Op Vrydag 27 Oktober 2023 dui die lesing op my kar se termometer aan dat dit ‘n snikhete 37C buite is. Dis taamlik warm vir ‘n Lentedag, maar ek verwelkom dit graag aangesien dit ‘n belowende voorloper van die Somer is. Bring on Summer! Op Maandag 30 Oktober 2023 dui die lesing op my kar se termometer aan dat dit, op presies dieselfde tyd van die dag, ‘n ysige 7C buite is. Dis ‘n grys, reënerige miserable dag, heeltemal onvanpas vir die Lente. My vingers is spierwit gevoelloos-gevries en my gemoed voel net so grys soos die gryshemel. Op goeie dae verdra ek bloot die winter (die een seisoen wat NIE verdien om met ‘n hoofletter gespel te word nie), maar op slegte dae verafsku ek daardie kleinlettertjie-seisoen. Net soos donker bloot die afwesigheid van lig is, is koue bloot die afwesigheid van hitte. My eensydige, subjektiewe filosofie vertel my dat donker en koue mos nie erkende entiteite is nie en dis daarom dat winter nie regtig eers bestaansreg het nie. Ek trek my ou JannieJammergatJassie aan en dit neem glad nie lank om my vas te gryp, soos ‘n pitbull ‘n Woolies hoender sal gryp nie. Dis soos die wegholkoekepan op die stukkende spoor by SunCity se ShowScan in die vroeë 1990’s. Ek raak so bent out of shape opgeklits oor die ongemak wat die skielik-plettervallende temperatuur meebring dat ek net sowel ‘n reuse bord om my nek kan hang wat lees GEEN TOEGANG, BLY WEG, OORTREDERS SAL ERNSTIG GEWOND WORD!
In Desember 2022, bied ek aan om ‘n sterwende pasiënt in die hospitaal te gaan besoek. Dis dieselfde hospitaal waar my dogter, op daardie stadium, al vir ‘n tweede swangerskap behandeling ontvang vir onbeheerbare naarheid en braking, blykbaar ‘n sterk geen op die XX-chromosome in ons familie se DNS. Dis dieselfde hospitaal waar my skoondogter, twee jaar tevore, gediagnoseer is met noodlottige breinkanker en verskeie kere daarna, in die chemokamer, behandel is ook vir onbeheerbare naarheid en braking. Dis ook dieselfde hospitaal waar, maande tevore, my ander dogter se galblaas onnodig verwyder is toe sy, ook, met onbeheerbare naarheid en braking opgeneem is. So, om te sê dat ek ‘n beduidend-nare love-hateverhouding met die betrokke hospitaal het, sal taamlik afgewater klink. My geliefde skoondogter se wrede lyding en afsterwe in Januarie 2022 lê nog pynlik vlak, maar ek kies om dit, vir ‘n klein rukkie, veilig toe te sluit. Ek herinner myself daaraan dat, hoewel ek magteloos moet toekyk hoe my arme dogter net kort van die ou kleine babatjie uitkots, daar ‘n mooi einde gaan wees, nie soos die nimmereindigende, verterende siek van haar skoonsussie wat sekerlik graag die breingewas sou wou uitkots nie. Ook hierdie stukkie van my lewe, skuif ek net so effe agtertoe vir ‘n oomblik. Ek het mos reeds oor ‘n lywige porsie werklikheid van ‘n snotklaplewe beskik en indien ek nie aangebied het om die besoek te doen nie, sou niemand my veroordeel het of my wegwysredes in twyfel trek nie. Hierdie keuse van my maak dat ek die geleentheid kry om ‘n wonderlike ystervrou en haar twee getroue dogters te ontmoet. Haar kalm vrede, te midde van haar pynlike lewensstryd, voed my siel op ‘n onbeskryflike wyse. Sy is in my ouers se generasie en daarom check ek eers hoe sy verkies om aangespreek te word. Die Engelse kant van my hart is verheug toe sy verklaar dat ek haar op haar voornaam (sonder TANNIE) moet aanspreek, want uit ondervinding, kan dit soms onnodige beperkings plaas op connection. Al wat ek kan doen, is om te gaan kuier, by hulle te sit, te luister, vir hulle te bid en my beste pogings aan te wend om hulle te bemoedig. Sy sterf kort voor Kersfees en ek kan nie eers onthou of ek ooit blomme of chocolates geneem het nie. Dis al bykans ‘n jaar gelede en ek word steeds oorweldig deur elke warm waardering deur twee kosbare vroue wat hulle ma steeds ongelooflik baie mis. Ek het regtig net opgedaag en ‘n onverklaarbare connection is gemaak.
Voorverlede week was my vrugtebak vol ryp piesangs en ek besef opnuut net hoe kort die rakleeftyd van ‘n piesang is. Toe my kinders klein was, het piesangs in ons huis nooit geleentheid gekry om eers ryp genoeg te word na my smaak nie en beslis nêrens naby aan piesangbroodryp nie. Nadat amper al my kinders die huis verlaat het en voor my wonderlike huishulp hier begin werk en haar bakvernuf bewys het, moes ons selfs soms vrot piesangs weggooi. ‘n Piesang is slegs vir ‘n kort rukkie bruikbaar – iewers tussen groen en vrot. Vanoggend toe ek koffie maak, val my oog op die duur bottel wyn langs die vrugtebak wat voorheen die ryp piesangs in gehad het. Die wyn was ‘n verjaardaggeskenk van die eienaar van my gunsteling-restaurant. Wyn lê aan die teenoorgestelde kant van piesangs op die rakleeftydskaal, want onder die regte omstandighede, kan dit ‘n bykans onbeperkte rakleeftyd hê.
Eers het ek gedink dat ek darem glad nie wil verouder soos ‘n piesang nie, maar eerder soos goeie wyn. Maar toe besef ek ook dat in die proses van geestelike volwassewording, die analogie van wyn en piesang ook beskrywend-mooi werk. Op Maandag 30 Oktober 2023 was ek soos ‘n piesang (wat ironies genoeg innie onsigbare son gelê het, ondanks die koue), net bruikbaar vir ‘n kort rukkie. Inteendeel, toe ek die JannieJammerJassie aangetrek het, was ek klaar vrot en teen die stadium dat ek die wegholkoekepan-stadium bereik het, het dit sekerlik erger gestink as ‘n vrot aartappel. In teenstelling daarmee, het ek in Desember 2022 gekies om soos nie-bederfbare wyn, die Heer se goedheid deur my te laat vloei na ander mense toe. Ek begeer om ‘n beter poging aan te wend om myself gedurig met die Heer te align in my omgewing met Sy perfek-gunstige toestand sodat ek Sy goedheid en genade deur my kan laat vloei, selfs op koue wintersdae. Ek wil regtig nie meer soos ‘n piesang wees nie!






Lulu, hoe het ek hierdie geniet! [En terwyl jy nou aan die skryf is… wat ‘n verset voel ek in my oor die dubbele ontkenningsvorm: “Hoe het ek hierdie NIE geniet NIE!” Wil dit nie meer gebruik nie.] Alles wat my gees aangryp, is hierin. Egtheid, ‘n wonderlike analogie en presies wat ek van piesangs dink. Baie dankie vir hierdie lieflike stuk. Skryf asseblief verder.
Dankie Maretha.