BREEK EN/OF STUKKEND?

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

Wanneer die seël van ‘n melkbottel of ‘n babakosbotteltjie geBREEK word, beteken dit noodwendig dat die bottels STUKKEND is? Nee, glad nie, dit beteken slegs dat, wanneer die seël geBREEK is, die binneproduk (melk of babakos) binne ‘n baie spesifieke tydperk gebruik moet word voordat dit bederf. Iets het geBREEK, maar niks is regtig STUKKEND nie.

 

Wanneer bogenoemde babakosbotteltjie egter van die spensrak afval op die teëlvloer en die glas BREEK, dan is die bottel STUKKEND. Die gevolglike gesondheidsgevaar wat stukkies glas vir ‘n baba se spysvertering inhou, vervang nou alle ander kommer met betrekking tot die seël en die binneproduk word dadelik heeltemal onbruikbaar.

 

BREEK kan dus bestaan sonder STUKKEND, maar kan STUKKEND bestaan sonder BREEK? Nee, want STUKKEND impliseer, by definisie, dat iets geBREEK het.

 

‘n Koffiebeker met ‘n geBREEKte oor, is STUKKEND, maar kan steeds gebruik word. Wanneer dieselfde koffiebeker se bekergedeelte geBREEK is, is dit steeds STUKKEND, maar dis ook onbruikbaar. Daar bestaan nie verskillende grade van BREEK nie, iets is óf geBREEK of nie. Daar bestaan egter grade van STUKKEND. Die koffiebeker met die geBREEKte oor is bietjie STUKKEND, maar die een met die geBREEKte bekergedeelte, is heeltemal STUKKEND.

 

Daar was onskatbare, onbeperkte vryheid in die tuin van Eden en daar was geen STUKKEND nie. Daar was slegs een beperking – moenie van daai een boom eet nie! Toe Adam en Eva al die vryheid prysgegee het om die einste een ding te doen wat hulle nie moes nie, toe BREEK hulle ‘n verbond met God. Onthou die seël in paragraaf 1? Die verbond wat Adam en Eva geBREEK het, is soos ‘n seël wat geBREEK is wat toe ‘n vervaldatum gebring het aan iets wat nooit bestem was om te bederf of STUKKEND te wees nie. Onbeperkte volmaaktheid word vervang met STUKKEND, die nuwe (beperkte) skaal waaraan alles van hier af, gemeet word.

 

Dis geen geheim dat ons in ‘n stukkende wêreld bly nie. Dit beteken dat alles rondom ons eintlik maar in een of ander toestand van STUKKEND verkeer. Vodacom/CellC/MTN is bietjie STUKKEND, maar Eskom is baie STUKKEND. Airlink is bietjie STUKKEND, maar SAA is heeltemal STUKKEND. Kool en piesangs maak bietjie STUKKEND, maar kondensmelk en pasteie maak baie STUKKEND. Strand se lug maak bietjie STUKKEND, maar Secunda se lug maak baie STUKKEND. Opbou en herstel is die teenvoeters vir BREEK, maar so dikwels is dit beduidend moeiliker en neem dit veel langer. Heeltemal STUKKEND is wanneer BREEK se skade onherstelbaar is.

 

