Eers het dit my begin WURG, toe het WALG gevolg en tans bevind ek myself iewers tussen WEEKLAAG en WOEDE daaroor.
.
Ek verwys na die wêreld van mooiweersteologie waar gelowiges, hier aan die stukkende kant van die ewigheid, glo dat hulle ononderbrekende toegang het tot volmaak-volhoubare voorspoed, sukses en gesondheid. Hier bekom gelowiges (met sterk geloof) blykbaar die bevelvoerende gesag om die uitvoerend-uitsluitlike kanale van God se mag en krag op aarde te wees. Dan kan hulle, soos God, daardie invloed laat geld deur net te spreek en beveel sodat wondertekens, wonderwerke en wondergenesings hulle oral volg. Hulle beskou profesie as ‘n soort spier waarmee gelowiges toegerus is en dat hierdie spier geoefen behoort te word deur profetiese verklarings te maak. Vanuit die sterk klem wat gelê word op die krag van gelowiges se woorde, onderskryf hulle die geestelike vorm van die wetenskapsgebaseerde denkpatroon-herstruktureringsbeginsel van positiewe gedagtes/denke as geloofsvereiste en word daar neergesien op enige negatiewe uitlatings, selfs wanneer dit ‘n verklaring van die werklikheid is.
Ek het self vir net minder as drie dekades lank aangeteken op bogenoemde mooiweersgeloof. Watter gelowige wil dan nou nie heeltyd die lekker van die hemel ook op aarde hê nie? Destyds het my eie hande-oplê-gebede regtig nooit die gewenste gevolge gehad nie, die troeteldiere het dood gebly en die verlamdes het in rolstoele bly sit. Desondanks het ek dan net harder gebid vir meer geloof terwyl ek lewe gespreek het oor alles wat sleg was. Ek het genesing gespreek oor elkeen van my letterlik-nare swangerskappe, maar moes steeds met my kop oor die toiletbak hang vir 30 uit 36 maande om meer as 5,000 keer te braak asook ‘n ligte beroerte trotseer iewers in die 6 braaklose maande. Met vier hiperaktiewe, aandagafleibare kindertjies onder die ouderdom van 7 jaar het ek begin verwys na daardie onbeskryflik-rowwe gedeelte van ‘n mamma se dag tussen 17:00 en 19:00 as suicide hour en is ernstig aangespreek daaroor. Ek is aangesê om dit eerder blessing hour te noem. Ek kon net nooit genoeg geloof bymekaarbid om ‘n tyd wat gevoel het asof ek my vinger in ‘n lewendige muurprop ingedruk het as blessing hour te kon beskryf nie, toe settle ek maar vir crazy hour al het dit ook maar die gesaghebbende wenkbroue laat lig. Ek sou in die jare wat volg aanhou harder probeer al kon ek eintlik nooit regtig ooit genoeg geloof bymekaar gebid kry om in ‘n mooier, minder-seer alternatiewe werklikheid te glo nie.
Hierdie patroon het aangehou totdat my geliefde kaalvoetkind met breinkanker gediagnoseer was en sy net al hoe sieker begin raak het. Toe my eenmalige hande-oplê-genesingsgebed net soveel diddly squat opgelewer het soos al die voriges, het ‘n groot ontnugtering binne-in my begin ontwaak. Ek het oorgeslaan na verootmoedigende stil, snikkende smeekgebede en besef dat daardie tipe gebede dwarsdeur my lewe reeds, gereeld beantwoord was. Ek het ononderbrekende toegang tot God. Ek het nie toegang tot Sy krag om dit, soos ‘n wafferse superhero, te gebruik om my wense te vervul nie. Sy genade en ontfermende troue liefde is genoeg vir my, ongeag van my begrip of die pyn van die onheil wat my tref. Die bietjie mooiweer in my familie het baie skielik plekgemaak vir ‘n dreigende F5 orkaan-tornado en ek het ‘n oorweldigende behoefte gehad aan ‘n Teologie vir alle weersomstandighede. Ek het daardie Teologie, in die vorm van ‘n nogtans-geloof (soos wat Habakuk beskryf en Ivor Swartz my geliefde Pellissier Gemeente onlangs herinner het aan), gevind in ‘n gereformeerde kerk, die einste plek waar ek oorspronklik my geloofsreis begin het.
