Vertel deur ‘n ouma van twee seuntjies en amper vier dogtertjies in die een-en-twintigste eeu
Hebreeuse seuntjie,
gebore in ‘n tyd toe sy mense
in slawerny gedompel was en
hulle flukse bevolkingsgroei
die slawemeesters bedreig het.
Sy ma het hom weggesteek,
sy sussie het hom opgepas en
‘n prinses het hom aangeneem.
Grootgemaak as bevoorregte
seun van die Egiptiese Farao wat
al sy volksboeties uitgemoor het.
Sy naam was Moses en hy het
sy mense uit slawerny uit bevry.
Hebreeuse seuntjie,
gebore in die nageslag van
koning Dawid gedurende die
tyd toe sy bose, moordlustige
ouma die koningin van Juda was.
Sy was magsbefoeterd en het
amper daarin geslaag om elke
koninklike nasaat, haar eie kinders
en haar eie kleinkinders, uit te moor.
In die tempel, het sy tannie hom
weggesteek en sy oom hom geleer.
Sy naam was Jehoas en hy het die
koninklike nageslag weer herstel.
Hebreeuse seuntjie,
gebore in die stad van koning Dawid,
‘n nasaat van hom, gedurende die tyd
toe die Romeinse Ryk geheers het.
Joodse koning Herodes was so
bedreig deur die tyding van sy geboorte
dat hy al die babaseuntjies van sy
eie mense in die stad uitgemoor het.
Sy ma en aanneempa het, met hom,
na die veiligheid van Egipte gevlug.
Hy is die Seun van God, Jesus Christus
en Hy het Sy mense en die ganse mensdom
vrygekoop van sonde en ewige dood.
Ten spyte van al die sleg en seer aan
die stukkende kant van die ewigheid,
bly ons Lewende God goed en genadig.
Sy troue liefde ken geen einde nie.
Met eerbied en ontsag vir Hom, bly ons
vertrou op Hom, ons ewige Hoop om vir altyd
te lewe aan die volmaakte kant van ewigheid.
“Die Here verydel die raadsplanne van nasies, Hy dwarsboom die planne van volke. Die raadsplan van die Here bestaan vir ewig, die planne wat Hy bedink, van geslag tot geslag. Gelukkig is die nasie wie se God die Here is, die volk wat Hy as sy eiendom gekies het. Uit die hemel kyk die Here, Hy sien alle mense. Uit die plek waar Hy woon beskou Hy al die bewoners van die aarde, Hy wat elkeen van hulle se denke vorm, insig het in alles wat hulle doen. Geen koning word deur ‘n groot leër verlos nie; ‘n krygsheld red homself nie deur groot krag nie. ‘n Perd bied vals hoop vir oorwinning, deur sy groot krag kan hy nie bevry nie. Kyk, die Here hou sy oog op dié wat vir Hom ontsag het, op dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde, om hulle lewens van die dood te red en hulle aan die lewe te hou tydens hongersnood. Met ons hele wese wag ons op die Here; Hy is ons hulp en ons skild. Want oor Hom is ons harte verheug, ja, op sy •heilige Naam vertrou ons. Mag u troue liefde oor ons wees, Here, terwyl ons op U wag!” —Psalms 33:10-22 AFR20





Lulu, min aanhalings uit die Woord van die HERE het my al so diep geraak soos dié gedeelte uit Psalm 33 wat jy vandag hier uit die 2020 vertaling aanhaal. Ek gaan dit vir my kopieer vir tye wanneer so baie dinge buite beheer voel. Hoe perfek sluit hierdie seuntjie-gedig by Psalm 33: 10-22 aan! In ons kortsigtigheid, in ons eie onmag, dink ons soms: ”Ek kan dit nie hanteer nie!” Maar ons was nooit bedoel om ”dit” te hanteer nie. Ons was bestem om in afhanklike vertroue voor God te lewe. DANKIE hiervoor!
Dankie liewe Maretha. Ja, ons Lewende God, ons Hoop en ons Redder het Sy oë altyd op ons! ✝️