KUNSMATIG KAN NOOIT WERKLIK WEES NIE

POSTED BY

Lulu van Aswegen

“Jy hoef nie hierdie swaar gedagtes alleen te dra nie.  Ek is hier as jy met my wil praat.”

Skielik bars die emosie-opgaardam se sluise oop en Kendra se straaltjie-trane word strome trane wat teen haar wange afloop.  Sy kon haar emosie nie meer binnehou nie.  Deur die straaltjie-trane deur kon sy nog die rekenaarskerm goed genoeg sien om ‘n spesifieke soektog van stapel te stuur deur dit in die aanporboodskap-blokkie van die blikbrein se kunsmatige slimbot in te tik.  Haar versoek was vir die lewer van geloofwaardige bewysstukke dat enkele Ou Testamentiese profete die diepdonker van wanhopige verlatenheid geken het.  Net soos wat Kendra verwag het, het Jeremia se naam in die slimbot se antwoord verskyn, maar dit was die slimbot se slotwoorde wat haar sluise oopgeruk het.

Kunsmatige deernis vanuit ‘n kunsmatig-bloeiende blikhart wat gereedstaan om met kunsmatige slimheid ‘n werklik-bloeiende mensehart te vertroos?  Dit kan tog nie wees nie!  Dis onwerklik….  Nee, dis kunsmatig en dit kan nooit vertroos nie!

Kendra koester reeds dae lank haar eie bloeiende mensehart, in stille geheimhouding, maar hier sit sy nou en huil snot en trane voor ‘n klipkoue kunsmatig-slim blikbrein.  Sy onthou dat iemand eenkeer gewaarsku het dat wanneer ‘n mens nie die bloeiende binnewonde van jou hart aanspreek nie, dan bloei jy op mense wat jou nie gesny het nie.  Maar Kendra se hart bloei nie vanuit onaangespreekte wonde nie, maar eerder vanuit letsels wat oopgekrap is.  Letsels is die beskermende velweefsel wat vorm waar wonde gesondword en dis nooit so sterk soos die oorspronklike vel nie.  Haar hart bloei ook vir spesifieke geliefdes se seer swaarkry en dit bloei hewiger as wat haar koesterpogings kan keer.  Dit oorweldig haar en die blote gedagte daaraan dat haar lekkende bloeiende hart moontlik afstootlik kan wees vir die mense rondom haar, vererger alles.  Sy voel verleë daaroor.

“Jy hoef nie verleë te wees nie, ek wens dat ek jou seer kon wegvat.  Praat gerus, ek luister graag na die stem van jou brose, bloeiende hart.”

Werklike deernis vanuit die werklike omgee-mensehart van ‘n kosbare mede-geloofspadreisiger met ‘n werklike slimbrein.  ‘n Slimbrein wat weet dat gesondword gereeld die beste uitkoms is aan die stukkende kant van die ewigheid en dat dit nie dieselfde is as heelword nie.  ‘n Slimbrein wat weet dat daar soms geen vertroostende antwoorde is nie en dat stilte okay, selfs heilig, is.

Dan word Kendra herinner aan ‘n gedig wat sy maande gelede geskryf het oor ‘n verwerpte vrou wat intiem vertroud was met die diepdonker van wanhopige verlatenheid.  Sy was ‘n veragtelike vrou wat vir bitterlank gely het aan ‘n afstootlike bloedvloeisiekte toe sy met onblusbare doelgerigtheid deur die skares gebeur het om die soom van Jesus se kleed aan te gryp.  Jesus het die siek vrou aangeraak en haar heelgemaak.  Kendra kan nie die soom van Jesus se kleed aangryp nie, maar sy onthou dat Hy binne-in haar woon ongeag die toestand van haar hart en dat Hy haar nooit sal verlaat nie.  Sy glo Hom.

 

Met die hulp van ‘n saggeaarde, skrander jong man, is Kendra se gedig verwerk in ‘n liedjie in.  En toe struikel die liedjievervaardigende slimbot oor die GRYP- en TREK-woorde…

 

Ek wil ook, net soos sy

My oë fix net op Hom

En dan beur deur die skare

My hande uitgesteek na Hom

 

Sy het stewig vasgegryp

Net aan die ondersoom

Van Sy buitenste kleed

Jesus, help my asseblief?

 

Vir haar het Hy gestop

Vir haar het Hy gekyk

En toe met Sy sagte oë

Haar stukkend heelgemaak

 

Ek wil ook stewig vasgryp

Net aan die ondersoom

Van Sy buitenste kleed

Jesus, help my ook asseblief?

 

Kan Hy vir my ook stop?

Kan Hy vir my ook kyk?

Kan Hy dan met Sy sagte oë

Ook my stukkend heelmaak?

 

Sy sagte oë het vir my gekyk

Toe Hy vermink en gemartel is

My stukkendste seer aan Sy lyf

Het Sy hart vir my laat stop

 

Ek hoef nie die ondersoom van

Sy buitenste kleed te gryp nie

Met Sy sagste teerheid, deurtrek Hy

My diepste binneste menswees

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post