STIL SKEPPER, STERK STORMS EN ‘N STUKKENDE STRANDHUISIE

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Stukkende Strandhuisie

Oh my word, daai ellendige stukkende huisie gryp my hart so aan!” Lilo se woorde laat Wynand besef dat die onderwerp van hulle saamdroomgesprek skielik verander het en dat die trant nou ook beduidend ernstig gedraai het. Op die sesdevloerbalkon van hulle vakansiewoonstel sit Lilo en Wynand oor die see en uitkyk terwyl die koel laatmiddagwind verfrissende lafenis bring om die warm Herfsdag mee af te sluit. Dis die tweede agtereenvolgende jaar wat die twee van hulle vakansiehou in dieselfde Noordkusdorp in KwaZulu Natal waarvandaan hulle kern-VenTribe 25 jaar gelede getrek het binneland toe. Dis hulle voormalige tuisdorp, een van die last English outposts in die ou Suid-Afrika waar ‘n klein groepie gelowige Souties twee bloedjong-Rockspiders en hulle 6-weke-oue eersteling met ope arms verwelkom het. Die plek waar Wynand se pittigheid tweetalig geraak het, waar Lilo die veelsydigheid van haar identiteit begin ontdek het en waar hulle eersteling die ouboet van ‘n tweede-, derde-, vierde- en vyfde-ling geword het.

 

Dit voel vir Wynand soos ‘n leeftyd gelede dat hy en Lilo met hulle vyfkindkroos hiervandaan weggetrek het binneland toe en dan besef hy dat dit inderdaad ‘n hele geslag gelede was. Sedertdien het hulle ook 5 skoonkinders en 4 kleinkinders (sover) ryker geword. Maar dan word hy teruggeruk uit die verlede uit wanneer hy die trane in Lilo se oë raaksien. Sy geliefde Lilo, wife of his youth and old age, VenTribe matriarch & company chief and visionary, die een wie se wil nie getem, skerpsinnigheid nie gemeet en sielsdiepte nie gepeil kan word nie. Sy is tegelykertyd ‘n Engelssprekende Rockspider en Afrikaanssprekende Soutie. Verlede jaar het Lilo die stukkende huisie opgelet en dit het haar effens nuuskierig gemaak, maar hierdie jaar ontwaak dit ‘n veel dieper dringendheid by Lilo.

 

Die stukkende huisie staan daar op die strand, net 200m noord van die hoofswemstrand af van Suid-Afrika se vierde vooruitstrewendste kusdorp. Die verweerde mure is vol spuitverfkuns, die dak is plek-plek inmekaargetuimel en daar is geen teken meer oor van vensters en/of deure nie. Hierdie afstootlike oorblyfsels van ‘n huisie wat dalk eens op ‘n tyd swierigmooi kon wees staan uit soos ‘n reuse ettergevulde puisie op die vlekkelose vel van al die duur strandpaleise wat die tussen die bome op die immergroen heuwels uitsteek.

 

Lilo kon deur middel van ‘n digitale blitssoektog vasstel dat ‘n egpaar die eiendom in 2003 gekoop het en daarna ‘n beduidende fortuin spandeer het om dit keurig op te knap en met luukse swier af te rond. Niemand het egter ooit daar ingetrek nie en toe die verwoestende storms van 2007 groot skade aangerig het, was dit waarskynlik die laaste verdoemende spykers in die ou huisie se doodskis. Dit is sedertdien meedoënloos geplunder en verniel wat uiteindelik gelei het tot die huidige hoogs onstabiele toestand van die struktuur daarvan wat nou ook lewensbedreigende gevaar inhou vir al die haweloses, kwaadstokers en boosdoeners wat gereeld daar probeer nesskop en deur die polisie verwyder moet word. Dit blyk verder dat die noodkrete van brullende belastingbetalende burgers en woedende welgesteldes aan die plaaslike munisipaliteit om die huisie te sloop, reeds minstens ‘n dekade lank op die dowe ore van afgestompte amptenare val. Die stukkende strandhuisie staan steeds oppie sand.

