IEWERS TUSSEN TJOMMEL EN DIE TROFEE

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

“Aggenee vrek, my senuwees sal dit mos nooit hou met die getjommel nie!” ‘n Erg-opgeklitste Lilo praat so hard dat die reeds-slapende Wynand langs haar skielik wakkerskrik en wonder waar die volgende vervlakste reënspinnekop met ‘n doodswens is. Geen reënspinnekop in sig nie. Nie net is daar net minder as 10 minute se speeltyd oor nie, maar die onnodige aanslaan op ‘n kritieke oomblik kan straks daartoe lei dat die ses-punte-agterstand sodanig rek dat dit die laaste spyker kan inslaan in die doodskis van hoop vir die verdedigende kampioene om tot die halfeindrondte deur te dring. Die Bokke benodig 6 punte om gelykop te wees en 7 punte om voor te wees. Gelukkig, wonder bo wonder, vanuit die aard van onvoorspelbare en onwrikbare veerkragtigheid vasgelê in die unieke Suid-Afrikaanse DNS, ruk die manne in groen en goud ‘n haas uit die hoed en wen die wedstryd met ‘n enkele punt. Die Bokke huil. Die Hane huil. Lilo huil. Net ‘n week later, in die doodsnikke van die halfeindstryd teen Engeland blyk dit asof die Bokke hulle tjommelkuns vervolmaak het. Lilo se opgeklitsheid bars oop soos die vulkaan onder Yellowstone in die fliek 2012 sodanig so dat haar Apple Watch twee waarskuwings uitstuur. Die eerste waarsku van ‘n kommerwekkende hoë harttempo en die tweede van gehoorbeskadigende geraasvlakke. Die outeur van hierdie storie kan egter nie Lilo se uitlatings publiseer nie, dis nie geskik vir alle ouderdomme nie. Weer skrik Wynand wakker en weer is daar geen reënspinnekop in sig nie. Die Bokke vermag weereens die bykans onmoontlike en wen die wedstryd met ‘n enkele punt. Die Bokke huil, weer. Die Rose huil. Lilo huil, weer.

 

Die Bokke het hulle RWC2023 kwarteindstrydkragmeting gewen met ‘n eindtelling van 29 punte en Lilo wonder of die Franse Hane en die Engelse Rose ook in die laaste oomblikke van die wedstryde dalk ‘n bietjie gevoel het soos die Blou Bulle op Loftus in 2005 toe die Cheetahs die Curriebeker voor hulle neuse en uit hulle harte uit weggeruk het. Die Cheetahs het, ook met ‘n eindtelling van 29 punte, die Curriebeker daardie jaar omhooggehou vir die eerste keer in 29 jaar. Lilo onthou dit goed, want enkele maande voor die Loftuskragmeting, het Lilo by ‘n verjaardaggeleentheid van ‘n vriend in KZN, met ‘n mikrofoon voor ‘n skare Sharks-ondersteuners “voorspel” dat die Cheetahs die Curriebeker gaan wen. Lilo het daai dag eintlik net gepoke, maar haar woorde het waar geword en ongeveer 29 maande later kry sy dit reg, met haar eie verjaardagpartytjie, dat haar Sharks-vriende almal Cheetah-truie dra op die hoofpawiljoen van die Vrystaatstadion vir nog ‘n Curriebekereindstryd. Die Cheetahs wen weer en die Bokke (RWC2007-kampioene) is ook daar om te spog met die William Webb Ellis trofee.

 

Op die vooraand van die RWC2023 eindstryd waar die Bokke teen die All Blacks gaan speel, loop Bokkoors besonder hoog in Lilo se mooi land. Saam met ongeveer 60 miljoen ander sonskynreënboog-landsgenote hoop Lilo, met elke molekule binne-in haar, dat Siya en die Bokspan môreaand sal wen om sodoende die eerste span te word wat die William Webb Ellis trofee ‘n vierde keer omhoog lig. Demokratiese Suid-Afrika is 29 jaar oud en volgende jaar, sal dit 29 jaar gelede wees wat die Bokke hulle eerste wêreldbeker gewen het. Lilo kan eenvoudig nie die herhaalde voorkoms van die nommer 29 miskyk nie. Die RWC2023 titel sal ongetwyfeld ‘n feestelike gesindheid van versoenende eenheid bewerkstellig onder Suid-Afrikaners van oraloor. As die Bokke wen, dan wen die HELE span, nie net die enkele spelers wat punte aanteken (soos Pollie) of presteer (soos Ox) nie. Lilo glo dat die spelers in Suid-Afrika se demokrasie by die Bokke kan leer om soos ‘n span SAAM te speel. Gedurende die afgelope 29 jaar was daar nog nie ‘n enkele werklike demokratiese oorwinning nie, ALMAL het verloor, want die “span” was opgemaak uit eiesinnige, hardkoppige enkelmensspannetjies wat tjommel-tjommel TEEN mekaar gespeel het. Lilo hoop en bid dat ‘n Bokoorwinning nie net sal aanleiding gee tot feestelike versoening nie, maar eerder ‘n permanente nasieboudoelstelling sodat die hele reënboognasie ‘n 29-jaar-demokratiese-wendroogte kan uitwis net soos die Cheetahs in 2005 hulle 29-jaar-Curriebeker-wendroogte uitgewis het. Lilo is reeds oortuig daarvan dat die nommer 29 beslis verband hou met versoenende verandering en, diep in haar hart, hoop sy dat die Bokke môre wen met ‘n eindtelling van 29 punte. Mag die hele Boknasie werklik versoen, ongeag môre se telling of trofeetoekenning! GO BOKKE!

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    So baie waarhede! Ek het vandag voertuie sien verbyry, wapperende Springbokvlae, toeterend en trou. En ek het bewoë geraak. ‘n Naweek van aanmoeding vir ONS rugbyspan, ver in Frankryk, waar gewone mensies dalk nooit sal kom nie. TROTS in die harte van gewone mense. Bemoediging, omgee, gesprekke oor ONS SPAN. Sulke troue patriotisme waar geen lid van die span hulle sien nie. Soveel beplanning, soveel van hulleself… en daar ver in Frankryk weet ons manne dit nie eens nie. Mag elkeen wat so ”onsigbaar vir die span” sy of haar alles gee, geseënd wees. Pragtige stuk, LULU! Dankie.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Maretha.

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post