DIE STUKKEND VAN ‘N GEBREEKTE POT

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

‘n Timothy Johnson geïnspireerde kortverhaal

 

VRYWARING: HIERDIE VERHAAL IS FIKSIE. ALHOEWEL SOMMIGE VAN DIE KARAKTERS HIERIN VERVAT GEBASSEER IS OP WERKLIKE MENSE, IS ENIGE OOREENKOMS VAN DIE KARAKTERS MET WERKLIKE MENSE, BLOOT TOEVALLIG EN GLAD NIE VERTEENWOORDIGEND VAN ENIGE VORM VAN DIE WERKLIKHEID NIE.

 

Dis amper halfvyf en Janine, wat hard besig is om haar laaste huiswerk klaar te maak, oorweeg dit sterk om vir tannie Selma te laat weet dat sy nie vanaand se kategeseklas kan bywoon nie. Die gevolglike gedagte daaraan dat sy dan ook nie vir Dylan by die aanddiens gaan sien nie, is genoeg om haar aanvanklike oorweging heeltamal uit haar kop te gooi.

 

Dylan is Janine se eerste ernstige verhouding en hulle het vroeër die jaar by die verjaardagpartytjie van ‘n gemeenskaplike maat, ontmoet. Met net ‘n ouer sussie tuis en ‘n skoolloopbaan wat al van voorskool af afgeskop het in ‘n meisieskool, was Janine maar taamlik sku rondom seuns. Janine en ouer sussie, Maryke, het beide uitgeblink in verskeie dansdissiplines, van klassieke ballet tot moderne- en klopdans en het ook akademies goed presteer op skool. Maryke is Shawn se meisie, en hoewel die verhouding taamlik wipplank ry op die beste van tye, is hulle trots daarop dat hulle verhouding ‘n paar dae gelede, ‘n vierde herdenking gevier het. Voor Shawn in die prentjie gekom het, was die verhouding tussen 14-jarige Janine en 17-jarige Maryke baie heg gewees, maar sedertdien is die hegtheid vervang met Oscar-mededingende tienerkatterigheid en stilstuipe tussenin. Janine mis die ou dae. Ten minste het Maryke haar saamgevat na Elbie se partytjie toe waar sy vir Dylan, ook 17, ontmoet het. Dylan en Elbie was ten tyde van die partytjie nog in die aan-deel van ‘n aan-en-af-verhouding. Minder as ‘n week later het Elbie vir Dylan, met ‘n stemboodskap, laat weet dat dinge finaal verby is tussen hulle. Geen gras het onder Dylan se voete gegroei nie en hy het, daar en dan, die telefoonnommer van die onskuldige, sexy dansertjie, met wie hy ‘n oë-sluit-oomblik gedeel het tydens die partytjie, gekry en ‘n WhatsApp gestuur. Janine se voete is onder haar uitgeslaan toe die kaptein van die eerste rugbyspan van die tweede-beste rugbyskool in die hele land, haar op ‘n date genooi het.

 

Eintlik hoop Janine dat Dylan by vanaand se aanddiens gaan wees, want een van die dinge wat haar pla, is dat hy al hoe meer dom redes aanvoer waarom hy nie kan bywoon nie. Dinge tussen die twee is glad nie reg nie en sy wil hê dat hulle praat daaroor. ‘n Paar weke gelede het die paartjie die aanddiens van hulle gemeente geditch om ‘n herlewingsdiens by ‘n charismatiese kerk by te woon en daarna het hulle ingeskryf by een van die kerk se omgeegroepe vir hoërskoolleerlinge. Janine het vir haar ouers gejok daaroor en sy voel skuldig daaroor, want hulle deel ‘n wedersydse vertrouenswaardige verhouding wat by verre beter is as die wat enige van haar maats met hulle ouers het. Janine was deeglik bewus van die toenemende wrywing tussen Maryke en hulle ouers en sy wil verseker nie in dieselfde rigting beweeg nie. Hoewel sy nie die fyner besonderhede ken nie, weet sy dat Maryke groot geheime hou en dit breek haar hart elke keer wanneer sy hoor hoe Maryke saggies huil in die middel van die nag wanneer sy dink dat niemand haar hoor nie. Janine hoor dit. Tydens die dan-en-wan kere wat die twee goed oor die weg kom en lekker gesels, dan laat Maryke vir Janine in haar lewe in. Dis waar sy gehoor het dat Kayla, die omgeegroepieleier van die herlewingskerk wat so openlik uitgesproke is teen dating en hook-ups en wie so passievol preek oor preutsheid en die reinheid van courtship (geen drukkies, geen soene, geen handevashou en geen alleenkuiers nie), se kêrel een aand by sy vriende gespog het oor sy gesogte verowering van die kerkmeisie se maagdelikheid. Shawn is een van die vriende en hoewel hy nie Maryke se eerste kêrel is nie, is hy wel die rede waarom Maryke se voorbehoedpille vir die eerste keer nie meer net voorgeskryf word om haar vel mooi te hou nie.

