JAKOB SE BESLUIT, DIE SWAANSANG VAN EEN SKELM

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

‘n Kernkortverhaal in die PGSD2025-reeks. PGSD2025 verwys na Pellissier Gemeente se 2025 Shop Day geleentheid waar gemeentelidmate uitreik na die geringstes in hulle plaaslike gemeenskap om hulle te bedien en te bederf. Hierdie verhaal is werklikheidsfiksie wat beteken dat die plot/storielyn geloofwaardig is, maar dat die karakters nie noodwendig ware mense uitbeeld nie.

.

 

DIS DIE LAASTE KEER….EK BELOWE! Woorde van ‘n selfbelofte wat oor en oor in Jakob se kop afspeel, amper soos ‘n vasgehaakte langspeelplaat. Hy sukkel om te konsentreer op Bertus, die vriendelike jongman wat oorkant hom sit. Nadat Bertus vir hom gebid het, vertel hy dat Jesus se hart vol vergifnis en liefde vir hom is. Jakob wil dit so graag glo, maar hy kan nie, nie vir iemand soos hy nie. Op sy skoot hou hy sy rugsak beskermend vas. Dit was netnou dolleeg met sy aankoms en nou is dit propvol. Daar is duur seep, ‘n stel klere en splinternuwe tekkies wat hy self kon uitkies terwyl Bertus hom gehelp het. Maar heel onder is daar ook ‘n paar ekstra items wat nie op die winkelrakke was nie en waarvan Bertus nog niks weet nie…

 

Jakob het vir die grootste gedeelte van sy lewe gehou by die reëls, want dit was vir hom belangrik om eerbaar te wees. Maar toe gebeur die ongeluk wat sy hele lewe verander het. Oubaas Gert het die draai te vinnig gevat wat gemaak het dat Jakob en ‘n paar ander werkers van die bakkie afgeval het. Die pleisters en pille het bietjie gehelp, maar toe sy lamvoet aanhou sleep, het Oubaas Gert gesê hy kan nie terugkom werk toe nie. Sonder werk kon hy nie vir sy vrou en kinders sorg nie en toe Oubaas Gert hom soos ‘n sleg hond weggejaag het toe hy sy lot by hom bekla het na 23 jaar se toegewyde diens, het hy vir die eerste keer die reg in eie hande geneem. Met sy seer lamvoet kan hy nie behoorlik werk nie, maar met sy blitsvinnige hande kan hy selfone, horlosies en juweliersware opraap sonder dat dit raakgesien word. Dit maak sy hart swaar, maar hy en sy mense moet eet en hy doen mos maar net dieselfde as Robin Hood wat ook van die rykes gesteel het om vir die armes te gee.

 

Bertus bid so mooi dat Jakob voel hoe trane oor sy wange rol en wanneer Bertus hom by die hek met ‘n drukkie en ‘n BarOne groet, wéét hy dat Jesus hom raaksien en vir hom omgee. Met sy krom kierie loop hy stadig en met groot moeite van die hek af weg, maar sy maag draai en dit voel asof Bertus se selfoon hom deur sy rugsak brand. Bertus en die mense by die kerk, vandag, is nie soos die ander wrede witmense nie. Hy gryp dadelik die foon uit sy sak uit en hardloop terug hek toe so vinnig as wat sy lamvoet hom toelaat. BERTUS, BERTUS…WAG VIR MY… EK IS JAMMER, EK HET JOU FOON GESTEEL! EK WIL VIR JESUS VOLG, EK WIL SY VERGIFNIS HÊ!

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    Rou, waarheidsgetrou, so seer Suid-Afrikaans. So was dit gewees, en vlak onder die oppervlak is die emosies van die verlede nog in tienduisende aanwesig. Dankie vir hierdie verhaal van die transformerende krag van agape liefde, Lulu. Onvergeetlik.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie liewe Maretha. Ware agape liefde is ‘n stukkie van die volmaakte ewigheid wat ons hier in ons stukkende wêreld kan ervaar. Mag die kosbare, stukkende geringstes by PGSD2025 daarmee bedien word, sodat hulle Jesus kan ontmoet en in Hom glo! 🙏🏼✝️

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post