BOESMANLAND 1987

POSTED BY

Lulu van Aswegen

“Boesmanland vat my hand

Lei my oor die Rand se kant

As jy vir my kan sê waar die Boesmanland lê

Boesmanland vat my hand”

— Worsie Visser © 1997

Ek het die afgelope naweek, saam met my geliefde Assie, Hoërskool Boesmanland (Pofadder) se 1987 matriekklas-reünie bygewoon in Stellenbosch en ek dra graag hierdie skrywe op aan ‘n besonderse groep mense.  Ons het saamgekuier vir sekerlik net so kort van 20 uur oor die drie dae versprei en ek het daarvandaan weggestap met die warm-hartklop gevoel dat ek myself in die geselskap van grotes bevind het.  Hierdie is uiters begaafde mense, maar nie op die samelewing se skaal vir mensontkennings-rotresies-vasgevangdes nie.  Nee, hierdie mense se begaafdheid lê in hulle menswees — die warmste, innemendste mense wie ek al ooit ontmoet het!  Ek skop graag af met my verwerking van Worsie se lied:

Boesmanland, hier’s my hand

Lei my oor die Strand se kant

Ek kan jou nog nie sê waar die Boesmanland lê

Boesmanland, hier’s my hand

 

Vooraf het ek en Assie besluit om ons sewe-nag-verblyf te vind in ‘n Kuswegwoonstel in die Strand en sodoende ‘n 180-grade see-uitsig te verseker.  Assie het voorgevat en die bespreking gedoen waarna hy enkele dae voor ons vertrek uit Bloem uit vir my die skakel aangestuur het.  Ek het die bespreekte woonstel se foto’s noukeurig deurgekyk en die volgende woorde het soos ‘n flitsende jumbotron in my gedagtes afgespeel…

Babe, it’s perfectly neat and stylish, but it looks like it’s the size of a teeny tiny matchbox.  You can’t swing a cat in there!

Vanuit die foto’s het ek ook besef dat my liefste Assie heeltemal vergeet het van die noodsaaklikheid van swaargewig-lugversorging om die waansin van middernagtelike hormoongestremdheid teen te werk.  Behalwe vir die beskikbaarheid van ‘n dakpaleiswoonstelletjie (penthouse), met sentrale lugversorging waar ek waarskynlik nie net ‘n kat nie, maar ook ‘n T-Rex sou kon swaai teen die tand-en-tong-insluk-prys van R84k vir die sewe dae, was daar geen ander alternatief nie.  Gewapen met ‘n swaargewig-waaier, wat op sy hoogste stelling die vermoë het om ‘n middeljarige mens se losvelwange regrondom sy gesig te blaas, het ek die eerste nag ingegaan en gehoop dat my brein nie hierdie keer uit my skedel gaan uitkook nie.  Dit het nie.  Inteendeel, die waaier saam met die seelug het in al my behoeftes voldoen.  Dit is wel so dat die woonstelletjie kleiner is as my vermoë om lig te pak, maar in die afwesigheid van ‘n kat en ‘n T-Rex, voldoen dit steeds volmaak aan al ons vereistes.  Meer indrukwekkend nog, is die gawe woonstelverhuringsagent wie geen moeite ontsien het om aan ons hoogste graad van kwaliteit, weelde en gemak te bied nie.  Met sy ongeëwenaarde dienslewering, staan hy kop en skouers bo sy kompetisie uit en herskryf hy sy beroepstitel van verhuringsagent na verhuringsgasheer toe.

 

Maar kom ek vertel jou, liewe leser, van die hartsmense wie my siel verkwik het….

Met ons aankoms op die eerste kuiergeleentheid, het Assie my heel eerste voorgestel aan ‘n vriendelike vrou wat aanvoelbare hartlikheid uitstraal.  Hy het eers haar skoolbynaam gebruik terwyl ek dadelik vermoed het dat sy dit reeds lankal afgeskud het en ek het haar uitgevra oor haar voorkeur-aanspreeknaam.  Haar antwoord het my vermoede bevestig, want dit het geen betrekking op haar haarkleur gehad nie.  Ek kon gou bepaal dat sy die waarskynlikste persoon is wie mense met hulle diepste hartsake sal kan vertrou.  Daar was nog enkele ander mense aan wie Assie my voorgestel het voordat hy homself ingeweef het in aansteeklike kuierkletse oor die gebeure van 39 jaar gelede, asof dit net gister gebeur het.  Met die uitsondering van een of twee mense wat later aangesluit het, het ek myself voorgestel aan al die res van die mense en geselsies aangeknoop met verskeie van hulle.  Die gasvrou van die eerste kuier is waarskynlik die flinkste besluitnemer van die groep en haar eetgoed was, ongetwyfeld, selfs beter as next level.  Die atmosfeer was gemaklik, met ‘n stillerige versigtigheid om, vanuit waarneming, mekaar beter te leer ken.  Ek het myself voorgeneem om almal se name te onthou en ten tyde van hierdie skrywe, was daar slegs een naam waaroor ek ‘n tikkie onseker was.  Ons wou mekaar leer ken.  Waar woon jy?  Het jy kinders/kleinkinders?  Wat doen jy?