 

“Wynie, ons menselewens en al die aspekte daarrondom is net soos daardie huisie. Toe daardie huisie mooi en luuks was, het mense dit bewonder, maar nou dat dit stukkend en vervalle is, verafsku en verwerp mense dit. Ons streef na GOED, want dit is mooi en reg. Ons verafsku en verwerp SLEG, want dit is lelik en verkeerd. Dis ‘n halfgebakte halwe waarheid!” Wynand gee Lilo se hand ‘n drukkie en dan staan hy op om vir hulle verversings te gaan haal. Hy wil graag haar hart hoor en sy wil graag haar hart met hom deel. Met oorgenoeg Coke, water, paaseiers en biltong in Wynand se skinkbord, begin Lilo haar hart uitstort.

 

Die see was nog altyd Lilo se happy place. Die plek waar haar siel rus kan vind en waar sy die lug stadig in haar longe kan intrek. Die plek waar haar huil harmoniseer met die donderende druis en haar teer trane deur die sagte seewind afgevee word. Die plek waar sy die heel lekkerste met haar Here praat en waar sy Hom die diepste voel. Sy ken verskeie Skrifgedeeltes wat verwys na SkepperGod se grensgebod aan die see, dat dit op die strand sal uitspoel en niks verder oor die land mag beweeg nie. Sy beskou dit as oorweldigend merkwaardig dat die 71% water op ons planeet so gehoorsaam aan daardie gebod bly en nie sommer net die 29% land verslind nie.** Maar Lilo onthou KZN se storms van 2007 en selfs soortgelyke storms oor die wêreld heen en, daarmeesaam, die onberekenbare skade wat aangerig word elke keer wanneer die see God se grensgebod verontagsaam. Wanneer die see oortree, IS dit verseker SLEG vir almal wat daardeur geraak word, want ‘n stormsee het soveel krag in opgeboude momentum dat dit alles (selfs baksteen, metaal, onbreekbare glas, ens.) in sy pad vernietig.

 

Die wêreld waarin ons bly is eintlik net so stukkend soos daardie strandhuisie. Almal van ons word blootgestel aan GOED en SLEG en, vanuit ons lewenskeuses, bepaal ons gereeld self watter een van die twee ons ervaar. Maar dan is daar die ervarings van beide GOED en SLEG wat hoegenaamd niks met ons lewenskeuses te make het nie. Almal verstaan GOED en dis beslis mooi en reg. Lilo het geleer dat SLEG beslis lelik is en dat dit pyn en lyding veroorsaak, maar dat dit nie noodwendig impliseer dat die lyers iets verkeerd gedoen het of dat daar noodwendig kwaad/boosheid betrokke is nie. Kanker en ernstige siektes slaan ongenooid toe en plunder mense se lewenshuisies terwyl storms soos geweld en verdrukking*** mense se lewenshuisies vermink en vernietig. Lilo se hart breek vir al die pyn en lyding wat dit veroorsaak.

 

Soos Jeremia, die Ou Testamentiese profeet, is haar hart ook ontstuimig oor die gevaarlike vals leringe van hedendaagse self-aangestelde profete. Hulle het geen verduidelikings vir die nie-gekose verkeerde SLEG nie en dit bedreig hulle. Hulle is ongemaklik met die STIL SKEPPER en daarom raak hulle luidrugtig met chanting en boosheidverdrywings-bevelvoering in ‘n selfgeskape realm waar daar tog net nie soveel negatiwiteit kan wees soos in die werklikheid nie. Hulle is as ‘t ware hellbent daarop om die onbereikbare volmaaktheid aan die anderkant van die ewigheid te probeer hijack en aan hierdie stukkende kant te vestig met gaslit-gedrewe gebede wat nooit eindig met “nie my wil nie, maar U wil geskied” nie. Met die kleingeld in hulle dik beursies, opgevul deur desperate mense wat ly en “sade van geloof” saai vir wonderwerke wat nooit sal kom nie, kan hulle ‘n hele heuwel se strandpaleise hier op die Noordkus uitkoop. Lilo kan haarself nogal indink dat daardie Judas-kêrel moontlik die geneigdheid kon hê om in ons leeftyd bedieningsgeld vas te lê en dit dan te wanbestee op ‘n strandpaleis, maar háár Jesus sou beslis nooit Sy Vader se werke verkoop en Sy Goddelike Koninkryk verraai en verruil om rykdom op te gaar in ‘n verganklike wêreld nie.

