VAN VERWERP NA VERWELKOM : WANNEER DIE HONDSTATUS VAN WEERLOSE MENSE OPGEHEF WORD

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

Skets deur Jordan Bodenhamer

 

 

Hierdie storie is fiksie, ‘n moderne verhaal gebaseer op die vertelling van die Kanaänitiese vrou in Matteüs 15:21-28.

 

Trudie kyk vir oulaas na haarself in die spieël. Sy kan glad nie die yslike bloukol bokant haar regteroog heeltemal verbloem met grimering nie. Sy kon ook nie gister daarin slaag om die swelling heeltemal weg te smelt met die groot sak ys wat sy vir ‘n lang ruk daarop gehou het nie. Lena se woede-uitbarsting gistermiddag was die ergste ooit en, sy wat Trudie is, gaan vandag nog by daardie man moet uitkom voordat dit te laat is. Lena se twee ystervuishoue het haar sekuur op haar regterwangbeen/oogbank getref. As dit teen haar slaap was, was sy dalk reeds bokveld toe, so sy is op geleende tyd soos sake tans daaruit sien. Al die vorige kere kon sy daarin slaag om vinnig genoeg weg te kom van Lena af en dan ‘n veilige afstand tussen hulle te behou totdat Lena bedaar het. Toe Lena kleiner en minder wild was, kon sy haar styfvashou totdat sy bedaar het, maar dis glad nie meer moontlik nie. Trudie het alreeds aan die deure van minstens 15 dokters geklop vir hulp, maar nie ‘n enkele een van hulle kon haar help anders as om Lena, onder sterk medikasie, in ‘n langdurige zombie-toestand vas te vang nie. Lena is ‘n kleingeboude mensie met ‘n fyn beenstruktuur, maar wanneer haar koppie so uithaak, is sy onverklaarbaar sterk en elke nuwe verwoestingspad deur die huis, word telkens erger as die vorige een. Weinig min van Trudie se huisinhoud kon al Lena geweld ontduik en hoewel Trudie ‘n uitstekende salaris verdien, skiet dit vêr tekort om te vervang wat Lena vernietig. Die puin is oral sigbaar in duike, krake, krappe, gate en stukkende meubelstukke. Daar is wel een baie kosbare item wat veilig weggebêre is agter slot en grendel, die onvoltooide skildery van ‘n uiters begaafde kunstenaar wie wreed weggehou word daarvan om die afronding te doen. Gister, terwyl sy nog spreekwoordelike sterretjies gesien het van die vuishoue, het ‘n geskokte Trudie gebreek en vir Lena aan die nek gegryp net voordat sy die groot, skerp vleismes van die toonbank af wou gryp. Voor sy haarself kon kry, het sy vir Lena gewurg totdat sy geen weerstand meer gebied het nie en toe sy gelukkig later weer haar bewussyn herwin, het Trudie vir haar ‘n kelkie medisyne laat drink en dit elke ses ure herhaal. Sy voel vanoggend slegter as ‘n hond oor haar gedrag. Eers het sy haar geliefde dogter wreed aangerand op ‘n bizarre wyse en daarna het sy haar gedrug om haar in ‘n voortdurende zombie-toestand te laat verkeer, die einste ding waaroor sy die dokters so verafsku het. Voordat Trudie by die voordeur uithardloop, loer sy in by Lena se kamer om seker te maak dat sy gemaklik rus en genoeg water het om te drink. Dit breek haar hart om te sien hoe Lena met lewelose oë na die dak staar, blou-swart kneusplekke oraloor haar nek. Haar eens blink donker hare is vaal en gekoek, haar blou oë lyk soos dowwe albasters wat in groot grys gate ingedruk is en omring is deur ‘n weerbarstige gelaat besmet met vlekke en sere. Sy gee duidelike versorgingsinstruksies vir die huishoudster voordat sy die voordeur agter haar toetrek. In haar kar maak sy die location pin in Maria se teksboodskap oop in Google Maps en dan vertrek sy teen ‘n stink spoed. ‘n Skynheilige hond oppad na daardie (heilige) man toe.

 

