OUPA ASSIE, DIE EERSTE

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

Henning van Aswegen (17 Oktober 1942 – 19 Julie 2007)

 

Ek wil graag vandag hierdie skrywe opdra aan my geliefde skoonpa as ‘n huldeblyk. Hy sou vandag sy 82ste verjaardag aan hierdie kant van die ewigheid gevier het, maar in die lig daarvan dat sy aardse tentwoning reeds 17 jaar gelede afgeslaan is en hy sedertdien vir ewig en tyd-onafhanklik aan die perfekte anderkant gevestig is, kan selfs die heel beste aardse verjaardagpartytjie nêrens naby kom aan die heerlikheid van hemelse vieringsvreugde nie.

 

Gisteroggend in my kombuis kyk ek deur die venster terwyl my geliefde Assie ons swembad dokter. Hy is nie eers bewus daarvan dat ek hom dophou nie en my verwonderende dankbaarheid ontwaak ook ‘n traanpik-mooi herinnering. Ek onthou hoe vinnig-warm my hart geklop het die afgelope Saterdag toe ek hom die eerste keer, uitgevat in sy elegant-stylvolle tuxedo as vader van die bruidegom (ons jongste seun Jack) gesien het en ek is innig dankbaar dat hy my anderhelfte is. Ek onthou ook sy pa, want hy lyk nou net soos ek sy pa onthou. Hy is net so bekwaam soos sy pa. Hy is net so getrou soos sy pa. Selfs op 184cm teenoor sy pa se 162cm lengte, loop hy nes sy pa en ek glimlag in trane. Sy gesigsuitdrukkings en maniere is net soos sy pa s’n. Hy is ongetwyfeld die seun van Henning van Aswegen, die kleinboet van Henning se oudste seun, Hannes, en ouboet vir sy jongste seun, Riaan, en sy enigste dogter, Sonja. Met sy silwergrys hare (waarin daar nog net hier en daar ‘n swart spikkeltjie is), lyk hy beduidend ouer as beide sy boeties en sluk Riaan se dogters steeds swaar daaraan dat hy nie die ouboet is nie. Vir my is hy steeds die tall, dark & handsome boetie, die een wat nou nog my voete onder my uitslaan al besit ek die maanhaarleeu-aandeel in sy haarkleurverandering van swart na grys na silwer.

 

Henning is die jongste kind van Ellis en Johannes (Jannie) van Aswegen, bekend aan hulle kleinkinders as Ouma Jannie en Oupa Jannie. Ek het nooit vir Oupa Jannie geken nie, maar Ouma Jannie het haar geliefde seun, Henning, oorleef en is enkele maande voor haar 100ste verjaardag oorlede en ek het die voorreg gehad om haar vir baie jare te ken. Op 13 Januarie 1967 trou Henning met Anna Sophia (Annetjie) Poley en hulle word ouers van drie seuns in 1968, 1970 en 1972 en uiteindelik ook ‘n dogter in 1973. Sy noem hom Asjas en hy noem haar Skroppie en in 1990, 1993, 1997 en 2000 kry hulle ook drie skoondogters en ‘n skoonseun by. Hulle kleinkinders (agt kleindogters en drie kleinseuns) word gebore in 1992, 1993, 1994, 1995, 1998, 1999, 2001, 2005, 2007 en ‘n tweeling in 2010, maar die laaste drie is na sy afsterwe gebore. Die groeiende vervolgverhaal van die geboortes van Asjas en Skroppie se agterkleinkinders is tans sterk aan die gang en nog onvoltooid. Sover is daar ses agterkleinkinders (drie agterkleindogters en drie agterkleinseuns) gebore in 2018, 2020, 2022, 2023 en twee in 2024 met die nuutste lewetjie toegevoeg net 6 dae gelede.

 

Ek en my geliefde Assie het die wonderlike voorreg om voort te bou op Henning se nalatenskap met ons eie AssieTribe. Vier uit sy elf kleinkinders is ons kinders en vier uit sy ses agterkleinkinders is ons kleinkinders. Met die geboorte van ons eersteling het Henning Oupa Assie geword en elf jaar na sy afsterwe, met die geboorte van ons eerste kleinseun, het my geliefde Assie, met die grootste eerbied en ontsag, die volgende Oupa Assie (in ons AssieTribe) geword. Henning was die eerste Oupa Assie en ek bring graag hulde aan hom met ‘n paar herinneringe.

 

Henning se glimlag op ons troufoto’s is heeltemal eg, maar dit vertel nie die verhaal daaragter nie. Ongenaakbare gordelroos het nie net elkeen van sy bewegings pynlik gemaak nie, maar sy hemp was soos ‘n yslike martelkleed met ingewerkte dolk-lemme aan die binnekant wat sy lyf gesteek het elke keer wat dit aan hom geraak het. Die baadjie van sy deftige pak klere het verder sekergemaak dat geen dolk-lem oorgesien word in die martelproses nie. Maar Henning het sy deftige klere met trots gedra en geglimlag op al die foto’s. By die onthaal het hy sonder sy baadjie saamgekuier en selfs gedans ook. Daar was die dans met sy nuwe skoondogter, maar dit was die vermaaklike uitvoering van die toekenningswaardige rock ‘n rollpassies saam met sy geliefde Annetjie, wat al die gaste in vervoering gehad het. Daar is footage daarvan op VHS iewers in ‘n boks in my huis en in die lig daarvan dat Henning se naamgenoot, ons jongste seun Jack (Henning Jacobus van Aswegen) die afgelope naweek getrou het, is dit dalk hoogtyd dat ons daardie kosbare videomateriaal opspoor en in digitale formaat verewig. Watch this space, but please don’t hold your breath.