“Bloemfontein.  Nege kinders (aangetroude kinders word ook ingereken) en amper 5 kleinkinders.  Wouter skryf sagteware en ek skryf stories.”

Daar was skaapboere van Pofadder, wingerdboere van die Boland, entrepreneurs, tuisblymammas, sakemense, vriende, vryskutpredikers, onderwysers, rekenmeesters, navorsers, musikante, arbeidsterapeute, bankbestuurders, verkoopsagente, wetstoepassers, ingenieurs, akademici en ‘n skrywer wat hard probeer, maar net nooit die onbeskryflike seën van een mensweesnaweek waardig sal kan saamvat nie.  Gewone en gelowige mense, net soos ek, maar wie Afrikaans soveel beter en met indrukwekkend-beter aksente as ek kan praat.  Ek kon regtig nog vir lank net na hulle luister en by hulle wees.  Dis die kaliber mense met wie ek oorlog toe sal gaan, want hulle is betroubaar en vertrouenswaardig.  Dis die kaliber mense saam met wie ek ons nasie sal wil red, want hulle is kundig en ervare.  Hulle is ook die kaliber mense wie Elon Musk sal benodig om Mars te herbevolk, maar hulle sal nie gaan nie en ek is heeltemal okay daarmee, want ek wil ook nie gaan nie en hulle is my nuwe vriende.

Daar was twee egte blitsbedankingstoesprake deur die hoofseun, ‘n wyse man met integriteit, deernis vir en belangstelling in sy medemens.  Sy geliefde vrou se liefdevolle omgeehart kan glad nie weggesteek word nie.  Die Saterdagaand-grootkuier was op ‘n wingerdplaas waar ons, soos koninklikes, gewine en gedine is deur ‘n nederige, knap sesdegeslag wingerdboer en sy geliefde vrou wat die effe verborge hoofslagaar van die matriekgroep is.  Sy kan beide in die kollig asook agter die skerms haar stempel afdruk en sy is die waarskynlikste persoon wie betrek sal word wanneer duidelikheid en rigting verlang word.  Daar was tye van skaterlag vir die grapskeppingsvermoë van twee betrokke life-of-the-party-dames aan wie se lippe ek kon hang en die volume van die hele geselskap het met etlike desibels gedaal in hulle afwesigheid.  Daar was twee onderwysers van die matriekklas wat, ongetwyfeld, steeds sagte ereplekkies vir elkeen in hierdie groep in hulle harte ronddra.  Een van hierdie onderwysers was in 1987 ‘n pas-afgestudeerde Afrikaans-onderwyser* met ‘n eersteklasgeheue wat selfs ‘n jonger weergawe van myself bloedrooi-verleë sal laat en wie se Afrikaans-fixes van hierdie skrywe ek graag sal aanvaar.  Sy het selfs ‘n paar jaar voor my dieselfde laerskool en hoërskool in die Strand bygewoon.

Ons het Boesmanland-gasvryheid in die oortreffendste trap beleef met kos waarvan die kieskeurigste koskenners in die wêreld net kan droom.  Ek het ook een nag vir die heel eerste keer in my lewe met die nare Mister-Acid-Reflux kennisgemaak, die treurige vent wat besoekaflê by ouderdomsgevorderde mense wat met die dining-resieskar sonder selfbeheersingsbrieke rondjaag.

Die klaskaptein-grapjas hou verseker stewig kersvas by die beste storievertellers in die wêreld en op ‘n stadium het Coke by my neus uitgekom en het ek amper, terselfdertyd, in my skaaptjoppie verstik soos hy my laat lag het.  Hy trek sy luisteraars in soos ‘n riptide onbewustelike seeswemmers intrek, maar die enigste risiko hier is dat ‘n meegevoerde luisteraar bloot gullible kan wees in die lig van die vlymskerp humorsin van iemand wat ander kan vermaak sonder om eers hard te probeer.  Ek kan nie regtig onthou wat hy alles vertel het nie, maar ek sal nie kan vergeet hoe lekker die skaterlag my laat ontlaai en ontspan het nie.  Ek is ook oortuig daarvan dat ek nie enigste een is wat so gevoel het nie.

