“En nou, die oomblik waarop almal wag, hierdie jaar se Victor Laudorum toekenning gaan aan…. [drumroll] Timothy Johnson.”
Die gehoor breek uit in luide applous en toejuiging terwyl ‘n beleefde jong man met ‘n groot glimlag eers bladskud met die skoolhoof en senior onderwysers op die verhoog voordat hy die groot toekenning in ontvangs neem. Sy toespraak is kort en vol dankbetuiging — aan God al die eer, dan sy ouers, onderwysers, vriende en familie. Sy naam gaan vir ‘n vyfde agtereenvolgende keer op die toekenningsplaatjie ingegraveer word, maar as matrikulant, sal dit die laaste keer wees. Hy is reeds aanvaar en ingeskryf om aanstaande jaar sy veeartsenykundestudies te begin. Timothy het van kleins af gewoeker met sy talente en sommer gou begin uitblink op beide akademiese en sportgebied. Geloof en harde werk vorm die fondament van sy waardestelsel en sy siel se stil bewustheid van die oorvloed hulpbronne, vermoëns en ondersteuning waarmee die Here hom geseën het, herinner hom gereeld daaraan om nederigheid na te streef. Hy lewe met doelgerigtheid om die Here te behaag met die oorvloedige rykdom waarmee hy geseën is. Sy gevolglike prestasies waardeer hy as beloning vir sy harde werk en getuienis van God se goedheid.
Die skril huilstemmetjie van ‘n babatjie iewers in die groot kerk-ouditorium ruk Tim oombliklik terug uit 1986 uit. Die hede, veertig jaar later, lyk veel anders as die vooruitsigte wat jong Tim destyds op daardie skoolverhoog gekoester het. Hoewel hy inderdaad wel in veeartsenykunde begin studeer het, het dit net 7 maande gehou. Een van die deurslaggewendste oomblikke in sy lewe het gevolg op een van die onmerkwaardigste oomblikke. Dit was in die kalm woorde van ‘n meisie wat hulle Bybelstudie gelei het, waar Tim gehoor het hoe die Here hom roep tot voltydse bediening. Met haar wipneus, buite-verhouding-reuse voorkop en dorky bril, het Mia nie juis die koppe laat draai nie, maar met die oortuiging van haar Goddelike-wysheid-deurdrenkte woorde het sy harte aangegryp en met haar deernisvolle oë kon sy tot diep in mensesiele kyk. Mia het nooit direk met Tim gepraat nie, haar boodskap was gerig aan alle teenwoordiges en sy het voorgelees uit Spreuke en Hebreërs. Tog het die Here baie duidelik met Tim gepraat. Vanuit Spreuke het Tim besef dat harde werk en prestasies, ongeag van die egtheid om die Here daarmee te behaag, niks verander aan God se seën nie. Hebreërs het hom herinner daaraan dat hy, met waardige dankbaarheid vir die rykdom van sy eie oorvloed seëninge, aan die stukkende kant van die ewigheid met stukkende stelsels en stukkende mense staan. Tim was steeds oorgehaal om die Here te behaag, maar nie meer met harde werk en prestasies nie, maar met diensbaarheid om stukkende mense te bedien terwyl hy, met oorgawe, die Here dien met eerbied en ontsag. Hy wou ‘n voltydse dominee word en het sy studierigting verander van veeartsenykunde na Teologie toe.
Tim staan vanoggend hier voor sy geliefde gemeente waar hy reeds die afgelope twintig jaar lank bedien. In sy hart brand ‘n boodskap wat hy graag aan hulle wil bedien en nadat hy sy preeknotas reggeskuif het, kyk hy uit oor almal voor hom en maak oogkontak met soveel van hulle as wat hy kan. Die groot ouditorium is vanoggend propvol, want die Somervakansie is verby en die nuwe skooljaar skop hierdie week af. Dis nie amptelik ‘n gesinsdiens vanoggend nie, maar omdat die oulike kindergesiggies in die gehoor altyd sy gemoed inspuit met ‘n soort hoë-oktaan-stralerbrandstof, gaan hy sy boodskap op hulle begripsvlak bedien. Hy is reeds lank genoeg in voltydse bediening om te weet dat grootmense die kinderboodskappe soms meer geniet as die kinders, maar hy is ook deeglik bewus daarvan dat spontane ongefilterde kinderdeelname ‘n soort gevaarlike wildcard gamble vir ‘n geordende dominee kan wees.
