vis volop maak.
O Here Jesus, vergewe my asseblief?
Dat ek soms dink dat ek beter as U weet.
Dat ek U soms ontglip omdat ek skaam is.
Dat ek nie elke oggend die ontfermende liefde
van U vars, nuwe guns en genade omhels nie.
Here Jesus, anders as met Petrus destyds op
die strand, is U nie in menslike gestalte by ons nie.
Maar U is oral en steeds naby, net anders naby.
Dankie dat U teenwoordig is
in elke oomblik van my lewe.
Help my asseblief om U voorbeeld te volg,
om teenwoordig te wees in elke
oomblik wat ek gegun word en ook
om ander mense met die genade
van geroosterde kos te bedien
rondom ‘n warm koolvuurtjie en
hulle nie genadeloos uit te lewer
daaraan om self gerooster te word en
dan deur die wêreld verslind te word nie.
Amen.





0 Comments