LEGOBLOKKIEHUISIE

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

Alanah gebruik ‘n wet wipe om Riley se gesiggie skoon te maak nadat ousus Amelia haar draairoomys met haar babasussie gedeel het. Nadat Amelia die laaste happie roomys ingesluk het, help sy ook aanvanklik met die skoonmaak, maar sy raak gou verveeld en vind haar weg terug na die Legoblokkies op die mat. Alanah staar met liefdevolle trots na haar en Matt se twee geliefde dogtertjies, die vierjarige Amelia en die eenjarige Riley. Sy onthou maar al te goed net hoe weerstandig sy eens op ‘n tyd was daarteen om ‘n dogtertjiema te wees. Sy wou NET twee seuntjies hê, toe gee die Heer vir haar twee dogtertjies en sy word die gelukkigste dogtertjiemamma. Sy merk hoe vaardig Amelia die Legoblokkies aanmekaarsit en dit neem haar gedagtes terug na baie jare tevore.

 

“Waar is die Legoboks, hoekom is dit nie op die speelgoedrak nie?” Alanah se gesiggie is sommer rooi van woedende frustrasie. Sy kan onthou dat haar ouboet, Duane, veronderstel was om dit te bêre na kerk verlede week en nou kan sy dit nie kry nie. Duane was nêrens te vinde nie en haar tweeling-kleinboeties, Henry & Josh, jaag mekaar in die eetkamer rond. Niemand slaan ag op Alanah se skreeuvraag nie. Alanah weet dat sy vinnig daai boks moet opspoor voordat Mamma haar babasussie, Jenny, klaar aangetrek het, want Mamma raak baie kwaad en tannie Winnie by die kerk dink al klaar dat Mamma ‘n slegte mamma is. Alanah verlang na al haar maatjies in die kinderkerk by die see. Die stad het nie ‘n see nie en die nuwe kerk het nie kinderkerk nie. Die grootmense in die nuwe kerk hou niks van kinders nie, hulle hou net van die groot kinders wat al universiteit toe gaan. Duane, Alanah, Henry, Josh en Jenny moet elke Sondag tydens die erediens stil op die kombers sit en Lego speel, want kinderkerk is nie Bybels nie. Hulle kan ook nie toilet toe gaan nie, want dan raas tannie Winnie en tannie Bonny met Mamma soos die dag toe Duane 11 teelepels suiker in sy tee gegooi het. Alanah wil nie regtig kerk toe gaan nie, maar sy hoop elke Sondag dat Jesus na haar kerk toe sal kom. Mamma en Pappa sê dat Hy lief is vir kindertjies en Alanah dink dat Hy die kwaai tannies moet kom leer van Sy liefde. By die see het hulle Engels geword, want die Engelse mense was gaaf en het vir hulle ‘n plekkie gemaak. Die Engelse mense in die Afrikaanse stad hou niks van hulle nie.

 

Wynand en Lilo het die kuns van ‘n gladde oggendroetine met hulle 5-kind-kroos al taamlik goed verfyn, maar hulle is tog so deeglik bewus daarvan dat dit eintlik soos ‘n ingewikkelde wiskundesom is. Op makliker dae, ken hulle die waardes van die meeste van die veranderlikes, maar vandag is een van daardie dae waar hulle nie die waardes van enige van die veranderlikes ken nie. Jenny is knieserig en Alanah se skril stemmetjie sny deur murg en been. Duane, nog in sy pajamas, is gewikkel in ‘n verbeeldingsoorlog met sambreel-lightsabres en die groot helder kolle op Alanah se slaapkamermat bied genoegsame bewyse dat die verfpotjies op die lessenaar, nie Duane se Jedi-geweld ontsien het nie. Die eetkamertafeldoek het vasgehaak aan Josh se hemp toe hy verbygehardloop het en nou is die vloer versier met plasse sap, melk, Coco Pops en stukkies gebreekte porselein van wat net minute tevore papbakkies op die tafel was. Henry het ‘n gapende sny aan die binnekant van sy linkerarm, want die vasgehaakte tafeldoek het hom gepootjie en hy het, al verdedigend met sy linkerarm, op die stukkende porselein geval. Minder as 20 minute later, vertrek die Venters in hulle bussie oppad kerk toe. Die Legoboks is ingelaai, Pappa het dit onder Duane se bed gekry en Alanah was tevrede terwyl oom Louis Brittz en die Radikids op die radio sing. Duane was aangetrek en Alanah het, soos altyd, sy tekkieveters vasgemaak. Danksy Mamma, was Josh bevry van die tafeldoek en Henry se wond geSuperglue & geSteriStrip en het Stopayne weer ‘n glimlaggie op Jenny se gesiggie gesit. Die gesneuwelde papbakkiegemors en verfkolle op die mat moet maar wag tot na kerk. Twee minute voor die aanvang van die erediens loop die Venters die saal binne en bykans alle oë is op hulle gerig. Wynand en Lilo, hand-aan-hand, loop voor met die VyfVentertjies kort op hulle hakke. Hulle is die VenTribe (uitgespreek in Engels, die V word ‘n W), Wynand is die TribeMaster en Lilo die Minister of Home Affairs.

