‘n Oordenking oor geloof in ‘n verwarrende wêreld
.
Die samelewing waarin ons onsself bevind is vol sterflinge met stemme vanuit elke uithoek van die aarde, wat tog so graag hulle SEEPKISSIES nadersleep om op uitsaai-gedrewe APPELKARRETJIES te spring vanwaar hulle dan kwebbel, knetter en klets oor die lewens van mense wie hulle nog nooit ontmoet het of sake waarvan hulle geen werklike kennis dra nie. Hoe groter die omstredenheid van prikkelende nuusgebeure, hoe harder skreeu die oningeligstes en hoe sterker trek hulle skares opgemaak uit wankelende en weerlose mense aan.
Onlangs het die tragiese skietsterfte van ‘n jong Amerikaner ‘n sterk SEEPKISSIEstorm op die wêreldverhoog ontketen. Sy lewe het getuig van sy onbeskaamde uigesprokenheid oor sy GELOOF in Jesus. Ongeveer 20 jaar gelede is ‘n fliek, gegrond op die lewe en bediening van ‘n ander man wat ook onbeskaamd uitgesproke is oor sy GELOOF in Jesus, uitgereik. Die fliek se titel word in Afrikaans vertaal as GELOOF SOOS AARTAPPELS.
Maar hierdie skrywe handel nie oor die ontslape man wie ek nie geken het of selfs die lewende een met wie ek nie heeltemal saamstem nie. Ek wil my hart deel oor SEEPKISSIES, APPELKARRETJIES, AARTAPPELS, APPELS en GELOOF. Vir die doeleinde van eenvoud en beeldspraakooreenkomstigheid, gebruik ek graag APPELS as ‘n versamelnaam vir vrugte in die algemeen.
Aan die heel begin van mensegeskiedenis was daar ‘n paradyspaartjie in ‘n volmaakte wêreld waar hulle saam met God gewandel het. Hulle het hulle onbeperkte toegang na God en volmaaktheid asook hulle eie onsterflikheid prysgegee toe hulle die APPELS van die enigste verbode boom geëet het. Met die slang se SEEPKISSIE het hulle op die mensdom se eerste APPELKARRETJIE, die een van selfregverdiging, gespring en sedertdien is GELOOF (om te glo in God Wie nie gesien kan word nie) die mensdom se enigste verbintenis met God.
Ek verwag nogal dat sekulêre slimmes hulle SEEPKISSIES sal nadersleep om hulle monde uit te was oor elke saak wat sensasie prikkel en selfs dat sommige van hulle vuilwasgoed-uitwysstellings soms kan sinmaak. Maar dit steek my effe dwars innie krop wanneer gelowiges SEEPKISSIES nadersleep om ook uitsluitlik op vuilwasgoed-, verwaandheids- en/of onkunde-APPELKARRETJIES te spring en dan droogmaak in plaas van skoonmaak. Dis amper asof hulle hulle GELOOF begin slyp en skerpmaak om as aanvalswapen te gebruik (dalk eerder misbruik) vanaf ‘n spesiale soort SEEPKISSIE, die AARTAPPELKISSIE, terwyl hulle op APPELKARRETJIES spring wat ander mense se APPELS vervoer.
AARTAPPELS is groente, dit groei onder die grond waar ons dit nie kan sien nie. APPELS is vrugte, dit groei aan bome bo die grond waar ons dit kan sien. Na gelang van Hebreërs 11 se definisie van GELOOF, het dit inderdaad ‘n AARTAPPEL-komponent, die bewys van sekerheid in die hoop op dit wat nie gesien kan word nie. Maar Galasiërs 5 verklaar die APPEL-komponent van GELOOF so mooi en duidelik.
Ek dink dat dit tyd geword het dat ons die APPELS van die KARRETJIES skei en dat ons, as gelowiges, elkeen sal besin oor die tipe en toestand van ons eie APPELS. Sodoende kan ons fokus op die groei en nie die vervoer nie. Jesus, as Boom van Lewe, is die Bron waaruit ons APPELS behoort te groei en wanneer ons ons oë herinstel op Hom, sal ons APPELS vanselfsprekend goed en GELOOFwaardig wees. GELOOFSAPPELS is liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Ek is bevrees die ander APPELS is GIFAPPELS.
Liewe leser, ek en jy en elke sterfling op aarde wat nog asemhaal, se lewensKARRETJIES gaan iewers die einde van ons aardse lewenspad bereik en dan gaan doodsKISSIES al wees wat gaan oorbly van ons lewens aan die stukkende, verganklike kant van die ewigheid. As Jesus-volgelinge in hierdie stukkende wêreld, weet ons dat Hy nie belowe het om ons te vrywaar van enige van selfs die slegste stukkendseer of sterfte nie, maar Hy het belowe om altyd by ons te wees.
Ons kan gerus ons selfverheffende AARTAPPELKISSIES verruil vir nederige AARTAPPELGELOOF en ons liefdelose APPELKARRETJIES verruil vir liefdevolle APPELGELOOF. AARTAPPELGELOOF in Jesus, Wie ons nie kan sien nie, beteken dat ons die APPELGELOOF van die Heilige Gees met oorgawe moet uitlewe sodat SEEPKISSIEmense ons GELOOFSAPPELS, nie ons GIFAPPELS nie, kan eet en dan ook glo. Want wanneer hulle glo, dan sal hulle skares van wankelende en weerlose mense ook glo.
.
“Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie ‘n wet nie.”
Galasiërs 5:22-23 AFR20
“Geloof, egter, is sekerheid van die dinge wat gehoop word, ‘n bewys van die dinge wat nie gesien word nie.”
Hebreërs 11:1 AFR20






Hierdie skrywe laat my bid: “Here, laat my verhouding met U so heg wees dat u Gees deurgaans in my sal werk om goeie vrugte te dra.” AMEN.
AMEN! 🙏🏼