Net ‘n paar weke tevore het Trudie vir Maria ontmoet. Dit was een van daardie mal-deurmekaardae wat tog so gereeld voorkom in Trudie se lewe. Sy het net betyds by die Spar ingeglip voor toemaaktyd om brood en melk te koop, maar soos gewoonlik, was daar vele meer nodige kruideniersitems wat sy in die verbyhardloop versamel het. Dit was nie die eerste keer dat sy uiteindelik alles in haar arms probeer dra het nie, want wie vat dan nou ‘n mandjie by die deur as jy net brood en melk gaan koop nie?! By die betaalpunt word sy bewus daarvan dat sy besig is om haar houvas op die bottel melk te verloor soos dit stadig uit haar vingers uitgly terwyl sy die karton eiers met haar ken probeer balanseer bo-op die ontbytgraanboks wat bo-op die sak aartappels rus. Sy kan voel hoe die integriteit van die opgestapelde toring in haar arms verkrummel, maar net voordat die tuimelproses begin, voel Trudie hoe iemand die kritiek-onstabiele items uit haar arms uit red en in ‘n mandjie pak. Uiteindelik het sy net die sak aartappels in haar arms oor wanneer sy opkyk in die oë van haar kruideniers-reddingswerker in. Dis ‘n besonder-mooi vrou met sagte donker oë en reguit donker hare. In haar regterhand hou sy die handvatsel van ‘n mandjie met al die items wat sy gered het. Trudie was dankbaar dat Maria nie net haar kruideniersware gered het nie, maar dat sy haar ook van groot verleentheid gespaar het. Dit was die begin van ‘n mooi vriendskap tussen twee vroue wat aan die spreekwoordelik-teenoorgestelde kante van die treinspoor gewoon het. Twee vroue uit twee vêr-verwyderde mensegroepe verenig in die onbegrensdheid van onvoorwaardelike vriendskapsliefde wat uiteindelik presies word soos die skrywer van Spreuke beskryf, hegter as sibbe-liefde.

 

Dit het glad nie lank geneem vir die twee vroue om mekaar te vertrou met sake van die hart en die lewe nie. Maria weet dat Trudie ‘n soort DrJeckyll-MrHyde-bestaan maak. Op die voorgrond is sy ‘n suksesvolle, hoogs gekwalifiseerde beroepsvrou (DrJeckyll-deel) met onvervangbare waarde vir die maatskappy waarvoor sy werk. Op die agtergrond (wat sy met alle mag probeer wegsteek) is sy die enkelouer van ‘n 11-jarige dogter wie se gereelde woede-uitbarstings (MrHyde-deel) reeds ‘n geruime tyd al heeltemal handuit begin ruk het. Maria weet dat hulle kritieke omdraaipunt reeds lankal verbygesteek is en dat beide ma en dogter se lewens in gevaar verkeer. Ook dat Trudie nie meer vir veel langer haar tweestryd sal kan wegsteek nie. Trudie weet dat Maria deel is van ‘n soort familie-onderneming wat daarop ingestel is om mense op te hef en vry te maak. Sy weet dat dit begin het toe ‘n onherstelbaar-stukkende Maria op die randjie van die dood af teruggegryp is deur ‘n man wat haar onmiddellik gesondgemaak het met sy oorweldigende teenwoordigheid en met sy sagte stem, wat sy kon VOEL, haar hele wese met liefde gevul het. Maria se opvallende andersheid getuig van ‘n vrygemaakte gesondheid wat nêrens op aarde gevind kan word nie. Van meet af, het Trudie aan Maria se lippe gehang wanneer sy oor haar nuwe lewe gepraat het. Trudie smag met alles binne-in haar na dieselfde vrygemaakte gesondheid vir haar en vir Lena.

 

Trudie verontagsaam elke snelheidsgrens oppad na haar bestemming toe en toe sy eindelik in die parkeerarea stop, kners sy so hard op haar tande dat dit voel asof haar kakebeengewrig in ‘n spasma getrek is. Sy sien dadelik die groep mense ‘n entjie weg in die veld voor haar en sy hou hulle ‘n rukkie lank dop net om seker te maak dat dit wel die regte plek is. Dan sien sy hom nog voordat sy vir Maria langs hom sien. Die tyd is NOU! Trudie maak die kardeur oop, klim uit, druk die alarmknoppie en begin hardloop. Sy kyk nie terug om te sien of die kar gesluit is nie. Sy begin net hardloop, al hoe vinniger en vinniger. In die hardloop smeek-skreeu sy so hard as wat sy kan. MENEER, MENEER, HELP MY ASSEBLIEF? MY DOGTER, LENA, IS KRANKSINNIG-MAL EN SY VERWOES ALLES EN ALMAL OM HAAR! GEEN MENS KAN HAAR HELP NIE! Daar is geen keer aan Trudie nie, sy skreeu al haar kommer uit vir almal om te hoor, maar eintlik hoop sy dat net een man sal luister. Toe sy tot stilstand kom, voel sy dadelik ‘n onbeskryflike connection met hom nog lank voordat hy omdraai na haar toe. Die mense rondom hom is uit dieselfde mensegroep as Maria. Hulle maak geen geheim daarvan dat hulle haar verag nie en hulle dring aan daarop dat die man haar wegjaag van hulle af. Hy doen dit nie. Sy weet dadelik dat hy haar beslis nie wil of gaan wegjaag nie. Dan praat hy sonder om om te kyk en sy stem oorweldig haar met soveel liefdevolle omgee dat sy dit tot in die diepste plek van hart kan voel. Hy draai nie om na haar toe terwyl hy praat nie, maar dit voel vir haar asof hy haar met onsigbare arms nadertrek en haar vashou in ‘n teer omhelsing. Trudie weet dat sy die enigste een is met wie hy werklik engage, maar dit lyk asof hy met die mense (sy mense) rondom hom praat en vir hulle sê wat hulle wil hoor. EK HET GEKOM OM MY MENSE SE STUKKEND GESOND TE MAAK. DIS VERKEERD OM DIE KINDERS SE KOS VIR DIE HONDE TE GOOI. Trudie kon sien hoe die mense se verontwaardigingsfronse verander in lekkerkry-glimlagte terwyl sy steeds beskermend toegewikkel was in ‘n onsigbare omhelsing van liefdevolle omgee. Hoe het hy geweet dat sy, inderdaad, soos ‘n sleg hond voel. Sy kon glad nie dit wat sy gesien en gehoor het versoen met wat sy gevoel het nie en toe sy die volgende amper-onwillekeurige woorde uit haar eie mond uit hoor, was sy skielik oortuig daarvan dat hierdie man beslis geen gewone mens is nie. MAAR SELFS HONDE EET DIE KRUMMELS WAT VAN HULLE MENSE SE TAFELS AFVAL. Die man draai om en sy oë is gevul met deernistrane. Hy loop direk na Trudie toe en, met liefdevolle omgee, neem hy haar in ‘n teer omhelsing vas. Almal kan dit sien. Dis nie onsigbaar nie. TRUDIE, JOU GELOOF IS SO AANGRYPEND MERKWAARDIG, EK HELP JOU BAIE GRAAG! JOU LENA IS VAN HIERDIE OOMBLIK AF GESOND!