Tim nooi alle kinders uit wat graag aan ‘n Kerskonsert sal wil deelneem en sommer gou is hy omring deur ‘n groot groep blinkoogkindertjies. Eers vra hy wie graag die rol van Maria wil vertolk en omtrent al die dogtertjies se hande skiet op en dieselfde gebeur met die seuntjies wanneer hy vra wie graag die rol van Josef wil vertolk. Net een handjie skiet omhoog wanneer Tim vra wie graag ‘n herder wil wees. Dis ‘n skamerige outjie met groot bruin ogies wat waarskynlik nie die vraag mooi verstaan het nie, maar Tim bedank hom vir sy bereidwilligheid. Vir die rolle van engele en wyse manne blyk dit asof dieselfde handjies elke keer opskiet. Nadat al die bekende rolle uitgeroep is, is daar egter ‘n paar handjies wat nie opgeskiet het nie en Tim is verlig, want hy het nogal daarop gebargain. Onder hulle is sesjarige Bienkie, sewejarige Mikey en agtjarige Ben. Bienkie staan beskermend agter haar tweelingboetie, Billy, in sy rolstoel en op Tim se vraag van watter rol sy dan graag wil vertolk, antwoord sy sonder om eers te huiwer.
“Hotelbaas, want ek sal vir hulle die beste kamer gee, nie ‘n simpel stal nie!”
Tim kan byna sy lag nie keer nie, maar hy glimlag net liefdevol vir Bienkie terwyl die gehoor skaterlag. Hy bedank haar vir haar gasvryheid voordat hy uitvra oor haar afkeur van ‘n stal wat sy dan so oulik en oordrewe beklemtoon het. Die uitdrukking op haar gesiggie verander skielik van astrant-oulik na ontstellend-diep en die geweldige werklikheid van die herinnering aan hierdie dogtertjie se blou gesiggie in die ER verlede jaar toe haar eerste perdry-les in ‘n asma-aanvalnagmerrie verander het, tref hom soos ‘n onsigbare baksteenmuur. Dis nou heeltemal te laat om in te gryp, Bienkie is reeds oorgehaal om te antwoord en haar antwoord vang Tim heeltemal onkant.
“Daar is nie genoeg asem in ‘n stal nie en babatjies het asem nodig om eendag te kan praat en loop!”
Tim sluk hard aan die knop in sy keel wanneer hy besef dat Bienkie se sesjarige ervaring van ‘n asma-aanval in ‘n perdestal genoeg was vir haar om te verstaan hoekom Billy nie kan praat of loop nie en sy wil baba Jesus beskerm daarteen. Weens ernstige komplikasies tydens die tweeling se geboorte, was Billy onderwerp aan ernstige suurstoftekort wat hom met onherstelbare skade gelaat het. Vir ‘n rukkie hurk Tim by die tweeling en dan gee hy albei van hulle ‘n drukkie en dit gee hom kans om weer tot verhaal te kom terwyl daar nou ‘n swaar stilte heers in die ouditorium. Daar is ‘n onverklaarbare veerkragtigheid wat uit hierdie dogtertjie se glimlag uitstraal en dit versterk Tim sodanig so dat hy weer hervat waar hy tydelik ontspoor het.
Tim vra hy of daar nog enige ander rolle is waarvan hy vergeet het en dis op daardie oomblik dat Ben en Mikey se hande gelyktydig opskiet. Ben is eerste om baie selfversekerd aan te kondig dat hy die engel Gabriël wil wees, maar wanneer hy sommer vrywillig byvoeg dat hy vir Maria en Josef wil skrikmaak met sy reuse swaard, is dit duidelik dat sy seuntjiebrein effe verward is oor die identiteite van die aartsengele. Tim bedank Ben vir sy dapperheid en dan vra hy vir Mikey watter rol hy graag wil speel. Mikey haal diep asem en met opgetrekte skouertjies antwoord hy oortuigend.
“Oom Tim, ek wil Jesus wees, want dan sal my…….dan sal hy glo.”
Tim weet dadelik dat die gelaaide stilte halfpad deur Mikey se woorde ‘n aanduiding was dat Mikey sy volgende woorde eers heroorweeg het voordat hy besluit het om eerder met sy koppie kant toe te knik op die “hy” sonder om die identiteit bekend te maak. Vir ‘n tweede keer voel Tim asof hy nie lug in sy longe kan intrek nie, want hy weet presies van wie Mikey praat. Die keer kan hy voel hoe ‘n paar trane onwillekeurig teen sy wange afrol en weer hurk hy en neem die seuntjie in sy omgee-omhelsing. Dan stap hy terug na die podium toe terwyl hy besef hoe die Here Self presies die regte toneel geskep het vir die boodskap wat Hy op Tim se hart gelê het. Met ‘n teer stem wat net-net nie breek nie bedank hy al die kinders en vra hulle om terug te keer na hulle sitplekke toe terwyl hy ‘n herderstaf van die grond af optel en daarop leun.
“Almal ken vir Maria en Josef en daar kan net een van elk in ‘n Kerskonsert wees. Daar was baie herders en tog ken ons nie een van hulle se name nie. Ons gaan nie vandag ‘n Kerskonsert hou nie, maar ons gaan almal vandag in die herders se skoene staan.
Wanneer laas het jy gevoel dat jy nie goed genoeg is nie? Dink jy dat die herders in Bethlehem se veld goed genoeg was?”