 

‘n Kwarteeu het verloop sedert daardie spesifieke Sondagoggend. Hoewel die gebeure van daardie dag eintlik ‘n taamlik-akkurate weergawe was van enige gegewe (rustiger) oggend in die Venter huishouding vir etlike jare aanmekaar, is dinge deesdae egter veel rustiger. Daar is steeds voldoende voorraad Superglue, SteriStrips & Stopayne, maar dis meestal vir Wynand se wonde en die kleinkinders se minder ernstige pyne. Wynand en Lilo loop steeds altyd hand-aan-hand en woon steeds in dieselfde huis. Beide het merkbaar verouder om hulle bevordering na grootouerstatus volwaardig gestand te doen. Die VenTribe het beduidend uitgebrei met 4 (amper 5) aangetroude kinders en 4 (amper 6) kleinkinders. Josh en Maddie is verloof en hulle troudatum is reeds vasgestel. Henry & Shannon se eerste swangerskap is in die 12e week en daar is twee hartkloppies op die sonar. Mikey, Duane & Katey se sesjarige seuntjie, is die oudste kleinkind. Daarna volg Alanah & Matt se dogtertjies, Amelia en Riley. Die jongste kleinkind is Jenny & Thinus se 2-maande-oue eerstelingseuntjie, Alex. Die oorspronklike VyfVentertjies het Engels gebly, maar met die enkele uitsondering van Engelssprekende Maddie, het hulle almal Afrikanermedehelftes bekom. Die kleinkinders word tweetalig grootgemaak. Die VenTribe is besonder kundig op die gebied van onbegrensde vreugde en hulle koester hulle tye van samesyn, selfs wanneer hulle opgewondenheid en mededingendheid dreig om deur die klankgrens te breek. Hulle ken ook verskeie vlakke van onbeskryflike seer, die tipes waaraan Superglue, SteriStrips & Stopayne net mooi niks kan maak nie. ‘n Paar jaar gelede was daar Duane & Katey se twee babatjies wat in-utero gesterf het, Katey se diagnose van breinkanker, Katey se wrede lyding, haar hartverskeurende afsterwe toe Mikey net 3 jaar oud was en die boom wat hy help plant het met sy mamma se as. Meer onlangs was daar ook ‘n lewensbedreigende siektetoestand wat byna beide Alanah en Riley se lewens geëis het. Riley is aanvanklik doodgebore en is, na afloop van onmiddellike suksesvolle resussitasie, gehaas na die neonatale intensiewe sorgeenheid waar toetse getoon het dat verskeie van haar orgaanstelsels skade opgedoen het weens kritieke suurstoftekort. Alanah het na afloop van ‘n noodkeisersnit amper uitgebloei en moes dringend ses eenhede bloed ontvang te midde van ander verlammende simptome. Wonderbaarlik is Riley na slegs 15 dae in die neonatale intensiewe sorgeenheid ontslaan met geen skade aan enige van haar organe nie. Buiten vir voorskrifmedikasie om haar bloeddruk onder beheer te hou, het Alanah ook goed herstel en is sy op die sewende dag ontslaan uit die hospitaal uit.

 

Riley het intussen in Alanah se arms aan die slaap geraak. Alanah merk hoe Amelia stukkies Lego van verskillende groottes en kleure gebruik het om ‘n struktuur te bou. Amelia is baie trots op haar skepping en sy kondig aan dat dit hulle gesin se huis is. Alanah kan sien dat van die stukkies wat Amelia gebruik het, dieselfde is as die wat in die Legoboks van Alanah se kindertyd was. Sy weet ook dat van daardie stukkies uit haar pa, Wynand, se kindertyd kom. Drie generasies Legostukkies. Alanah voel soos ‘n Legostukkie. Miskien is ons almal Legostukkies van verskillende groottes en kleure in verskillende bokse met net EEN Skepper wat ‘n perfekte huis kan bou deur AL die blokkies in ‘n boks te gebruik. Hoewel Amelia se Legostruktuur, wat sy hulle huis noem, indrukwekkend is vir ‘n vierjarige argitek-meesterbouer, vereis dit ‘n fyn ontwikkelde verbeelding om enigsins ‘n kenmerkende ooreenkoms met ‘n huis in te sien. Alanah se begeerte is dat haar eie Legostukkie asook die van Matt, Amelia en Riley ingebou kan word in ‘n huis en nie net in ‘n struktuur nie en sy bid saggies dat hulle huidige geestelike tuiste daardie huis sal wees.

 

Vir die grootste gedeelte van die VenTribe se lewe in die groot stad was Wynand en Lilo se Legostukkies verskeie kere in strukture soos Amelia s’n ingebou om dan net weer uitgebreek en eenkant geplaas te word. Sedert die aanvang van Katey se lyding het hulle egter na ‘n nuwe Legoboks toe oorgeskuif waar hulle ingebou is in ‘n stewige en stabiele struktuur wat aan hulle ondersteunende standvastigheid bied tydens die uiters verwoestende storms waaraan hulle blootgestel word. Hierdie struktuur waarin Wynand en Lilo tans ingebou is, vertoon, ongetwyfeld, al die kenmerke van ‘n huis en dit het hulle geestelike tuiste geword.

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    Ek is meegevoer. Hoe nodig het ALMAL van ons ondersteunende standvastigheid in die verwoestende storms waaraan elke familie en gesin blootgestel sal bly! Dankie, Lulu, vir lank en diep dink. En vir die waarheid.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Maretha.

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post