Die mooiweersteologie het my begin WURG. Op die spyskaarte van menige Oosterse restaurante is daar saamgestelde maaltye waar kliënte disse kan kies uit verskeie kolomme, met die bepaling dat wanneer hulle sekere keuses in een kolom uitoefen, dit hulle beperk daarvan om sekere ander disse in ander kolomme te kan kies. Die Bybel is nie ‘n Oosterse spyskaart nie! Ons kan nie net die lekker kies en dan glo dat dit ons kwytskeld van die sleg nie. Hoe sieker my kaalvoetkind geword het, hoe meer het die mooiweersprofesieë van goedbedoelende mense my begin WALG. Die stukkend rondom my het net weerbarstig toegeneem soos wat ek my sterwende kaalvoetkind versorg het in haar onuitspreekbare lyding. Die stukkend was onverbiddelik tydens haar lyding, afsterwe en daarna. Hoewel daar vandag gedeeltes van daardie stukkend is wat gesondgeword het, is daar ander gedeeltes wat steeds stukkend is en waarskynlik so gaan bly vir die res van my lewe.
Ek het begin leer om stukkend te omhels, in plaas daarvan om dit te ontken. Ek glo in ‘n Drie-enige God Wie almagtig is en steeds vandag wonderwerke verrig, maar Hy alleen besluit daaroor en niks daarvan hang af van my geloof nie. Ek het ‘n verantwoordelikheid om die woorde uit my mond met wysheid te kies, want dit kan ander mense opbou of afbreek. My woorde kan wees soos ‘n fontein van suiwer water wat ander se siele verfris of dit kan wees soos ‘n oopgebarsde rioolpyp wat mense se siele met ‘n soort lewensbedreigende e.coli-infested gunk besmet. My woorde kan nie lewe en dood spreek soos God s’n nie. My gebede is nederige vrae en versoeke, nie verwaande hiet-en-gebied bevele nie, want ek volg vir Jesus, ek IS nie Hy nie.
Sedert my kaalvoetkind se afsterwe het daar ook ‘n WEEKLAAG begin ontwikkel vir mense wat, ondanks hulle eie storms, vasgevang is in mooiweersteologie. My hart breek vir mense wie se stukkendheidsontkenning sterker is as die stukkend rondom hulle of selfs (veel erger) gebou is op ander mense se mooiweersgetuienisse. Jesus het belowe dat Hy by ons sal wees totdat ons die oorgang maak van die stukkende kant af na die volmaakte kant van die ewigheid toe. Hy het nie belowe dat ons kwytgeskeld word van enige stukkend, seer en swaarkry nie. Ek WEEKLAAG oor mooiweersgelowiges wat hulleself ontneem daarvan om dieselfde Jesus Wie ‘n besonder-sagte plekkie vir die stukkendste mense op aarde gehad het, te ervaar in hulle eie stukkendste tye omdat hulle dink dat stukkend ‘n straf is vir swak geloof of selfs ongeloof. Dis baie moeilik om te hoor en voel hoe Sy sagte stem jou seer verlig wanneer jy onderhandel en aandring op deurbrake en wonderwerke.
Ek WEEKLAAG oor mooiweersgelowiges wat angstig raak oor stukkend wat hulle nie weggebid kry nie omdat hulle nie weet hoe om daarin te leef nie. Ek WEEKLAAG oor mooiweersgelowiges wat glo dat alle stukkend altyd gesondword en dan in ‘n blink geskenkpakkie-getuienis opgemaak moet word met ‘n helder strikkie bo-op. Dood, verkragting, hongersnood, oorlog, geweld en vele ander onregte sal altyd afskuwelik en afstootlik wees, dit kan nooit opgemaak word in ‘n blink gesondword-geskenkpakkie-getuienis met ‘n helder strikkie bo-op nie. Getuienisse getuig van God se dade, nie ons pogings tot manipulasie daarvan nie. Dis ook nie inskrywings op een of ander verwronge geestelike CV nie. Vele getuienisse sal eintlik eers aan die volmaakte kant van die ewigheid voltrek word.