Tim laat sy vrae vir ‘n rukkie lank in die lug hang terwyl hy, staf in die hand, op die trappie gaan sit en opkyk na die groot skerm. Dan speel daar ‘n kort video wat ‘n toneel uitbeeld van ‘n vuil, onversorgde herder wat ‘n pasgebore lammertjie van sy dooie mamma af wegvat, dit smeer met ‘n waterige mengsel en na ‘n ander mamma toe vat. Die nuwe mamma ruik eers aan die wesie en dan, (ongeveer ‘n uur later, soos aangedui deur die onderskrif by ‘n stukkie fast forward), begin sy die ou weerlose dingetjie lek. Die videokwaliteit is maar dowwerig, maar die boodskap is kristalhelder en kragtig. Tim staan op en loop na die podium toe, die staf steeds in sy hand.
“Dit is hoogs waarskynlik dat die herder in die video se lyf en asem taamlik erg stink, dat hy nie kan lees, skryf of basiese wiskunde doen nie. Hy het waarskynlik ook slegte maniere gehad en slegte taal gebruik. Hy sou die waarskynlikste verdagte van misdaad wees en indien hy in Bethlehem se veld was, sou hy van die tempel en sinagoges af weggehou wees omdat hy as ongodsdienstig bestempel sou word. Waarskynlik sou hy ook sonder geld, ‘n huis en enige respek wees. Maar hy weet dat wees-lammertjies sal doodgaan sonder aanneem-mammas en hy ontferm homself oor die wesies.
Die Bethlehem herders was die onbelangrikste mense, hulle was nie goed genoeg vir mense nie, maar hulle was goed genoeg vir God en daarom het Hy die engele heel eerste na hulle toegestuur om te vertel van Jesus se geboorte. Hulle is eerste uitgenooi om Jesus Christus, die Seun van God, wat in ‘n stal in Bethlehem gebore is, te gaan ontmoet. Hulle het die pasgebore Seuntjie in die beskermende arms van sy mamma aangetref en Hom aanbid as hulle Messias. Hierdie Jesus het jare later, in Sy openbare bediening, Homself gelykgestel aan slawe en herders, Homself oor stukkende mense ontferm en hulle met onvoorwaardelike liefde bedien. Uiteindelik het Hy Sy lewe neergelê om, as volmaakte Offerlam, die sondeskuld van die ganse mensdom te betaal. Jesus is die Goeie Herder EN Hy is die volmaakte Lam van God. Daar is net een Jesus en Hy ken jou naam. Daar is net een soos jy en jy is goed genoeg vir Hom.”
Behalwe vir die video en enkele ander gebeure, het weinig min volgens Tim se preekplan verloop en hy weet ook dat die inhoud van sy preeknotas beduidend verskil met wat werklik gebeur het. Hy het die aanneemproses van lammers nogal goed nagevors, maar het gekies om die video (wat gelukkig nogal dowwerig was) sonder tegniese en grafiese akkuraatheid te verduidelik. Tydens die slotlied, My Enigste Troos, dwaal Tim se gedagtes. Na die bekkige klein vuurvreter Bienkie, beskermengel van haar geliefde tweelingboetie, Billy, ‘n kwylende, doofstom-parapleegseuntjie wat net sy ogies kan knip. Na die ernstige, wyse Mikey wie se mamma dood is toe hy nog baie klein was en wie se pappa op sy geestelike reis verdwaal het. Terwyl Tim voel hoe die trane en die knop in sy keel weer begin opbou, onthou hy dat Bienkie, Billy, Mikey en Mikey se pappa aan Jesus behoort en voel hy die wonderlike troos dat geen stukkend dit kan verander nie. Dan, met die laaste paar musieknote wat wegkwyn, stap Tim weer met die trappies na bo om af te sluit en hy doen so met sy een hand uitgestrek oor die mense en sy ander hand steeds in ‘n greep rondom die staf.
“Kyk ‘n bietjie om jou rond. In hierdie geloofsfamilie kan elke gelowige behoortenis vind omdat Jesus ons vrygekoop het en omdat ons mekaar in liefde bedien. Ons is almal stukkende lammertjies EN ons is almal ook herders — soms gaan jy ‘n stukkende lammertjie wees wat versorging van ‘n herder nodig het en ander kere gaan jy ‘n herder wees wat stukkende lammertjies versorg. Mag die genade van ons Goeie Herder en Offerlam, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees met elkeen van julle wees. Amen.”






Hierdie innigheid, hierdie behoortenis [jou woord, Lulu], hoort volgens die wil van God in elke geloofsgemeenskap. Dankie dat jy dit so lieflik op skrif gestel het. En, HERE, ons HERE, laat Mikey se ou handjie wat aan die soom van u kleed vasgryp, onvergeetlik in ons harte ingebrand word, sodat ons saam met hom vir sy pappa sal bly intree. AMEN.
Liewe Maretha, baie dankie vir jou mooiste en deernisvolste woorde van egtheid. Mag dit wees presies soos jy vir geloofsgemeenskappe en Mikey toewens. 🙏🏼✝️