MEER AS GOED GENOEG

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

Moet ek regtig altyd DUNNER, SLIMMER, MOOIER & BETER wees? Hoekom kan ek nie net MYSELF wees nie?

 

Liewe mede-gelowige girlfriend

 

Die goeie nuus is dat jy verdien om te belong in ‘n gemeenskap waar jy verseker net jouself hoef te wees! Laat my toe om met jou te deel hoekom my selfopgelegde kennerskap op hierdie gebied beduidend geloofwaardig is.

 

Ek sal geen eerste prys wen in enige kategorie van vrouwees nie. Die struggle is very real vir my en, ek vermoed, vir baie van julle ook. Selfs toe ek 41kg geweeg het (ja, ek val in die petite body type category), geen plooie of rekmerke of oumenskolle of haelduike gehad het en ek MENSA se toets met lof geslaag het, was ekself, in my eie oë, nooit dun genoeg of slim genoeg of mooi genoeg of goed genoeg nie. Nadat ek met die heel beste man op die planeet getroud is, het dit my steeds amper drie dekades (en iewers tussen 10 en 40kg) geneem om myself deur sy (hoogs waarderende) oë te sien. Nou is ek middeljarig, vierkantig in die menopouse, swaartekrag is regtig ‘n dogtertjiehond, maar ek het uiteindelik opgehou streef na, waarskynlik, die domste voorkomsdroom vir ‘n slim mens!

 

Ek hou nie van kook of bak of shop nie en as ek kon, sou ek met gemak ten minste 200km/h op die highway gery het. Ek is hardkoppig, uitgesproke en soms gaan soek ek ‘n fight as dinge te kalm voorkom. Ek is nie die tipiese prentjie van ‘n Afrikanervrou nie. Inteendeel, oor die jare heen, het verskeie goedbedoelende ouer dames (die meeste in die kerke waar ons ingeskakel het) dit op hulleself geneem om die onGoddellike weerstandigheid in my te tem. Ongelukkig is verskillende grade van stukkend die enigste gevolg daarvan om ‘n vreedsame gentle giant genius oorlog toe te stuur net omdat hy ‘n man is en ‘n warrior stil te maak net omdat sy ‘n vrou is. In Pellissier Gemeente, die gemeenskap waar ek belonging gevind het, kan ek myself wees, want ons leierskap is nie bedreig daardeur dat ek ‘n warrior is nie en hulle is nie beledigend teenoor my gentle giant genius man nie. Ek hoef nie, soos Mulan, myself te vermom as ‘n man nie en my man hoef nie sy kop in skaamte te hang omdat hy nie sy weerbarstige vrou inlyn kan bring nie. Ons “speel in die posisies waarvoor ons bestem is” en dit maak ons ‘n gesonde, great span – gelyk, maar nie dieselfde nie!

 

Ek kon ophou baklei teen onderdrukking toe ek, met waardigheid, soos ‘n eweknie verwelkom is en steeds behandel word. Toe ek uiteindelik hierdie waardigheid kon embrace en die woorde “JY IS MOOI NET SOOS JY IS” hoor van een van hierdie kosbare eweknieë, het dit my geliefde man se 30-jaar-oue woorde bevestig en ek kon ook ophou streef na die domste voorkomsdroom.

 

Ek is nou MYSELF en ek is nie net goed genoeg nie, ek is nodig in die gemeenskap waar ek belong. Wie is jy? Is jy reg om JOUSELF te wees? Ek het geen twyfel dat jy ook, soos ek, nie net goed genoeg is nie, maar ook nodig is in die gemeenskap waar jy belong.

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post