My WOEDE is egter gemik op die blinkvoorkoms-gladdebek-mooiweersteoloë met Goddeloos-winsgewende, belastingvrye bedieningsinkomstes waarmee hulle hulleself vergryp aan die duurste luukshede soos yslike herehuiswonings, seiljagte, sportmotors en splinternuwe moderne privaat-stralers. Hulle verpersoonlik die mooiweersleefstyl en daarom preek hulle altyd ‘n mooiweersgeloof uit hulle Oosterse-spyskaart-bybels sonder dat hulle agslaan op enige konteks. Hulle buit desperaat-soekende mense uit om verstikkende gedeeltes van hulle eie swaarverdiende geld te “saai as geloofsaad” wat eintlik net hulle eie rykdom en aansien vergroot. Dit stel hulle ook instaat daartoe om New York Times bestseller boekies te skryf vol waardelose knetter met ‘n paar Oosterse-spyskaart-styl Bybelversies (uit konteks uit) daarop geplak waaruit hulle net nog meer geld maak. Met toegang tot net die beste tegnologiese hulpbronne in reuse ouditoriums, gryp hulle alle menslike sintuie aan deurdat hulle met aanskoulike toertjies miskien ‘n paar hoofpyne en keelsere laat verdwyn in psychosomatic-gedrewe skouspel-konserte. Geen opspoorbare egte wonderwerke en/of wondertekens en/of wondergenesings volg enige van hulle nie, net ‘n skaduwee van bedrieglikheid en die warm lug van al die asem waarmee hulle verklaar wat nooit gebeur nie.
Aan die een kant laat hierdie mooiweerspredikers my dink aan narre in ‘n sirkus. Hulle is dalk nie so opsigtelik vermom agter ‘n masker van die persoonlikheid wat hulle voorstel nie, want hulle vermomming is net soveel meer onderduims as die narre s’n. Soos narre gebruik hulle ook taktieke soos oëverblindery, toertjies, twakpraat, kulkuns en opswepery met ‘n swaar klem op vermaaklikheid. Aan die ander kant laat hulle my dink aan wolwe in skaapklere. Hulle lyk soos skape en blêr soos skape, maar onder die wolkostuum is hulle uitgeslape roofdiere omring deur prooi wat niks vermoed nie. Hulle is uitgeslape genoeg om hulleself aan te stel as God se generale en gesalfdes sodat hulle diegene wat hulle teëgaan kan dreig met die noodlot wat hulle sal beval indien hulle God se gesalfdes minag. Ek vermoed dis losweg gebaseer op die verhaal van die beeraanval op die tienerjariges wat die profeet Elisa gespot het, maar hoe dit ookal saamgeplak is, hulle verkeer onder dieselfde illusie wat hulle ook so naarstigtelik probeer verkoop. Hulle is NIE my God se generale nie en, met hulle uitspattigheid, getuig hulle eintlik mildelik van hulle eie onkunde oor feitlik elkeen van die Ou Testamentiese (regte) profete en hulle egte profetiese woorde oor die werklikheid van ‘n Godvresende geloofslewe – bietjie soos Hans Christian Andersen se kaal keiser. Dis eintlik so skreiend-ironies dat hierdie mooiweers- en saadsaaipredikers eintlik reënlose wolke en vrugtelose bome is.
Terwyl die mooiweerspredikers aanhou om hulle leuens te preek dat ons ons geloof soos masters of the universe kan bedryf in ‘n alternatiewe werklikheid wat ons met ons woorde skep en dit wêreldwyd verkondig, het ek by ‘n plek gekom waar ek genoeg gehad het….EK KON NET NIE MEER AANHOU OM TE PROBEER SAAMSPEEL NIE!
.
“Hy het aan jou, mens, bekend gemaak wat goed is: Wat anders eis die Here van jou as om net te doen wat reg is, om troue liefde te bewys en om nederig die pad saam met jou God te loop?”