 

Dan is daar die DING wat sy en Dylan in die geheim doen en nooit oor praat nie en dit pla haar meer as enigiets anders. Dit hou haar wakker in die nag. Dis wanneer sy Maryke hoor huil. Sy vertel haarself dat hulle twee mos saam die besluit gemaak het, dat hulle in ‘n ernstige kys is en dat die kerk en die grootmense nie tred hou met die tyd nie, maar sy glo dit nie. Dylan sê dat seks natuurlik is en dat dit ‘n rite of passage is vir elke gesonde, volwasse mens. Die eerste keer wat dit gebeur het, was die aand toe sy die kampioenskapstoekenning gewen het tydens die provinsiale danskompetisie. Pappa was uitstedig op ‘n sakereis en nadat Mamma vir haar en Dylan solank by die huis afgelaai het, moes sy nog drie ander dansers by hulle huise gaan aflaai. Toe een van die dansers skielik ‘n asma-aanval in die kar kry, het Mamma se trip heelwat langer geword en ‘n besoek aan Noodgevalle ingesluit. Janine het vir Dylan ‘n video gespeel van die vorige jaar se dans wat haar ‘n tweede plek besorg het. Dylan was betower met Janine se mooi danserlyfie op die TV skerm, maar toe hy sy oë van die skerm af verplaas het na die werklike danserlyfie voor hom, was ‘n vurige omhelsing en warm vryery nie genoeg nie. Dylan het al die regte goed gesê en gedoen om al Janine se weerstand te laat verkrummel. Sy was bietjie geskok oor die gretigheid waarmee haar liggaam saamgespeel het, maar sy was te bedwelm deur die lekkerkry om dit stop te sit. Die skielike seer steekpyn het haar onmiddellik teruggeruk na die werklikheid toe en toe sy walgooi en Dylan probeer wegdruk, was dit reeds te laat. Hy het gesê dat dit amper klaar is. Dit was gross en glad nie soos in die flieks of in boeke nie. Sy wou dit nooit weer doen nie, maar Dylan het gesê dat dit beter sal word en dat dit hulle verhouding sal versterk. Dit het nie. Inteendeel, Janine het begin voel dat dit al is wat Dylan saam met haar wou doen. Dylan was nie daardie aand by die aanddiens nie en hy het Janine se WhatsApp versoek dat hulle tyd maak om te praat, beantwoord met “Ek het jou gesê as jy so stuck up is, gaan dit nie werk nie. Jy is nog te onvolwasse vir grootmensdinge. Ons kys is uit. Good luck.”

 

Twee weke later lei Dominee Tim die nuwe gemeente-tema (vroue in die Nuwe Testament) in met sy oggend-erediens preekbeurt. Sy hart is swaar en dis duidelik sigbaar in sy vooroorgebuigde skouers en sy stadige beweging, amper asof daar lood in sy skoene is. Hy sit nie gewoonlik sommer op die stoel nie, maar vanoggend is dit asof ‘n onsigbare magneet hom in die stoel in trek. Soos altyd is sy stemtoon sag, maar dis nie, soos altyd, vertroostend nie. Dis dringend en daar is duidelik ‘n knop in sy keel wat hy sukkel om af te sluk. Hy praat oor die onbeskryflike stukkend wat hy in sy spreekkamer sien in elke slagoffer van molestering en verkragting. Dan kyk hy uit oor die gemeente voor hom en dis amper asof hy met oogkontak beide erkenning en troos wil gee aan die veelvuldige spreekkamerslagoffers, want hy weet wie elkeen is en hy kan sien dat die meeste van hulle daar is vanoggend. Hy ken hulle stories. Hy ken hulle pyn en hulle trane het hom nie onaangeraak gelos nie. “VROUE IS NIE SEKSOBJEKTE NIE!” Meteens klap hy die driepootpotjie van die koffietafeltjie af met soveel opgeboude momentum dat die deksel die baksteenrandjie van die verhoog se grens met ‘n harde slag tref en die vuil skuimwaterige inhoud skouspelagtig die wêreld vol spat. Janine moet ‘n paar druppels van haar wang afvee. Nee, Dominee Tim is NIE ‘n gewelddadige mens met ‘n plofbare humeur nie, hy is waarskynlik die deernisvolste, saggeaardste mens wat Janine al ooit ontmoet het. Sy het dadelik gedink aan die Bybelvertelling van die tyd toe Jesus die smoustafels in die tempel omgegooi het. Jesus was kwaad. Dominee Tim is kwaad. Hoewel Janine groot geskrik het en behoorlik gewip het op haar stoel, was dit beduidend vreemd dat dit nie met Mamma gebeur het nie. Sy is immers die kampioen skrikwipper in die familie en sy word baie gereeld daaroor geterg. Maar Mamma is saamstemmend meegevoer en Pappa hou haar hand styf vas terwyl dit lyk asof Dominee Tim ook na hulle kyk. “ONS GEMEENTE SE PROFETIESE STEM GAAN NIE LANGER STIL WEES OOR SEKS NIE. ONS GAAN PRAAT OOR GOEIE, GESONDE, MOOI SEKS WAT IN DIE HUWELIK HOORT. ONS GAAN PRAAT OOR DIE SEER EN STUKKEND WAT WELLUSTIGE GEWELDDADIGE SEKS VEROORSAAK. ONS GAAN PRAAT SODAT ALMAL KAN LUISTER EN ONS GAAN LUISTER SODAT DIE STUKKENDES KAN PRAAT.”

 

Janine wil graag luister en sy wil ook graag praat oor die “vuil water wat op haar gespat het”. Miskien kan Maryke en Kayla ook saam kom luister en miskien sal hulle ook dan wil praat.

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post