DIE LIG VAN LIEFDE TROEF DIE LEED VAN LIEFDELOOSHEID

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

‘n Timothy Johnson geïnspireerde kortverhaal

 

VRYWARING: HIERDIE VERHAAL IS FIKSIE. ALHOEWEL SOMMIGE VAN DIE KARAKTERS HIERIN VERVAT GEBASSEER IS OP WERKLIKE MENSE, IS ENIGE OOREENKOMS VAN DIE KARAKTERS MET WERKLIKE MENSE, BLOOT TOEVALLIG EN GLAD NIE VERTEENWOORDIGEND VAN ENIGE VORM VAN DIE WERKLIKHEID NIE.

 

 

“Dominee Johnson, dis Suster Meyer by die trauma-eenheid van Heuwelkruin Kliniek. Is Danelle Johnson-Phillips jou dogter?” Tim voel hoe al die bloed uit sy gesig uit dreineer na sy hart toe waar dit ‘n oorverdowende interne alarm trip wat sy bloed so vinnig laat pomp dat hy oortuig is daarvan dat sy borskas gaan ontplof. And you know that I’m gonna be the one who’ll be there. When you need someone to depend upon. When tomorrow comes. Nog voordat Eurythmics die laaste sin ‘n tweede keer sing, skrik Tim wakker. Dis 04:31 en die begin van ‘n splinternuwe dag. Soos elke oggend die afgelope paar maande, dink hy, met groot irritasie, dat hy tog sy wekkerliedjie op sy nuwe iPhone moet verander na iets meer deugsaam. Hoewel hy die musiek van Eurythmics waardeer vir al die wonderlike herinneringe van die verlede wat dit meebring, was hierdie liedjiekeuse vir sy oggendwekker bloot ‘n vingerfout-ongelukkie. Dan onthou Tim die woorde van die Bybelse profeet Jeremia in die derde hoofstuk van sy klaagliedere….die troue liefde en ontferming van die Here ken geen einde nie en hy, wat Tim is, ontvang dit elke oggend weer opnuut. Sy dogter, Danelle, en haar nuwe bruidegom, Jack, het nie omgekom in ‘n katastrofies-noodlottige motorongeluk nie. Daar was geen ongeluk nie, dit was net dieselfde indringerige nagmerrie wat homself weer so ongenooid herhaal het nadat dit vir jarelank afwesig was.

 

Die vroegoggend-nagmerrie het aanvanklik taamlik aan Tim se sielshok geskud, veral op sy preekbeurt-Sondag. Nog voordat hy om 06:00 by sy studeerkamer instap vir sy preektoewydingstyd, weerklink twee boodskappe gelyktydig op sy foon. Die vreemdheid daarvan laat hom frons, maar hy maak sy WhatsApp oop en sien dat daar, inderdaad, twee boodskappe is. Een van sy dogter en een van sy skoondogter af. Dan hoor hy Cherise se blydskapskrete in die gang af en WEET hy dat Danelle en Elmien versigtig saamgespan het vir hierdie vreugdevolle, saamgestelde lokval. Beide boodskappe het dieselfde gelukwensingsboodskap onderaan twee sonarfototjies wat elk net ‘n borrel met ‘n groterige kolletjie binne-in wys. Baie geluk, liewe nuwe Oupa en Ouma, julle is die spesiale ontvangers van twee gelyktydige eerste kere! Twee swangerskappe (5 en 6 weke onderskeidelik). Dubbelvreugde. Ongekende seën. Ses-en-sewentig minute later staan Tim voor sy geliefde gemeente, die groep kosbare lidmate wat die Heer aan hom en sy kollegas toevertrou het. Soos altyd is dit vir hom ‘n onbeskryflike voorreg om homself, sy unieke menswees, heelhartig beskikbaar te stel sodat die Heer, deur hom, met Sy kinders kan praat. Vandag preek hy oor die brief aan die gemeente in Efese, soos vervat in die Bybelboek Openbaring. Hierdie gemeente word geprys vir verskeie suksesse. Daar word genoem van hulle merkwaardige inspanning om te volhard in goeie dade. Daar word genoem van hulle uithouvermoë sonder om moeg te word. En daar word genoem dat hulle leuens en boosheid verafsku het. MAAR HIERDIE MENSE SE LIEFDE HET KOUD GEWORD EN DIT HET HULLE LIEFDELOOS GEMAAK. Tim beklemtoon sy woorde duidelik en kalm, maar tog met ‘n ernstige dringendheid wat aanhou talm selfs toe sy stem stil word vir ‘n gewyde oomblik. Sy kop is vooroor gebuig en sy oë is toe, maar toe hy opkyk, sien hy dadelik die man en vrou in die agterste ry van die middelste blok. Hulle oogkontak met mekaar is doelgerig-geslote en, hoewel dit slegs etlike sekondes duur, staan die tyd onverklaarbaar stil vir Tim. Tim onthou sy eerste ontmoeting met Fin en Desi baie goed, dit was net meer as dertien jaar gelede.