Miga 6:8 AFR20
“Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid. My erfdeel is die Here, sê ek; daarom hoop ek op Hom.”
Klaagliedere van Jeremia 3:22-24 AFR20
“Hierdie mense is skandvlekke by julle liefdesmaaltye; hulle vier skaamteloos saam met julle fees; hulle sorg net vir hulleself. Hulle is wolke wat nie reën bring nie, en deur winde voortgedryf word, bome in die laatherfs wat sonder vrugte staan, twee maal dood, ontwortel,”
Judas 1:12 AFR20
“Wees op julle hoede vir die vals profete wat in skaapsklere na julle kom, maar in hulle binneste wolwe is wat verskeur.”
Matteus 7:15 AFR20






Liewe Lulu, hoe diep raak hierdie vier woorde my: ‘’wurg, walg, weeklaag, woede.” Hoe nodig is dit dat die waarheid van verdrukking, beproewing, verlies en die Godsbesluit om anders te handel as wat ons begeer, verkondig sal word.
Jeremia en elkeen wat Jeremia 3 deur die eeue heen vir hom- of haarself as geestelike outobiografie toegeëien het, is immers nie die geloofsmislukkings in ‘n milieu waarin sekere gelowiges met sekerheid profetiese beheer oor siekte, verliese, lyding en intense leed en teleurstellings kan neem nie.
Ons het grootgeword met Jeremia 3: 22-24 en ek dank die HERE die vrede en hoop, die heling en die dieper geloof wat hierdie ou-ou belydenis bewerkstellig.
“Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid. My erfdeel is die Here, sê ek; daarom hoop ek op Hom.”
Klaagliedere van Jeremia 3:22-24 AFR20
Dankie, HERE, dat die waarheid van die Woord en die waarheid van u troue liefde hier verkondig word. Seën asseblief vir Lulu met die keur van u seëninge. AMEN.
Liewe Maretha, baie dankie vir jou waardering, bevestiging, ondersteuning en seënbede! 🙏🏼
Daardie drie verse in die derde hoofstuk van Jeremia se klaagliedere is net so treffend in die English Standard Version:
“The steadfast love of the Lord never ceases; His mercies never come to an end; they are new every morning; great is Your faithfulness. ‘The Lord is my portion,” says my soul, “therefore I will hope in Him.’”
Lamentations 3:22-24 ESV ✝️
Lulu, baie dankie vir hierdie diep eerlike, pynlike maar noodsaaklike uitwys van die gevare van ‘n voorspoedsteologie wat al soveel mense se verhouding met God groot skade berokken het. Jou gebruik van die progressie “WURG → WALG → WEEKLAAG → WOEDE” skep ’n kragtige narratiewe struktuur wat my as leser van die begin tot einde saam neem.
Jou persoonlike verhaal – veral die hartverskeurende ervaring met Carli se siekte en dood – gee soveel diepte aan jou teologiese kritiek. Dit is nie net ’n intellektuele argument nie, maar ’n verhaal gebore uit werklike lyding en verlies, en dit raak my elke keer diep.
Jou beskrywing van “mooiweersteologie” as ’n “Oosterse spyskaart”- benadering tot die Bybel is beide briljant en skerp.
Jou skryfstyl wissel meesterlik tussen intieme bekentenis en profetiese woede. Jou finale aanval op “blinkvoorkoms-gladdebek-mooiweersteoloë” is genadeloos maar heeltemal geregverdig, en jou vergelyking met sowel sirkusnarre as wolwe in skaapklere het my laat glimlag te midde van die pyn van jou woorde.
Baie dankie dat jy nie skroom op die waarheid te skryf nie.
Liewe Charles, baie dankie vir jou insiggewende interpretasie, meelewend-ondersteunende kommentaar en diep waardering! Hierdie is ‘n omvattende kwessie wat swaar op my hart lê omdat dit steeds soveel skade, stukkend en seer veroorsaak. Jou deernisvolle begrip is van onskatbare waarde, baie dankie! 🙏🏼