BITTERSOET VERJAARDAG

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

My liefste kleinsus, vandag is jou heel laaste verjaardag in die veertigs en dis ook jou eerste verjaardag in amper 30 jaar wat jy nie jou Parra aan jou sy het nie. Eergister was sy eerste verjaardag aan die anderkant van die ewigheid en ek het geen twyfel dat hierdie dubbeldoor-eina vir jou onbeskryflik seer is nie. Vir die tweede keer in net drie en ‘n half maande sedert Piet se heengaan, het jy so dapper die langpad aangedurf (die keer met jou splinternuwe bloedrooi kar) om by die AssieTribe te wees en ons gaan almal vanmiddag jou verjaardag vier by ons usual verjaardag-uithangplek. Ek is so ongelooflik trots op jou, jy is ‘n yster!

 

Ek onthou daardie eenkeer wat ons almal check your mate gespeel het. Jy en Piet het gemaklik voorgeloop as couple wat die meeste ooreenstemmende antwoorde gegee het totdat daardie gunsteling-roomys-vragie opgeduik het en die rigting van die hele aand van koers af gestuur het tot groot vermaak van die res van ons. Piet se antwoord op jou gunstelinggeur roomys, was rum and raisin en hy het dit met die grootste selfversekering gesê. Hy het dit selfs ‘n tweede keer gesê toe jy met ontploffende verontwaardiging net wou sekermaak dat jy reg gehoor het. Wat hierna gebeur het, het my laat dink aan daardie toneel uit die Disney-fliek The Lion King waar die volwasse weergawes van Nala en Simba met mekaar baklei het terwyl Pumbaa en Timon toekyk. Maar Piet was nie groot Simba nie en jy was nie Nala nie. Jy was meer soos die vuurvretende Te Ka in die Disney-fliek Moana en Piet soos klein Simba met cute puppy eyes. Jy het daardie dag die begaafdheidsvlak van bedonnerd-opgeklits bereik, amper nes jou ousus op haar beste en niemand het ooit weer vergeet dat English toffee jou gunsteling is nie! Ek kan nie sy presiese woorde onthou nie, maar dit was met ‘n sagte stem iets soos AG MY HARTJIE, MOENIE SO WEES NIE, MAN.

 

Ons gaan nie vandag die hartseer ontken nie, want dis die bitter wat met die soet van verjaardagviering vermeng is aan hierdie kant van die ewigheid. En wanneer dit dalk net te veel raak vir jou, hoop ek dat jy jou Parra se woorde AG MY HARTJIE, MOENIE SO WEES NIE, MAN sal hoor en dit ‘n glimlag saam met die trane sal bring!

 

Baie geluk met jou verjaardag liefste Let en cheers op hierdie laaste jaar van die veertigs wat voorlê!

 

PS: Frozen yogurt kom gelukkig nie in rum and raisin geur nie, maar ek is seker dat daar wel ‘n paar bakkies English toffee frozen yogurt in my vrieskas is en hulle het almal jou naam op!

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    Onverkrygbaar in enige winkel of by enige handelaar. ‘n Baie duur verjaardaggeskenk van een suster aan ‘n ander. Priceless.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie liewe Maretha.

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post