 

Breinkanker het destyds ongenooid binnegestorm en Lilo se geliefde daughter-in-love, Katey, se lewenshuisie wreed en genadeloos geplunder totdat dit uiteindelik heeltemal leweloos en afgebreek was. Hierdie sterkste STERK STORM se verwoestingspad het die seerste seer en die slegste SLEG tot gevolg gehad. Vir Lilo was haar SKEPPER net STIL al was Hy steeds daar, maar vir haar geliefde seun wat skielik ‘n bloedjongwewenaar en alleenouer vir ‘n mammalose driejarige moes word, het Hy heeltemal verdwyn. Die wrede ontnugtering van vrugtelose chanting, onbeantwoorde gaslit-gedrewe gebede, impotentboosheidverdrywingsbevele en die verwerping uit ‘n geloofsgemeenskap waar sy geloof geweeg en te lig bevind is, het Lilo se verbondskind op ‘n soort verlore-seun-pad geplaas waar sy oorspronklike geloofshuisie nou taamlik ooreenstem met die ellendige stukkende strandhuisie. Die nuwe seer en SLEG het vervleg geraak met die ou seer en SLEG om saamgestelde seer en SLEG te vorm.

 

Meer as vier dekades gelede was Lilo die slagoffer van ‘n vieslike STERK storm van weggesteekte geweld en diep binne-in haar lyf dra sy steeds die gevolge daarvan saam met haar rond in die vorm van onherstelbaar-stukkende dele in haar liggaam en in haar siel. Dis bitter SLEG en baie lelik en daardie stukkies lyk waarskynlik net soos die ellendige stukkende strandhuisie. Maar anders as die stukkende strandhuisie op die sand, staan Lilo se huisie met al sy stukkende dele op die Rots, Jesus. Hy IS haar Hoop wat nie beskaamd word deur die skaamte van die lelik en die SLEG nie.

 

Net minder as ‘n dekade gelede het ‘n verwoestende STORM Lilo en Wynand se sakeonderneming getref wat tot gevolg gehad het dat dit skelm geplunder is terwyl “haweloses”, kwaadstokers en boosdoeners dit onbeskaamd uitgebuit het. Ondanks al Lilo en Wynand se reddingspogings, het die verwoesting voortgeduur totdat hulle sakehuisie uiteindelik net so ‘n onstabiele dop soos die ellendige stukkende strandhuisie was. Hierdie seer en SLEG was die oorweldigendste graad van vernedering vir albei van hulle en hulle moes eers self die stukkende bouval sloop voordat hulle ‘n nuwe gebou kon oprig. Die keer met toegewyde Godgegewe wysheid en ‘n standvastiger grondslag ook op die Rots, Jesus.

 

Ook soos die profeet Jeremia, na wie daar verwys is as die weeping prophet, laat die pyn en lyding van mense in ons stukkende wêreld Lilo se hartwande kramp* van meegevoelpyn en huil sy gereeld ‘n stortvloed van trane diep uit haar siel uit. Vir die wat deur manipulasie mislei word. Vir die wat deur geweld mishandel en misbruik word. Vir die wat deur siekte misvorm word. Maar Lilo weet vanuit Psalm 56***** dat haar Here elkeen van haar trane versamel, want vir Hom is dit kosbaar, dis nooit oorbodig of verniet nie en Hy is nooit ongemaklik daarmee nie.

 

Een van Lilo se kosbaarste vriende, Tim, is ‘n dominee wat haar so gereeld herinner dat ons nie met groot oë na die wêreld moet kyk nie, maar eerder met geloofsoë. Met groot oë sien ons net die lelik in die SLEG raak, maar met geloofsoë weet ons dat dit net tydelik is omdat daar aan die anderkant van die ewigheid net mooi en GOED vir ons wag wat vir altyd sal aanhou. Grootoog Lilo word verswelg deur die pyn oor haar verbondskind, is skaam en seer oor haar eie stukkend, is bang vir verwerping en die seer van bakhand-armoede wat dwase keuses en die onstandvastigheid van wisselvallige wêreldmarkte kan meebring. Maar Lilo met geloofsoë weet dat Jesus selfs liewer vir haar verbondskind is as wat sy is en dat Hy hom nie sal los nie. En Lilo met geloofsoë weet dat as Jesus haar nie aan hierdie kant van die ewigheid gaan heelmaak nie, Hy wel haar seer en SLEG ken, dat sy nooit vir Hom lelik is nie en dat Hy haar verseker gaan heelmaak aan die volmaakte kant van die ewigheid. En Lilo met geloofsoë weet ook dat, ondanks al die seer en SLEG in hierdie stukkende wêreld, Jesus belowe het dat Hy tot aan die heel einde saam met haar sal wees. Hy mag dalk soms STIL word, maar Hy raak nooit weg nie!