Dit is ook so dat almal van ons in hierdie wêreld inkom met liggame wat, hoofsaaklik, aan die bietjie-kant van die STUKKEND-skaal is en dat wanneer ons liggame heeltemal STUKKEND is, ons sterf. Almal en alles op ons verganklike planeet het ‘n vervaldatum en daardie vervaldatum is ‘n veranderlike. Daar bestaan egter een groot uitsondering op die reël van algehele verganklikheid en dit is mensesiele. God se eie asem wat Hy in die mens ingeblaas het tydens die Skepping, is nie verganklik nie en daarom het elke mens (sonder uitsondering) ‘n siel wat nooit vergaan nie. Die BREEK in die tuin van Eden het veroorsaak dat gedurende ons lewensreis op aarde, ons siele ook onderwerp is aan die STUKKEND-skaal, maar dat dit nooit heeltemal STUKKEND kan word nie. Sterfte sluit verganklikheid af, met ander woorde daar bestaan nie meer ‘n liggaam nie. Die sterfling se siel behou nou ‘n volstrekte vorm van STUKKEND (daar is nie meer ‘n skaal nie) en maak die oorgang tussen verganklik en onverganklik (ewigheid). Hierdie siel se STUKKEND maak dit onversoenbaar met ‘n volmaakte, Heilige God en is uitgelewer aan ‘n ewigheid sonder God, wesenlik vir ewig blootgestel aan alles wat God nie is nie (boosheid, donker, haat, pyniging, ens.).

 

God se begeerte vir die mens (die kroon van Sy skepping) was nooit dat selfs ‘n enkele een van hulle ‘n ewigheid sonder Hom moes ingaan nie. Daarom, het Hy meer as tweeduisend jaar gelede Sy eie Seun gestuur sodat almal wat Hom aanneem as Verlosser, ondanks al die STUKKEND op die verganklike lewensreis, in die ewigheid met Hom versoen kan wees. Jesus Christus se menslike lewensreis het begin by die volmaakte plek voor die tuin-van-Eden-BREEK, die God-mens-eenwording van Sy maagdelike geboorte. As God in mensvorm, het Hy STUKKENDE mense aangeraak (genees, bevry, liefgehad, geleer, ens.), opgebou en herstel. Hy het elke graad van elke STUKKEND van elke mens op die hele STUKKEND-skaal op Homself geneem en toe Sy liggaam heeltemal STUKKEND was, het Hy ook gesterf en Sy STUKKENDE siel was uitgelewer aan die ewigheid van die boosste, donkerste duisternis. Maar Hy is God en Hy het uit die dood opgestaan, Hy het die donkerste duisternis oorwin deur Homself te gee om versoening tussen die onverganklike ewige verderf (sonder God) en die verganklike te bring. Sy STUKKENDE liggaam het doodgegaan en toe het Hy die STUKKEND in die donkerste duisternis agtergelaat en met ‘n verheerlikte liggaam teruggegaan na die verganklike toe om vir alle verganklike mense die enigste geleentheid te gee om in die ewigheid met God versoen te wees in die onbeperkte onverganklikheid.

 

Dis baie belangrik om te verstaan dat geen mens op sy/haar lewensreis kwytgeskeld is van STUKKEND nie. Jesus verlos ons ook nie noodwendig van die hierdie STUKKEND nie, Sy volmaakte verlossingswerk is ons grootste geskenk, om ons siele van ewige STUKKEND te verlos. Net voordat Hy die verganklike wêreld verlaat, belowe Hy dat Hy by ons sal wees tot aan die einde van tyd (die groot vervaldatum) en dan gee Hy ook Sy Gees om ons Trooster te wees. Net voordat Hy hierdie belofte aan ons maak, gee Hy ons opdrag om Sy verlossingsboodskap na alle nasies op aarde te vat en hulle te leer soos wat Hy ons leer. Hy vertrou gelowiges aan mekaar toe in geloofsfamilies, soos my kosbare Pellissier Gemeente. STUKKEND is onvermybaar en daar gaan tye kom wat dinge gebeur wat ons STUKKEND-skaal in die rooi gaan druk, maar ons het Jesus, Sy Gees en mekaar om weer die naald te laat saak na die bietjie-kant van die STUKKENDskaal.

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    Hoe absoluut waar in ons ondermaanse bestaan. ‘n ENORME onderwerp. En jy hanteer dit so diepsinnig en tog ook so bevatlik. Hou aan, LULU, hou aan met skryf. Jy seën my met wat jy skryf en van die HERE ontvang.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Maretha.

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post