Die volledige prentjie van God Almagtig se volmaakte skepping het in stukkies gebreek toe die sondeval gebeur het. Nêrens in ons stukkende wêreld is daar vandag ‘n volledige prentjie of selfs ‘n enkelversameling van al die stukkies wat die volledige prentjie opmaak nie.
Indien ons ‘n legkaart-analogie hierop toepas, dan is God die MeesterKunstenaar van ‘n volmaakte, allesomvattende skeppingslegkaart. Ek en jy is gelyke-grootte legkaartstukkies wat elkeen ‘n unieke stukkie van Sy skepping weerkaats. Ons is geskep en ontwerp om in te pas en onvervangbaar te wees in Sy omvattende skeppingslegkaart, Hy het dit aan ons toegeken as implisiete deel van ons skeppingsaanstelling. Nou leef ons in ‘n stukkende wêreld en net God het die volledige prentjie van die skeppingslegkaart. Ongeag die stukkend rondom ons, is ons skeppingsaanstellings nooit herroep nie, maar ons implisiete sekerheid dat ons inpas en onvervangbaar is, is nou ook stukkend. Ons streef daarna om in te pas en ons twyfel in ons waarde.
Selfs in die kerk is ons beperk tot gedeeltes van die hele prentjie en legkaartstukkies wat iewers in die volledige prentjie hoort. Die meeste kerke bou aan legkaartgedeeltes wat getrou is aan die waardes van hulle bedienings en hoe meer gedeeltelike prentjies hulle aan bou, hoe meer plek maak hulle vir legkaartstukkies om in te pas en waardevol te voel. Dit is goed en prysenswaardig, maar onderskryf ‘n oortuiging dat menswaardigheid afhang van die geleentheid om te kan inpas en dit skiet vêr te kort.
Wat gebeur dan met die legkaartstukkies wat nie pas in die prentjies van die legkaartgedeeltes wat in hulle kerke gebou word nie? Ongelukkig word hulle grootliks uitgesluit, maar soms word hulle selfs deur middel van manipulasie misvorm om in te pas waar hulle nie hoort nie. Dis waarskynlik dat, sonder uitsondering, hierdie verstote randfigure waardeloos voel.
Ek is ‘n legkaartstukkie uit die fakkelgedeelte van die Statue of Liberty in New York. Maar ek woon reeds 25 jaar lank minstens 12,800km van New York af, in Bloemfontein. Hier, op plaaslike bodem, is geen standbeeld van enige VryheidsVrou met ‘n fakkel nie en die meeste van die legkaarte wat hier in kerke gebou word, maak nie plek daarvoor nie. Vir die eerste 21 jaar het ek gesoek vir ‘n kerk waar ek kon inpas, maar ek het misluk. Die uiteinde was dat ek ‘n misvormde legkaartstukkie geword het wat nêrens inpas nie.
Vier jaar gelede het ek aangesluit by my geliefde Pellissier Gemeente waar geeneen van die legkaartgedeeltes waaraan hulle gebou het, die VryheidsVrou en haar fakkel ingesluit het nie. Ek het onomwonde en onvervangbaar deel geword van hierdie geloofsfamilie al het ek steeds nie ingepas in enige van die geboude legkaartgedeeltes nie. Op hierdie geloofsreis is beide my menswaardigheid asook die vorm en fakkel-vuur-voorkoms van my legkaartstukkie in ere herstel. Hoe is dit dan moontlik dat my waarde en unieke voorkoms in ere herstel is sonder dat ek inpas? Ek glo die rede hiervoor is tweeledig. Eerstens, dat my geliefde leraarspan my menswaardigheid reconnect het met my oorspronklike skeppingswaarde. En tweedens, dat my geliefde leraarspan geduldig ‘n gesondwordpad saam met my gestap het sodat my ware vorm en voorkoms geopenbaar kon word en toe het hulle ‘n nuwe gedeeltelike prentjie bekom het wat die groter Manhattan-area insluit. Ons het nog nie amptelik begin bou aan daardie gedeelte nie, want ek is nog sover die enigste stukkie wat daar hoort. Dit maak nie nou meer saak WANNEER of selfs OF ons ooit daaraan gaan bou nie, want dit hang af van faktore buite ons beheer.
Ek/ons het iets veel kosbaarder ontdek as bloot die geleentheid om te kan inpas. Ek het BELONGING gevind in Pellissier Gemeente! In ‘n wêreld waar ons geen waarborge het dat ons ooit gaan inpas nie, is die kerk geroep om mense te reconnect met hulle skeppingswaarde en aan hulle die geleentheid te gee om BELONGING te vind in ‘n geloofsfamilie. BELONGING is ‘n hoopgewende herstelgeskenk om ons te herinner daaraan dat ons onvervangbaar inpas by God.






Dankie dat jy oor “belonging” geskryf het. Dankie dat jy die gemeenskap met medegelowiges in ‘n lewende gemeente as die groot deelgenootskap uitwys, selfs/juis vir dié wat soos beskadigde en misvormde legkaartstukkies begin voel het, omdat hulle nêrens inpas nie. Hoe min skryf lidmate oor ‘n persoonlike soektog na ‘n gemeente waar die Woord van God verkondig, gehoor en in blydskap en toewyding uitgeleef word, en aangaande die herkenning van die bestendige ontvouing van die Eureka!-gebeurtenis waartydens die soekende verwonderd en dankbaar dink: ”Ek het gevind! Hoe begeer ek dat ander ook ‘n gemeente sal vind wat die draer en beskermer van die waarheid is… ook die waarheid dat dit nie goed vir die mens is om alleen te wees nie.” Moenie ophou nie, Lulu. Jy skryf vreesloos, jubelend, passievol en meesleurend.
Dankie Maretha!