 

Teen die tyd dat Lilo die laaste woorde uit die skatkis van haar hart laat voortvloei, is dit reeds heeltemal donker met net genoeg lig vanuit die sitkamer vir Wynand om te sien dat die damwal van Lilo se hart-oog-verbintenisrif ook weer gebreek het. Hulle kan reeds lankal nie meer die ellendige stukkende strandhuisie sien nie, want anders as die helder liggies binne-in die strandpaleise op die heuwels, is daar geen liggies meer in die stukkende huisie nie. Al die verversings op die skinkbord is klaar – Lilo het ‘n halwe Coke en ‘n slukkie water gehad terwyl Wynand die res van die water en al die biltong en paaseiers verorber het. Met ‘n verleë glimlaggie skuif hy die skinkbord eenkant toe en dan sit hy sy arm beskermend rondom sy Lilo terwyl hulle terugstap in die woonstel in en hy sluit die deur agter hulle. Die dag is verby, dis slaaptyd en, soos wat Jeremia destyds in die derde hoofstuk van Klaagliedere geskryf het****, môreoggend is die oneindige ontferming en troue liefde van hulle Here weer nuut en vars.

 

 

§——§

 

 

*“O, die pyn, die pyn in my binneste! Ek krimp ineen! O, die wande van my hart! My hart klop onstuimig in my! Ek kan nie swyg nie; want my siel het ramshorings gehoor, ja, krygsgeskreeu!”

‭‭Jeremia‬ ‭4‬:‭19‬ ‭AFR20‬‬

 

**“‘Het julle nie ontsag vir My nie,’ is die uitspraak van die Here, ‘of krimp julle nie ineen voor My nie. Ek wat die sand gestel het as grens vir die see, as ‘n ewige perk waaroor hy nie mag gaan nie? Al slaan sy golwe donderend neer, hulle rig niks uit nie; al druis hulle, hulle sal nie oor die grens gaan nie.’”

‭‭Jeremia‬ ‭5‬:‭22‬ ‭AFR20‬‬

 

***“Soos ‘n put sy water vars hou, hou sy haar boosheid vars. ‘Geweld!’ en ‘Verdrukking!’ word in haar gehoor. Voor my oë is daar voortdurend lyding en verwonding.”

‭‭Jeremia‬ ‭6‬:‭7‬ ‭AFR20‬‬

 

*****“Dit is deur die troue liefde van die Here dat ons nie omgekom het nie, ja, sy ontferming ken geen einde nie. Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid. My erfdeel is die Here, sê ek; daarom hoop ek op Hom.”

‭‭Klaagliedere van Jeremia‬ ‭3‬:‭22‬-‭24‬ ‭AFR20‬‬

 

*****“U het self my lotgevalle opgeteken. Hou tog my trane in u leersak. Staan dit nie in u boekrol nie? Op God – ek loof sy woord – op die Here – ek loof sy woord –”

‭‭Psalms‬ ‭56‬:‭9‬, ‭11‬ ‭AFR20‬‬

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

4 Comments

  1. MJ Maartens

    Oor hierdie hoendervleis-misterieuse murasie waaroor Lilo en Wynand besin het… O, Lulu, wat jy GESKRYF het, is NOG beter as wat jy tydens ons gesprek BESKRYF het. Daar is teerheid en kommunikasie tussen twee mense wat saam peins, vertel en luister. Dit is so innig, se aangrypend. En dan… hoe mense diep binne-in geplunder en verwoes kan word, hoe groot die afsku aan die ”murasies” van die gemeenskap kan wees: die hoogmoed van die ”HAVE’s” wat die HAVE NOTs as murasies beleef. [En HAVE NOT is nie altyd materieel nie. Dit is ook respek, dit is ook menswaardigheid. Dit is ook ons kriteria vir ons blywende betrokkenheid.] Liewe aarde, Lulu, hierdie kortverhaal het my diep, diep geraak en diep laat nadink. En dit is wat ware letterkunde altyd doen. Baie, baie dankie hiervoor!

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Maretha!

      Reply
  2. Charles James

    Wow! So goed geskryf! Dankie Lulu!

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Charles!

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post