(BE)ROEP(ING)

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

‘n Timothy Johnson geïnspireerde kortverhaal

 

VRYWARING: HIERDIE VERHAAL IS FIKSIE. ALHOEWEL SOMMIGE VAN DIE KARAKTERS HIERIN VERVAT GEBASSEER IS OP WERKLIKE MENSE, IS ENIGE OOREENKOMS VAN DIE KARAKTERS MET WERKLIKE MENSE, BLOOT TOEVALLIG EN GLAD NIE VERTEENWOORDIGEND VAN ENIGE VORM VAN DIE WERKLIKHEID NIE.

 

Die formele deel van Alex en Jordan se sprokiestroue was verby, die toesprake is pas afgehandel, Mozart en Beethoven het plekgemaak vir vinniger popmusiek, die kroeg is oopgestel en daar heers ‘n partytjie-atmosfeer waar gaste hulle dors les terwyl hulle uitbundig lag en met opgewondenheid gesels.

 

Die middelste tafel aan die linkerkant van die dansvloer huisves ‘n groep van 8 mense, 4 paartjies in hulle vyftigerjare, almal ongeveer drie dekades lank getroud. Hoewel niemand mekaar geken het voor die troue nie, kuier almal reeds asof hulle mekaar al jare ken. Dave is die bruidegom, Alex, se oom aan sy pa se kant en hy en sy vrou, Anette, het nie heeltemal op dieselfde stasie by die troue opgedaag nie. Anette is nog taamlik vies vir hom omdat hulle laat was as gevolg van sy aandrang op die verkeerde rigtingaanwysings. Dave het al die ergste irritasie verdrink in twee en ‘n halwe biere en Anette se aandag is stewig gevestig op die gesprek tussen haar en Maggie. Maggie en Barry is goeie vriende van die bruid, Jordan, se ouers en het 2 landsgrense oorgesteek om die troue by te woon. Maggie en Anette vind gou aanklank by mekaar, want Maggie en Barry het net 75 sekondes voor Dave en Anette opgedaag en was ook laat. Nie as gevolg van verkeerde aanwysings nie, maar as gevolg van Barry se tydgestremde aandagafleibaarheid. Aan die oorkant van die tafel sit Faan en Elmarie en langs hulle sit Tim en Cherise. Faan en Alex se pa is al van laerskooldae af bevriend, maar Faan is besonder buierig, want hy baklei hard om die pyn van die vorige aand se verleentheid te verbloem. ‘n Mens is nie gemaak om op 51 ‘n Arabiersprong uit te voer sonder gevolge nie, maar Faan se mond is baie gladder as sy spiere, veral na ‘n hele paar kappe agter die blad op die negentiende putjie van die plaaslike gholfbaan. Elmarie is die stilste van almal, maar sy geniet die energie van die mense rondom hulle tafel en sy is veral ingenome met Cherise se warm, werklike belangstelling. Vir ‘n klein rukkie voel dit vir haar of sy kan ontsnap van haar voltydse beroep om in al Faan se behoeftes te voorsien en al sy buie te bestuur.

 

Teen die tyd dat Tim die tafel se derde bottel vonkelwyn oopgemaak het tydens die voorgereg en heildronke, het hy reeds, met belangstelling, geselsies aangeknoop met elkeen aan die tafel en het hy geweet dat Dave vir ‘n bekende konstruksiemaatskappy werk, dat Barry afgelê is deur ‘n staatsdepartement en noodgedwonge sy eie sake-onderneming moes begin en dat Faan op sy dag net een sleutelbeenbreek weg was van Springbokrugby. Die manne staan eenkant en reageer gunstig op Tim se belangstelling en was ook glad nie skaam om die vonkelwyn aan te vul met bier, brandewyn en rum terwyl die grappies en taal al hoe vuiler raak nie. Na ‘n paar kleurvolle gin cocktails het Anette en Maggie se laatkomirritasies heeltemal verdwyn, maar hulle afbrekende aanmerkings oor hulle mans was ook nie meer so saggies of subtiel nie. Elmarie en Cherise gesels lekker oor hulle kinders en Elmarie kry soveel waardering vir Cherise se verfrissende egtheid dat hulle sommer vroeg al telefoonnommers uitruil vir toekomstige kuiers. Teen die tyd dat almal hulle plekke aan tafel inneem vir die hoofmaaltyd, is die luim heeltemal ontspanne en niemand gee voor wat hulle nie is nie.