 

Trudie het geen idee hoe lank sy in die omhelsing bly staan het nie. Dit het vir haar gevoel asof sy, gedurende daardie tyd, twee flieks gelyktydig sien afspeel het. Met haar oë het sy die gebeure rondom haar waargeneem en in haar binnewêreld het ander gebeure plaasgevind. Die manne wat net ‘n rukkie tevore lekkergekry het toe die heilige man, na hulle mening, na haar verwys het as ‘n hond, het eers oopmond-verstom gestaar en daarna het dit vir haar gelyk asof hulle met beide berou en verwondering vervul is. Die afsku in hulle oë was weg, want hulle het nie net JAMMER gesê vir hierdie man, hulle leier, nie hulle het dit ook vir haar gesê. In haar binnewêreld het die storie van haar eie lewe afgespeel. Al die seer en stukkend van verwerping, mishandeling en misbruik. Die onreg van geslagsongelykheid wat gemaak het dat sy beduidend harder moes werk met beduidend minder geleenthede as haar manlike eweknieë. Die klein dogtertjie wat sy van ‘n gewisse dood gered en soos haar eie grootgemaak het ondanks die bose kloue wat die verlede in haar vormende menswees ingeslaan het. Sy was bewus daarvan dat hierdie man ook die fliek in haar binnewêreld sien afspeel het en dat dit hom ook aangegryp het. Trudie kon die sagtheid en deernis waarmee hy daarna met haar gepraat het, VOEL en dit het eensklaps al haar seer en stukkend gesondgemaak. Maria nooi haar om saam met hulle te eet terwyl die heilige man hulle almal onderrig. Hy vertel verskeie hartroerende verhale van opheffing met die diepste meegevoel. Hierdie man is soos die sterkste mensmagneet wat die afstootlikstes (hond-status-mense) in die samelewing (van alle mensegroepe) NA hom toe aantrek. Langs Trudie sit Wilna, ‘n hoofkarakter in een van die stories. Hoewel Wilna tot dieselfde mensegroep as Maria en die kwaai manne van vroeër behoort het, het ‘n chroniese siekte veroorsaak dat haar eie mense haar soos ‘n hond weggejaag het. Die man met die aanVOELbare sagte stem het haar siekte gesond gemaak en haar waardigheid herstel en sy is nou ‘n uiters bekwame skakelbeampte vir sy opheffingsonderneming. Ook Trudie se hond-status is opgehef en vervang met ‘n oorweldigende gevoel dat sy saam met hierdie man en sy mense behoort. Sy ry terug huistoe met ‘n opgewonde vreugde in haar hart wat sy nie eers kan beskryf of verwoord nie.

 

Die opvallend-lewenslustige meisie hardloop uit die huis uit na die kar toe wat in die garage-oprit stilgehou het. Sy is beeldskoon-mooi met ‘n vlekkelose gelaat, sprankelende blou oë, aansteeklike glimlag en perfekte lang, donker krulhare wat grasieus wip terwyl sy hardloop. Trudie kan haar oë nie glo nie en sy kan haar trane nie keer nie. “Mamma! Ek het die skildery klaargemaak, kom kyk!”

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post