DIE ENIGSTE ANTWOORD

POSTED BY

Lulu van Aswegen

OP ‘N ONBEANTWOORDBARE VRAAG

**’n Werklikheidsfiksieverhaal geskoei op werklike mense en gebeure, opgedra aan elke toegewyde leraar wie die ware Jesus ken en Hom voorstel aan jongmense**

 

“Hoe op die aarde is dit moontlik dat jy hierdie mens, wie jy bykans 4 dekades laas gesien het, se swaarkry so diep en intens beleef?”

Eers hang daar ‘n lang, swaar stilte in die lug voordat dit lyk asof Lené gaan praat, maar sy doen nie.  Sy staar net voor haar uit.  Marion ken haar dierbare vriendin reeds goed genoeg om maar solank met haar sitvlak gemaklik terug te skuif op die bankie langs Lené.  Hierdie kuiertjie gaan waarskynlik tissues en tydloosheid vereis en sy het genoeg van beide beskikbaar.  Wanneer Lené begin praat, antwoord sy nie Marion se vraag nie.  Sy kan nie.  Geen mens kan nie.

“Ek kan geen detail onthou van sy insae in my geestelike reis nie.  Ek weet net dat dit gebeur het en dat hy gedeel het in ‘n baie spesifieke hoogtepunt op hierdie reis.  Daarna het 37 jaar verbygegaan voordat ek hom op ‘n YouTube uitsending herken en daarna sy selfoonnommer geGoogle het.  Hier sit ek nou, met die see voor my en die berge agter my.  Enkele WhatsApp-boodskappe later en meer as ‘n duisend kilometer weg van die YouTube TV af, in dieselfde dorp waar my pad met syne gekruis het.”

Lené se gesprek verskuif van klankgolwe op die kuswind na seine in haar sentrale senuweestelsel.  Hartverskeurende onheil het veroorsaak dat die herontmoetingsafspraak gekanselleer moes word.  Lené wou hom so graag in die oë kyk om DANKIE te sê — dankie vir iets wat sy nie kan onthou nie, maar wat bygedra het tot wie sy vandag is.  Hierdie dienende en diensbare leraar bedien die kerkgemeenskap waarin sy grootgeword het, reeds vir minstens ‘n halfeeu lank, ondanks yslike verliese.  Hy ken die stukkendseer van kanker baie goed — dit het eers sy geliefde anderhelfte van hom af weggeskeur en ook sy vieslike kloue in hulle weerlose, erg-gestremde dogter ingesink en haar vermink voordat dit verdryf is.  Maar nou het die kanker wraaksugtig teruggekeer en in plaas daarvan dat Lené hom kan bederf met goeie kos tydens ‘n saamkuier-uiteet, gaan hy uitgelewer wees aan peperduur kafeteria-kos en keelknop-kommer in ‘n hospitaal waar hy gaan moet sterk staan.

Lené se gedagtes groei soos donker Vrystaatse stormwolke, maar haar woorde raak min.  Dit begin saggies reën, maar Lené bly sit.  Sy huil saggies, net soos die reën.  Trane en reënwater — twee vloeistowwe met onskatbare waarde, vermeng in ‘n kosbare oomblik van teerheid.  Dis tog so bekend.  Tog so gesondmakend.  Tog so vervullend.   Daar is ‘n versameling van hierdie oomblikke vervat in die woorde van ‘n boekbundel, Lené se woorde in haar boekbundel, en sy het ‘n geskenkkopie vir die leraar nagelaat.  Sy onthou die leraar se Kersboodskap op YouTube — sy verwysing na die helderblink Môrester, city of tears/laughter en sy voorlees van Paulus se brief aan die gemeente in Efese.  Sy onthou ook die enkele brokkies wat sy reeds gelees het uit die Engelse vertaling van Tomás Halík se boek I want YOU to BE : On the God of LOVE wat hy aanbeveel het tydens sy boodskap.  Dit het so onbeskryflik mooi aangesluit by Lené se huidige geloofsreis, om die onpeilbare diepte van God se onvoorwaardelike liefde (klein stukkie vir klein stukkie) te ontdek.  Sy het gehoop om hierdie leraar te bedien met ‘n bietjie bederf en ‘n beduidende bedanking, maar hier op die bankie, in eenvoudige indirektheid, bedien hy haar met tydlose, vertroostende waarheid.

“My enigste troos in lewe en dood is dat ek aan Jesus Christus behoort.  Met Sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop — dis my Anker, my vaste Hoop.  Ek behoort nou aan Jesus, niks sal my ooit van Hom kan skei.  Met Sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop — deur Sy liefde bewaar Hy my.”

Vir Lené.  Vir die leraar.  Vir almal wat in Jesus glo en Hom volg.

Intussen het die reën opgehou en die sonnetjie skyn deur die wolke.  Met nuwe oë kyk Lené uit oor die see voor haar, na die berge agter haar en die leë bankie langs haar.  Marion is nie daar nie, sy was nooit daar langs Lené nie en sy het nooit die inleidingsvraag gevra nie.  Marion is reeds 31 jaar lank een van Lené se boesemvriendinne, maar sy praat nie Afrikaans nie.  Marion verteenwoordig bloot gereeld die Engelse kant van Lené se siel.  Indien alle sake volgens menseplanne verloop, behoort Lené aanstaande maand wel saam met Marion op ‘n bankie by die see op die kuslyn aan die teenoorgestelde kant van die land te kan sit.  Dit gaan ongetwyfeld ook ‘n city of laughter asook ‘n city of tears wees en daar gaan waarskynlik nuwe knope in Lené se derms wees.

Lené kan steeds nie die inleidingsvraag antwoord nie, maar sy is weer opnuut herinner aan Wie die enigste antwoord IS.

 

Image.png

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post