Ek is dankbaar vir my geloofsfamilie. Dit maak my tog so hartsvervullend opgewonde om versoen te wees met my gereformeerde wortels. Met verwonderende-nederigheid is ek trots daarop om myself ‘n lidmaat van die NGKerk te noem! Nee, dis geensins bedoel om een of ander verwronge kompetisie-gedrewe spoggery te wees nie. Dis eintlik net gewone, Teologies-ongeskoolde ek wat vir die wêreld wil vertel hoe bly my hart is. Is ons (NGKerk) perfek? Nie eers amper nie. Is ons die enigste rigtingwysers na die Enigste Saligheidsoplossing? Verseker nie. Het ons nou maar die geneigdheid om die aandag van oorywerige hoofstroommedia-joernaliste, met valk-oë, te trek? Nogals so effentjies…
Dekades gelede het ek taamlik gereeld die effe bedenklike gewoonte gehad om na die top bestuursstruktuur van noemenswaardige organisasies te verwys as die oudste, slimste omies met die dikste brille en witste jasse in die hoogste geboue wat linte knip, babas soen en vonkelwynbottels teen skepe stukkendslaan. Die rede hiervoor het minder te make met doelbewuste belediging en meer met my jeugdige waarneming van ‘n gevorderde generasie van manlike mense wat, hoewel hulle ongetwyfeld diep spore in hulle betrokke industrieë getrap het, tog uiteindelik ‘n bietjie agterbly in die verlede en dan voeling verloor met hoe “sake op die grond” verloop. Nie net leef ons darem nou in ‘n tyd waar daar darem ook tannies saam met die omies is nie, maar as ‘n ouma van vier kleinkinders en uitvoerende hoof van twee inligtingstegnologie-maatskappye myself, het een besondere gewaarwording my so tussen die oë getref. Volgens my eie definisie, is ek dan mos nou ook een van daardie tannies! Hoewel die brille en die babas-soen wel op my van toepassing is, is die lense darem nie te dik nie en die babas is my oulikste kleinkinders. Ek is egter deeglik bewus van die dreigende gevaar om voeling te verloor met die blitsvinnige vooruitgang van inligtingstegnologie.
Maar hoe op aarde spring ek van kerk na werk sonder enige waarneembare verbintenis? Ek het vergeet om ook te noem dat ek, met ernstige aandagafleibaarheid, ook ‘n passie het vir skryf. Skuus vir hierdie weglating, liewe leser, maar as jy lees tot aan die einde, sal selfs hierdie stukkie lukrake inligting mooi inpas in ‘n duidelike prentjie.
Vir langer as wat Madiba innie tronk was op Robbeneiland, het ek in die nie-gereformeerde kerksirkels rondgeswerf opsoek na ‘n geloofsfamilie waar ek waarlik deel van die Koninklike priesterdom kan wees. Gegewe, dat as ek nou terugkyk, was my geloofsoortuiging op daardie stadium ‘n bietjie gebaseer op iets wat soos vandag se verdagte diesel is. Goedkoop brandstof wat geredelik beskikbaar is, maar wat die brandstofspuitkoppe van jou kosbare duur Duitse motor sommer vinnig verniel. Maar daar was dan ook die plofbare onstuimighede in die NGKerk van die laat tagtigs en vroeë negentigs wat nie juis standvastigheid ingeboesem het nie. Aanvanklik, vir ‘n betreklik-kort tydjie, kon ek deel word van ‘n geloofsfamilie met ‘n taamlik-gesonde Teologie wat bevrydende veranderinge en geloofsgroei tot gevolg gehad het. Ek was soos ‘n Skittle in in Smartieboks, so amper ingepas (weens die helder kleur), maar het net gedeeltelik belong(weens beide se klassifikasie as lekkergoed). Daarna, vir meer as twee dekades lank, was ek die Skittle in die kekerertjies (chickpeas, ek moes dit gaan naslaan!) op die eensaamste, seerste geloofsreis van my lewe. Nie net was ek gemorskos-lekkergoed binne-in gesonde groente nie, maar met my helder kleur het ek soos ‘n seer vinger uitgestaan in die vaalheid van vreemde verloste vryheid. Vir een of ander onverklaarbare rede kon hierdie weerbarstige vrou net nooit leer om haar plek te ken nie al het “God se generale en paraat profete” hulle stemme gereeld bulderend dik gemaak.
Dit was nie totdat dood aan ons voordeur kom klop het en COVID ons na ‘n begrafnisdiens in ‘n NGKerk gelei het, dat die mooiste mooi binne-in die hartverskeurendste lyding begin gebeur het nie. Daar in daardie NGKerk, die laaste kerk op aarde waar ek ooit sou soek, het my hart verander en ek is op ‘n gesondwordpad geplaas waarvan ek nooit eers kon droom nie. Ek is nou ‘n Skittle in ‘n vrugteslaai-met-tamaties-noedels-en-ertjies, ek pas steeds nie in nie, maar ek belong soos nog nooit tevore nie! Nie ‘n enkele een van my geliefde dominees het my al ooit berispe omdat ek nie my plek ken nie. Inteendeel, hulle eerbiedig en onderskryf my roeping as uitvoerende werksplekleier en een van hulle is die rede waarom ek ander stukkende mense kan bedien deur my skrywe. Hulle het vir my ‘n plek gemaak! Ons harte is eensgesind, ons Jesus se begeerte is eintlik nie dat gelowiges sal inpas in geloofsfamilies nie, maar dat hulle belonging daar sal vind.
Ek huil gereeld onbeskaamd, daar reg voor in die spoegzone van my groot kerk, want die Afrikaanse lofliedere van destyds, die toewyding en omgeeliefde van my dominees en ons belydenisskrifte is dan so mooi en so suiwer! So amper asof ek dit vir die heel eerste keer kan waardeer. Ter illustrasie hiervan en ten slotte, verwys ek graag na die einde van die Disney-fliek Moana waar Moana die heart of Te Fiti op die bors van die Te Kā, die vuurspoegende swartmonster, plaas. Pikswart-doodsasem Te Kā word onmiddellik transform in beeldskoon-lewegewende Te Fiti in en kykers is verstom met die besef dat hierdie twee eintlik altyd een en dieselfde wese was. Ek was vir baie lank Te Kā gewees, toe herstel God deur kosbare NGKerk-mense my hart en nou is ek Te Fiti!
Ek is lief vir die NGKerk en ek is so onbeskryflik dankbaar vir my geloofsfamilie!






O, dierbare Lulu.. hierdie is so ‘n realistiese kyk na die NG Kerk, maar ook na die KERK van alle tye. Die KERK is nie perfek nie, nie eens naastenby nie. Maar wanneer die KERK die stem, hande, voete en teenwoordigheid van Jesus Christus dag ná dag reflekteer, wanneer die KERK ‘n spieël van sy genade word… dan weet elke stukkende, soekende mens: Jesus Christus is hier. HIER, by ons, tussen ons. Innig dankie vir hierdie wonderlike stuk.
Dankie Maretha!