 

Dit gebeur op die vooraand van ‘n yslike brandstofprysverhoging en dieselfde aand wat tamaai haelkorrels uit ‘n wilde donderstorm, in die doodsnikke van die Herfs, weer groot verwoesting gesaai het in die stad se Suidelike voorstede. Met Tim se aankoms by die vulstasie blyk dit asof die hele stad besluit het om op dieselfde tyd by dieselfde vulstasie op te daag en hy val toe maar geduldig by die kortste ry in. Voor hom is 4 karre en toe die eerste 3 spoedig volmaak en vertrek, voel dit vir hom asof stukkies van sy opgekropte frustrasies begin wegsmelt. Sy dag was vol frustrasies. Minder as ‘n uur tevore het ‘n 45-minute wolkbreuk 113mm reën laat neerkom wat hulle mooi, nuwe tuinwoonstel heeltemal oorstroom het. Sy twee-uurlange sagmoedige poging tot versoening met ‘n sensasie-soekende koerantjoernalis, op die punt om met sy eensydige publikasies kwesbare mense uit te byt, was vrugteloos. Rassespanning in die plaaslike gemeenskap is gevaarlik naby aan breekpunt en Tim se gentle voice of reason val op dowe ore. Ongelukkig is die gevoel van wegsmeltende frustrasie egter van korte duur, want teen die tyd dat die strandkewerkarretjie, voor hom, langs die pomp intrek, bel sy geliefde Cherise om hom mee te deel dat Neelsie skoonveld is en die huis se krag af is nadat sy ‘n vreemde klapgeluid gehoor het toe sy die oond aangeskakel het. Neelsie is hulle nuwe rescue-hondjie, die oulikste canis mongrelis, wat so bang is vir donderweer dat hy, met sy kort beentjies, onverklaarbaar oor ‘n sesvoetmuur kan spring. Tim stel vir Cherise gerus, bied aan om ‘n wegneemete huistoe te bring en toe hy aflui, voel hy skielik hoe die laaste bietjie geduld hom verlaat soos die laaste bietjie sand in die boonste gedeelte van ‘n uurglas na onder val. Terwyl hy met Cherise op die foon gesels, besef Tim dat, vanuit die onderonsie met die joggie, die bestuurder van die strandkewerkarretjie nie genoeg geld het om te betaal vir sy voltenk brandstof nie en dat hy boonop ook nie die pikante (duidelik onpadwaardige) voertuigie weer aan die gang kan kry om dit, uit die pad uit, te verskuif na ‘n parkeerplek nie. Tim voel soos ‘n reuse styfgespande snaar wat al hoe stywer getrek word. Sy gebalde vuiste is so stewig saamgetrek dat dit lyk asof die beenknoppies van sy kneukels enige oomblik deur die spierwitvel gaan skeur. Elke spier in sy lyf word oorgehaal met woede-energie en toe die mannekyn-mamma-innie-splinternuwe-CaravelleTDi agter hom skielik vloermoer-epilepsie ontwikkel en haar spastiese ledemate ‘n grand mal toeterspasma-toeval veroorsaak terwyl haar bussie se kopligte soos ‘n wafferse disco flikker, storm Tim op die strandkewerkarretjie af soos ‘n uitbarstende vulkaan se supersoniese vuurstormwolk.