 

Met my eerste swangerskap word ek sommer vroeg-vroeg onwillekeurig voorgestel aan die wrede, weggesteekte werklikheid van weerbarstig-volhoudende naarheid en braking en my verteringsstelsel verander in ‘n soort hiperaktiewe voedselvulkaan wat verskeie kere per dag uitbars en die inhoud van my maag soos lawaprojektiele uitwerp. Henning begaan die klein foutjie om my te herinner dat swangerskap (net vir duidelikheid…die toestand wat my verteringsstelsel in ‘n vulkaan verander het) nie ‘n siekte is nie. Ek hoef gelukkig nie lank te wag vir die geleentheid om my geliefde skoonpa tot die werklike insigte te bring nie. Een Sondagoggend bespeur ek hom by die kombuistafel sit, koponderstebo, met ‘n roosterbroodjie op ‘n bord voor hom. Daar is fyngedrukte sardientjies en baie Worcestershire-sous op die roosterbrood. Dis die vertroostende teengif vir alkoholvergiftiging, die gevolg van ‘n uitgebreide kuiertjie op die 19e putjie van die gholfbaan. Ek gaan sit langs hom en vra wat makeer. Hy vertel my dat hy binnegoed ‘n ander ou s’n is, dat hy so naar soos die dood is en dat hy reeds sy longe opgegooi het. Ek sit my arms rondom sy skouers en met begrypende meegevoel, deel ek die volgende woorde aan hom mee. DIS ONUITSPREEKLIK AAKLIG! EK WEET, WANT EK VOEL AL VIR MAANDE LANK ELKE DAG SO EN GAAN DIT WAARSKYNLIK AANHOU VOEL TOTDAT DIE NEGE MAANDE UITGEDIEN IS. MOET ASSEBLIEF NOOIT WEER SÊ DAT SWANGERSKAP NIE ‘N SIEKTE IS NIE. Henning het dit nooit weer gesê nie. Inteendeel, hy was die toonbeeld van meegevoel, selfs toe ek vrywillig kies om dieselfde oefening nog drie keer daarna te herhaal. Hy het selfs vir my afgewaterde steenkool-shandies* gemaak toe ek bier-cravings gehad het tydens my swangerskap met sy naamgenoot.

 

Daar was niks wat Henning nie self beter kon vervaardig as die bestes in die bedryf nie. Bou, herstel, installeer, verbeter, ontwerp en onderhou. Eers was daar die GT-40 wat hy met sy eie hande gebou het en, weens verpligte vroeë aftrede, nooit heeltemal kon klaarmaak nie. Gelukkig was dit goed genoeg voltooi met ‘n brullende enjin en plastieksitplekke dat ek ‘n paar keer, met gillende lekkerkry op die passasiersitplek, die wind in my hare kon voel wanneer ons op ‘n stil Sondagmiddag deur die strate van Doornfontein gejaag het. Daar was die oulike babawiegie wat hande gewissel het tussen al sy kinders en ‘n veilige knus slaapplekkie (langs hulle ouers se bed) gebied het vir sy kleinkinders vir die eerste 3 maande van hulle pasgebore lewetjies. Vir ons kinders het hy ‘n volledige compactum gemaak wat nie eers in vandag se winkels beskikbaar is nie. Hy het die weg gebaan vir my Assie om ‘n room-in-a-box vir elkeen van ons kleinkinders te bou.

 

Daar was tydens Jack se troue ‘n herinneringshoekie met foto’s van geliefde familielede wat reeds gesterf het. Een van die foto’s was van ‘n reeds-brose Henning van Aswegen (Oupa Assie I), geneem gedurende die laaste deel van sy lewe. Ek gebruik daardie foto ook vir hierdie skrywe, want ek onthou baie goed hoe hy in sy laaste weke glad nie skaam of skuldig was oor sy eie kwesbare broosheid nie. Dit sou my egter jare neem om die volle omvang van daardie dapperheid uiteindelik te kon begryp. My skoonpa, Henning van Aswegen, was ‘n kort, klein-geboude man met ‘n hart van goud en ‘n voetspoor van ‘n tienvoetreus. Die sêding oor die sterkste dinamiet in die kleinste pakkies het by hom begin en hy het altyd gesê dat ‘n mens met jou lewe net een van twee dinge agterlaat. Jy is óf ‘n navolgenswaardige voorbeeld óf ‘n gruwelike waarskuwing. Dit breek my hart dat ek weet dat hy diep binne-in homself gereeld geworstel het daarmee dat hy meer gereeld die waarskuwing en nie die voorbeeld was nie. Daarom wil ek graag afsluit met die volgende opsommende eenvoud (vanuit my persoonlike perspektief):

 

Henning van Aswegen WAS ‘n navolgenswaardige voorbeeld! Hy het sy geliefde Annetjie innig lief gehad en sou sy lewe vir haar aflê. My geliefde Assie volg sy pa se getroue voorbeeld, want hy is innig lief vir my. Daniel en Jack volg Assie se voorbeeld en Micah gaan eendag Daniel se voorbeeld volg. Dis reeds ‘n direkte vierde generasie legendariese nalatenskap. SO BAIE DANKIE, HENNING VAN ASWEGEN!

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    Liefste Lulu…jy is julle AssieTribe se geskiedskrywer, en later, wanneer jy hierdie wonderlike taak afgehandel het, so noukeurig waargeneem, so merkwaardig verwoord, sal talle en talle familielede jou dankbaar wees. Hoe diep het die eerste oupa Assie se woorde my geraak: “Jy is óf ‘n navolgenswaardige voorbeeld óf ‘n gruwelike waarskuwing.” Die absolute waarheid. DANKIE vir wat jy skryf en doen!

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie liewe Maretha.

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post