 

Net voor die nagereg bedien word, maak Faan ‘n aanmerking dat hy sommer beide sy en Elmarie se porsies nagereg sal eet. Hy vertel vir almal dat Elmarie “hopeloos te lekker Kersfees gehou het” en dat hy haar eintlik ‘n yslike guns doen. Barry en Dave lag uitbundig terwyl Tim die tafel verlaat om ‘n dringende telefoonoproep te antwoord. Teen die tyd dat Tim klaar gepraat en sy plek weer ingeneem het aan die tafel, het beide Barry en Dave bedaar. Dan kom die vraag wat die hele aand kan verander…. Faan gryp ‘n ongewillige Elmarie in ‘n stewige omhelsing bedoel om te lyk of “die held darem nog lief is vir sy oorgewig vroutjie”, hy kyk ewe selfvoldaan na Tim en vra:

 

“So, Tim, en wat doen jy vir ‘n lewe?”

 

Tyd staan stil vir Tim. Hy oorweeg sy opsies. Ondanks al die gevolge van etanol-geïnduseerde ingeperkte oordeelsvermoë (wat onder andere haat, rassisme, vernederende spot en verwaandheid ingesluit het, om maar net ‘n paar op te noem), het Tim reeds beduidende meegevoel ontwikkel vir die mense rondom die tafel. Hy weet dat net ‘n wonderwerk Faan en Elmarie se huwelik kan red, want binnekort verlaat hulle laatlammetjie die huis en kan Elmarie se weggesteekte bloukolle, vermoedelik, vir oulaas genees. Hy weet dat Dave ‘n vernietigende geheim van ontrouheid (en ‘n geheime selfoon met twyfelagtige subscriptions en kriptiese boodskappe op) probeer wegsteek van Anette en dat sy waarskynlik heeltemal onbewus daarvan is. Hy weet ook dat Barry en Maggie se hardkoppigheid die deurslaggewende rede is waarom hulle al 33 jaar lank vasbyt in ‘n middelmatige, onmerkwaardige huwelik en beslis ten minste nog 33 jaar sal vasbyt daaraan. Maggie is die bestendige bestuurder wat sekermaak dat alles werk en sy is ook die vredebewaarder met ‘n onverklaarbaar-indrukwekkende konflikhanteringsvermoë. Barry se verhouding met sy 3 volwasse kinders is onstabiel-wankelrig, maar dis te danke aan Maggie dat dit hoegenaamd bestaan. Benewens sy uitverkoopliefde vir sy geliefde Cherise en hulle twee volwasse kinders, is Tim ook ‘n gelisensieërde professionele jagter met ‘n voorliefde vir die buitelewe en beskik hy ook oor kundigheid in verskeie aspekte van sake-administrasie. MAAR Tim is geroep deur die Heer om stukkende mense lief te hê en te begelei op ‘n pad terug na Hom toe en gegrond op daardie gewaarwordingsherinnering, maak Tim sy besluit.

 

Met ‘n glimlag om sy mondhoeke en sagtheid in sy oë, kyk Tim reguit vir Faan en hy antwoord: “Ek is ‘n dominee by ‘n plaaslike gemeente.” Vir ‘n breukdeel van ‘n sekonde dreineer al die kleur uit die gesigte van Faan, Barry, Dave, Maggie en Anette. Dis asof daar ‘n onheilspellende stilte op die hele saal neergedaal het en die atmosfeer verander eensklaps van gemaklik na bedreigend-ongemaklik. Amper asof die bruidspaar se openingsdans onderbreek is toe die sanger verstik in sy eie spoeg, ondanks die feit dat die liedjie ‘n digitale playback vanaf Apple Music is. Skielik is alle grappies op ‘n stokkie en die manne tree op soos ouens wat hulle rugbytruie en -stewels teensinnig moes inruil vir tutu’s en pointe shoes. Faan grom-mompel iets was soos ‘n saamgestelde vloekwoord klink en verdwyn kroeg toe vir die res van die aand. Dave gooi ‘n duidelik-oordrewe handsein vir Anette, hulle groet vinnig en vertrek onmiddellik huistoe. Barry en Maggie het baie skielik hulle 3-dae-lange-stilswyeskermutseling gewelddadig verbreek en dit neem nie lank vir Barry om ontploffende opgeklitsheid te bereik nie. Hy gryp sy baadjie, down die inhoud van sy glas en storm uit. Maggie maak ‘n vinnige verleë verskoning en verlaat die onthaal haastig op ‘n drafstap agter Barry aan. Net Tim, Cherise en Elmarie is oor en hoewel die dansvloer pas oopgemaak het, was die partytjie verby. Elmarie is, soos altyd, taamlik verleë oor Faan se gedrag, maar sy is glad nie verbaas dat Tim ‘n dominee is nie. Inteendeel, vanuit die hoop, egtheid en liefdevolle deernis wat beide Tim en Cherise al die heelaand uitgestraal het, het Elmarie stil-stil ‘n lewensveranderende besluit gemaak.