 

Tim se woede het wel verterend-warm gebrand, amper soos die witwarm blouvlam op die kop van die karakter Hades in die Disneyfliek Hercules. Maar die toneel wat hom begroet toe hy die strandkewerkarretjie bereik, het omtrent dieselfde effek op Tim as wat die vrygelate Ice Titan, Hydros op Hades gehad het. Soos Hades se vlam, is Tim se woede onmiddellik gekitsvries. Voor hom sit twee huilende mense in ‘n omhelsing binne-in ‘n stukkende strandkewerkarretjie. Hulle is papnat, vernederd-verleë en hulle bewe van die snerpende, na-storm, winter-inleidende koue. ‘n Oorweldigende vlaag van ingrypende splagchnizomai* ruk deur Tim se binneste soos ‘n weerligstraal en, sonder dat Fin en Desi ‘n woord praat, VOEL Tim hulle desperaatheid aan asof dit sy eie is. Selfs die heellaaste dampe van hulle terugveggees het reeds verdamp. Tim betaal daardie aand vir ‘n voltenk brandstof en ‘n groot pizza, maar hy ry terug huistoe sonder die pizza. Dis donker en dis koud. Tim se kar se brandstoftenk is dolleeg, maar sy hart is warm en vol LIEFDE. Selfs met al sy Teologiese geleerdheid, kan hy nie verduidelik wat hy in sy hart voel nie. Hy WEET wel dat niks hiervan mensgemaak is nie en dat die suiwer egtheid daarvan hemels-kosbaar is. Is dit hoe Jesus oor mense voel, is dit hoe Hy hulle LIEFhet? Hy en Cherise eet daardie aand koue oorskiet-skoolpannekoek. In die dae wat volg, lyk sake maar bleek vir Tim en Cherise. Hulle beste pogings om vir Neelsie op te spoor, misluk. Dit neem die munisipaliteit 62 uur om die elektrisiteitstoevoer na hulle huis toe te herstel. Die herstelwerk aan die tuinwoonstel, wat hulle so graag gratis beskikbaar wil stel aan ‘n behoeftige student, beloop veel meer as hulle gesamentlike salarisbonusse en dit lei daartoe dat hulle, uiteindelik, hulle Kaapse Kersvakansie saam met hulle kinders verruil vir ‘n binnelandse, plaaslike tuinroete-toer met JanTuisbly se karretjie. Fin en Desi ry daardie koue aand met ‘n voltenk brandstof in die geleende, stukkende strandkewerkarretjie weg. Hulle is koud en nat, maar op Desi se skoot is ‘n warm pizza en in hulle harte brand ‘n nuwe vlam van hoop en herstelde menswaardigheid. Desi WEET dat Jesus daardie aand vir ‘n klein rukkie weer mensgeword het om, deur Tim, vir hulle te wys hoe Hy oor hulle VOEL en hoe LIEF Hy vir hulle is. Soos vir Tim en Cherise, lyk die maande en selfs jare wat volg, selfs ‘n tikkie donkerder en bleker vir Fin en Desi. Die geleende stukkende strandkewerkarretjie moet teruggaan na sy regmatige eienaar toe en dan het hulle, wat voorheen duur Duitse karre besit het, geen voertuig om mee te ry nie. Die enigste ou skedonkie wat aan hulle behoort, is ‘n bakkie wat reeds maande lank, onbruikbaar, onder die groot boom in die voortuin staan. Daar is ‘n yslike gat in die enjin, veroorsaak deur ‘n onbekende padprojektiel op die N1 (Noord) net duskant Verkeerdevlei, en hulle kan nie die herstelwerk bekostig nie. Hulle moet oorleef binne-in ‘n maalkolk van verwurgtend-toenemende skuld en kwynende inkomste wat uiteindelik bykans heeltemal opdroog. Daar hang ‘n vlymskerp swaard van dreigende tronkstraf vir agterstallige inkomstebelasting oor hulle koppe. Hulle moet, vanuit die puin waar die vorige sakeryk eers geplunder en toe verwoestend uitgewis is, ‘n nuwe sakeryk oprig en uitbou.