Daar was ook diep en ernstige gesprekke oor Habakkuk-geloof, skepping-vs-bigbang, gelowiges se deelhê in Jesus se lyding, vreesaanjaende siektes en dood.  Die supersterk vrou met die ongelooflikste vermoë om, soos onsigbare verhoudingsgom, hierdie groep bymekaar te roep, beskik eintlik oor alle geldige redes om self verhoudingsgom van iemand anders te benodig.  Maar sy laat almal aanmekaar stick soos SuperglueBostik.  Daar was trane.  Oor moord, prions, virusse en kanker wat geliefdes doodmaak.  Oor die stukkendseer van huweliksverraad.  Oor seer van eensaamheid.  Oor die stukkend van rousmart.

Aan my liefste Assie, my beterhelfte babe, husband of my youth and old age, so BAIE DANKIE dat jy my gebring het om jou Boesmanland-matriekklas en hulle anderhelftes te ontmoet!  As ek nooit die geleentheid kry om die Boesmanland te besoek nie, WEET ek nou dat die kosbare mense wie ek ontmoet het, die verpersoonliking is van hoe gemeenskap moet lyk en werk.

GASVRYHEID.  DIENSBAARHEID.  VRYGEWIGHEID.  TOEWYDING.  SELFLOOSHEID.  VERDRAAGSAAMHEID.  LIEFDE.

Aan die Boesmanland-matriekklas van 1987 en hulle anderhelftes,

Riekies

Freda

Annelien

Chrisna

David

Ingrid

Daniël

Retha

Jacob

Gerhard

Liesl

Arina

Carel

Lilly

Louis

Rosan

Zenda

William

Martelize

Chris

Miemie

Dirkie

Yolandé

Linda

Savas

Mnr Palm (Danie/Johan?? EK IS SO JAMMER!)

Sandra

Martin

Ester

so BAIE DANKIE dat ek saam met julle kon kuier en dat julle my laat beleef het hoe belangrik en kosbaar menswees is.  Julle is awesome!

Dankie, Here Jesus, vir my nuwe Boesmanland-vriende.  Bewaar en beskerm hulle en hulle geliefdes, asseblief.  Amen.

*Ek verkies om nie geslag toe te ken aan betrekkings nie, want ek was gevra om die Engelssprekende seremoniemeester by twee van my kinders se troues te wees en ek het net daar besluit dat ek die Master of Ceremonies en verseker NIE die Mistress of Ceremonies wil wees nie!

 

Voorlopige beplanning vir REÜNIE40 van BOESMANLAND 1987 is reeds onderweg vir 2027 in BLOEMFONTEIN, die vergete hoofstad van Suid-Afrika.

 

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

4 Comments

  1. MJ Maartens

    Lulu en Wouter… nou was ons ook daar. O, die heerlikheid van opregtheid. Die tuiskoms by mense wat IS, wat nie wannabees is nie. Die heerlikheid en genade om agterna weer as egpaar die warmte en die vreugde te mag onthou en weer met mekaar te mag deel. Ons is so trots op julle, Lulu: julle het die Boesmanlanders se lewens ook gaan verryk. DANKIE!

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Liewe Maretha, baie dankie vir jou mooiste woorde! Dit was sekerlik een van die verrykendste geleenthede wat ek nog bygewoon het. WOW, daar was geen voorgee, geen aanstellerigheid en geen hubris nie – NET menswees! ❤️

      Reply
  2. Christian

    Liewe Lulu,

    Ek was opreg verras en baie geëerd om die mooi vermelding van my en die verblyf in jou artikel raak te lees. Dit was ’n groot en heeltemal onverwagte kompliment. Ek het elke woord van die stuk geniet – só vasgenael dat dit gevoel het asof ek self by die reünie teenwoordig was. Dankie vir ’n besonder onderhoudende en fyn waargenome leeservaring.

    En dankie ook dat daar, hetsy letterlik of volgens ou maritieme tradisie, geen kat in die woonstel geswaai is nie – sommige dinge hoort maar bo dek. Ek moet byvoeg: Worsie Visser was nog in my kop toe ek uiteindelik aan die slaap geraak het.

    Baie dankie vir die leesgenot en die mooi woorde.
    Dit word opreg waardeer.

    Vriendelike groete
    Christian (van die Strand se kant)

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Liewe Christian, baie dankie vir jou gawe waarderingswoorde! Ek gaan dalk nie vir altyd onthou presies wat alles gebeur het nie, maar ek gaan beslis onthou hoe dit my laat voel het. 😃

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post