Daar is ‘n gesegde wat lui: “Kennis is om te weet dat tamaties vrugte is, maar wysheid is om te weet dat dit nie in ‘n vrugteslaai hoort nie.” Tamaties is amper soos vrugte met ‘n identiteitskrisis en die gevolg is dat hulle identifiseer as groente.
“Maar die vrug van die Gees is: liefde, blydskap, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen hierdie soort dinge is daar nie ‘n wet nie.”
Galasiërs 5:22-23 AFR20
Die geleerde mense beweer dat die grootste verskil tussen vrugte en groente is dat vrugte bogronds groei en groente ondergronds. Dus, vrugte kan gesien word en groente nie. In Galasiërs noem Paulus 9 kenmerke van die Gees van God wat ons, as gelowiges, onbeperk kan navolg. Hy gaan egter verder en verwys nie daarna as kenmerke nie, maar as vrugte. Hierdie kenmerke van die Gees van God moet sigbaar wees in ons lewens, dit kan nie weggesteek word nie! As gelowiges is ons soos tamaties. Ons IS vrugte deurdat Jesus ons vrygekoop het, maar ons LYK dikwels SOOS groente, want ons stoei steeds met ons sondige natuur. Anders as die Hollywoodfliekskaal Rotten Tomatoes, waar die beste flieks tellings van 100% (perfekte tamaties) behaal, behoort ons te streef na Tamatietellings van 0%. Kom ek gebruik myself as voorbeeld. Op ‘n goeie dag lyk die bewerking van my Tamatietelling as volg:
| Liefde | Vrug | |||||
| Blydskap | Vrug | |||||
| Vrede | Vrug | |||||
| Geduld | Groente | |||||
| Vriendelikheid | Vrug | |||||
| Goedheid | Vrug | |||||
| Getrouheid | Vrug | |||||
| Sagmoedigheid | Groente | |||||
| Selfbeheersing | Groente | |||||
| _____________ | ________ | ________ | ||||
| 6 | 3 | |||||
| _____________ | ________ | ________ |
Tamatietelling = (Groetetelling/9)
= 3/9
= 33.3%
Hoe lyk jou Tamatietelling? Onthou, dis nie ‘n kompetisie nie, dis sommer net ‘n lighartige visuele voorstelling van ‘n diepgaande beginsel.
Kom ons verander die gesegde na: “Kennis is om te weet dat ons die 9 kenmerke van die Gees van God, sonder beperking, kan navolg, maar wysheid is om te weet dat dit niks beteken as ons dit nie sigbaar uitleef nie.”






Amen, LULU. Wat ‘n verskil tusen die twee vierletterwoorde: WEET en LEEF! Ag, HERE, laat ons tot WEET en LEEF! Want dit is tot u eer.
Dankie Maretha.