 

Tydens sy preekbeurt die volgende oggend by die oggenderediens van die gemeente in die Suidelike voorstede van die provinsiale hoofstad waar hy die spanleier is, gebruik Tim sy ondervinding van die vorige aand by die troue om te illustreer dat gelowiges altyd deel is van God se Koninkryk, van kuier tot kerk tot werk en alles tussenin. Dit is nie die eerste keer dat Tim met sy gemeente deel hoe mense se egtheid skielik verdwyn wanneer hulle hoor dat hy ‘n dominee is nie. Dit is ook nie die eerste keer dat Tim nie sy eie kwesbaarheid, die seer van die skielike verwerping, wegsteek nie. Dit is egter die eerste keer dat Tim die stelling maak dat hy voorts liewer homself gaan voorstel as professionele jagter en nie dominee nie. Elmarie wéét dat sy vanoggend daar is omdat Tim gesê het dat hy ‘n dominee is. Elmarie sou nie daar gewees het as Tim gesê het dat hy ‘n jagter is nie. Sy bid saggies dat hy altyd eerste ‘n dominee sal wees en dan druk sy haar tienerdogter, Elmien, langs haar, se hand styf vas terwyl sy liefdevol vir haar glimlag. Elmien glimlag versigtig terug. Sy is bang en sy is onseker, maar sy smag so desperaat na dieselfde hoop as waarmee haar ma die vorige aand tuisgekom het na die troue.

 

“Wat is jou antwoord, Elmien?” Die pragtige fyngeboude bruid se ogies blink met aansteeklike opgewondenheid en haar antwoord kan, sonder ‘n mikrofoon, baie duidelik tot heelagter in die saal gehoor word! “JA!” Tim vee die trane uit sy oë uit sonder enige skaamte. Voor hom staan sy seun en sy nuwe dogter en hy het vandag nie net die voorreg om hierdie stralende paartjie in die eg te verbind nie, maar hy het ook saam met die bruid ingeloop. Hy onthou, met toegeneendheid, hoe hy sewe en twintig jaar tevore self Lourens se naelstring afgeknyp het met ‘n wasgoedpennetjie en met ‘n knipmes losgesny toe hy op 37 weke vroeggebore is tydens ‘n wildtuinvakansie. Dit was onmiddellik liefde-met-eerste-oogopslag. Dan onthou hy ook, met hartseer deernis, hoe hy tien jaar tevore ‘n verskrikte 16-jarige Elmien styf vasgehou het net nadat sy op haar pa se lyk, in sy werkskamer, afgekom het. Hoewel Faan etlike maande voor sy massiewe hartaanval sy lewe op ‘n merkwaardig-nederige wyse teruggedraai het na God en sy geliefdes toe, het sy hart en omliggende bloedvate ongelukkig reeds ‘n noodlottige rekord van sy verslawingslewe opgebou. Na daardie aand by die troue waar Faan uitgevind het dat Tim ‘n dominee is, sou dit slegs nog ‘n paar vloekende vloermoere en een linkerhaakhou neem voordat Faan uiteindelik Tim se egtheid kon embrace en sy lewe sou oorgee aan Jesus. Tim se regterkaak raak steeds gevoelig, veral wanneer die weer koud draai buite en vanaand is geen uitsondering nie. Dit is immers skemer op ‘n koue Herfsaand, maar met sy hand op sy kakebeen, sien Tim in sy geestesoog hoe Jesus, met Sy arms om Faan, sy oë oopmaak sodat hy kan sien wat Tim sien. Die trane in Faan se oë skitter met liefde, trots en dankbaarheid. Tim voltrek die seremonie en stel Meneer en Mevrou Johnson, sy seun en sy skoondogter, voor aan die gaste. Dan onthou hy dat, in die afwesigheid van ‘n gepaste Afrikaanse verwerking, hy nou Elmien se father-in-love en sy sy daughter-in-love is. Tim se gemoed is vol en wanneer Mevrou Johnson senior, sy geliefde Cherise, by hom aansluit en haar arms rondom hom vou, beleef hy volmaakte dankbaarheid in die oorweldigendste vorm.

 

Die voorste tafel aan die regterkant van die dansvloer huisves ‘n groepie middeljarige gaste. Onder hulle is Tim, Cherise & Elmarie. Elmarie is nie stil en teruggetrokke nie. Lourens en Elmien het haar gevra om seremoniemeester te wees. Almal luister met aandagtigheid wanneer Elmarie haar (en Elmien) se storie vertel en haar warm egtheid is aansteeklik. Tim luister ook. Tim IS ‘n dominee en al tree hy amptelik binnekort uit die voltydse beroep uit, sal hy ALTYD ‘n dominee wees, want dit is sy roeping!

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post