WANNEER LELIK HEELMAAK WAT MOOI NIE KAN GESONDMAAK NIE – ‘n blitskortverhaal wat afspeel in 2075.
Die gryskop-oupa tel sy kleindogter op sy skoot. Dis storietyd. Sy wil ‘n baie spesifieke storie hoor en hy wil dit baie graag vertel. In haar hande hou sy ‘n item baie beskermend vas terwyl sy dit bestudeer met vasgenaelde bewondering.
Oupa maak sy oë toe vir net ‘n kort rukkie en hy word skielik teruggevoer na daardie aand, dertig jaar gelede….
Hy voel die klein vingertjies op sy skouer. Eers tik dit net liggies, maar uiteindelik vervorm dit in ‘n gebalde vuisie in wat duidelik, doelgerig en dringend klop om sy aandag te verkry. Met ‘n opwaartse drievinger-veeg ontslaan hy die simpel speletjie, klap hy sy iPad toe en verskuif hy al sy aandag na die fronsende wipneusdogtertjie wat langs hom staan.
PAPPA, EK HET ‘N PERSENTJIE VIR JOU!
Hy herken dadelik die boksie as die einste een wat die vorige maand een van sy verjaardaggeskenke was. Die een wat hy die aand na sy verjaardag, nadat almal reeds gaan slaap het, oopgemaak het en waaruit hy ‘n paar Lindt-balletjies geëet het voordat dit spoorloos verdwyn het. Die een met die afgeskeurde toemaakflappie, die gevolg sy lomp wegsteekpoging toe hy ‘n geluid in die gang gehoor het. Dit is vir hom duidelik dat die slag-van-blitstoeklappende-lessenaarlaai nie die enigste oorlog was wat die boksie moes ontbeer nie. Dit is glad nie meer in die oorspronklike vorm nie en die onderkant was toegeplak met verskeie Frozen-pleisters.
WOW, MY OU PIKKEWYNTJIE, DANKIE, DIS MY MOOISTE PERSENTJIE!
Deur die klein plastiekvenstertjie op die voorkant van die boksie, lyk dit asof dit gevul is met toegedraaide Lindt-balletjies. ‘n Hoogsgeheime ontdekkings-operasie tydens skoolure die volgende dag, het die inhoud van die toegedraaide items in die boksie onthul as ‘n versameling van ronde klippies, hondekos, ‘n Spider-Man-kop, ‘n paar verdagte kousels en iets organies-groen wat moontlik ‘n brussels-koolspruit kon gewees het. Daar was darem ook een volledige Lindt-balletjie en een met ‘n happie daaruit geneem.
Hy het daardie dag die twee Lindt-balletjies geëet en versigtig van die res van die inhoud ontslae geraak, maar die boksie met net die Spider-Man-kop daarin sou een van sy kosbaarste besittings word. Hy kon dit nie verduidelik nie, maar dit was asof die verinneweerde ou boksie sy heelgemaakte waterbottel geword het. Hy was destyds ook ses jaar oud, net soos sy Pikkewyntjie, toe die skoolboelies sy waterbottel gegryp en gebreek het. Die waterbottel was die kosbaarste besitting wat hy van sy mamma oorgehou het nadat sy aan kanker gesterf het toe hy net drie jaar oud was. Hy onthou hoe sy hart net so stukkend soos die waterbottel gevoel het, maar hy onthou ook hoe die twee splinternuwe waterbottels wat sy dierbare juffrou vir hom gekoop het, soos Spider-Man-pleisters op sy hart gevoel het.
Oupa maak sy oë oop en sien dat sy Poekenossie se aandag nog op die item in haar hande is. Dis ‘n kleiner vertoonkissie wat hy uit sy mooi glasvertoonkas, ‘n erfstuk-geskenk van sy oupa af, uitgehaal het toe sy daaroor uitgevra het. Binne-in die klein vertoonkissie is ‘n verinneweerde Lindt-balletjie-boks met ‘n Spider-Man-kop wat aan die onderkant van die boks se plastiekvenstertjie deurloer. Oupa gryp die kans aan om gou die nattigheid onder sy oë weg te vee voordat hy die storie begin vertel – die storie wat die antwoord is op Poekenossie se vraag.
OUPA, HOEKOM IS DAAR ‘N LELIKE BOKSIE IN JOU MOOI KAS?






So mooi! Dankie Lulu!
Dankie vir jou waardering, Charles. 🙏🏼