 

Oor ‘n tydperk van dertien jaar word ‘n asemrowende nuwe storie begin skryf. ‘n Storie oor hoe die LIG van LIEFDE die stukkend-seer-leed van liefdeloosheid gesondmaak. Dit begin by die opruimingsproses van ALLE puin en is noodsaaklik voordat enigiets nuuts opgerig en uitgebou kan word. Dit geld vir alles, van sakeryke tot verhoudings. Maar om op te ruim is ook seer en dikwels is dit net so seer soos die oorspronklike seer van die verwoesting. Almal van ons bly in ‘n stukkende wêreld waar die liefdelose handelinge van mense ons seermaak. Vals teologieë bring vals, mensgemaakte, ononderhoubare liefde mee wat, uiteindelik, ALTYD koud word. Selfsug. Gierigheid. Haat. Wellus. Hoogmoed. Jaloesie. Woede. Oneerlikheid. Seer mense maak mense seer. Liefdeloosheid verwek nog liefdeloosheid. Koud, hard en donker. Hierdie nuwe storie begin op ‘n koue, nat en donker aand toe Jesus ingegryp het. Hy het geweet dat Fin en Desi Hom altyd sal dien ongeag van omstandighede, maar dat hulle vuisvoosdoodmoeg was en dat liefdeloosheid, in enige vorm, op daardie laagste laagtepunt noodlottig kon wees. Hy het ook geweet dat alles daardie dag ongewoon sleg uitgedraai het vir Tim en dat sy breekpuntwoede ten minste grootliks geregverdig kon word. Hy begin deur vir Tim die vermoë te gee om vir Fin en Desi deur Sy oë te sien en dan vul Hy Tim se hart met Sy LIEFDE sodat Tim VOEL wat hulle VOEL. Fin en Desi SIEN daardie aand vir Jesus in Tim se LIEFDEvolle handelinge. LIEFDE connect hulle en hulle begin met mekaar saamreis. Koud begin warm word. Hard begin sag word. Donker begin LIG word. Stukkend-seer begin gesondword. LIEFDE vul hulle menseharte, SAAMgevoeg in ‘n kosbare vriendskap, sodat hulle mekaar innig LIEFkry, mekaar se harte VOEL en Jesus in mekaar kan SIEN. LIEFDE. Nie mensgemaak nie. Onverklaarbaar.

 

Tim is oorstelp van opgewondenheid om vir Fin en Desi daar agter te sien, want hulle was eintlik veronderstel om steeds ‘n kliënte-krisis te hanteer op ‘n uitgebreide internasionale sakereis. Hulle plekkie heelvoor in die preek-spoegzone van die kerk se ouditorium is reeds weke lank leeg en hy het juis met die aanvang van sy preek soontoe gekyk en nogal kwaai na hulle verlang. Met emosie-belaaide oorgawe vertel Tim vir sy gemeente dat liefdeloosheid mense onbeskryflik seer kan maak en dat liefdeloosheid dan juis die rede is waarom hierdie brief aan die mense van Efese geskryf word. Hy sluit sy preek af deur homself en almal voor hom te herinner daaraan dat Jesus ons Eerste LIEFDE is en dat NIKS meer belangrik is as om ons LIEFDEsverhouding met Hom te koester nie sodat ons mekaar kan LIEFhê soos wat Hy ons LIEFhet. Na die erediens, in die tuin voor die hoofingang van die ouditorium, is die blydskap van die hereniging van vier vriende so uitgelate aansteeklik, dat amper almal die kerkgronde verlaat met ‘n warm glimlag. Danksy moderne tegnologie, gesels Tim, Cherise, Desi en Fin gereeld met mekaar, maar hulle kan mekaar deesdae nie meer so gereeld sien nie. Fin en Desi se groeiende sakebelange neem hulle op gereelde sakereise dwarsoor die kontinent van Afrika en, as gevolg van onlangse opwindende verwikkelinge, nou ook Noord Amerika.

 

Daardie Sondagaand, net voordat Tim sy bedliggie afskakel, tel hy sy iPhone op met die bedoeling om sy wekkerliedjie te verander, maar ‘n skielike gedagte laat hom van plan verander. WHEN TOMORROW COMES van Eurythmics as opstaanwekkerliedjie in NIE ‘n vingerfout-ongelukkie nie. Saam met Jeremia se woorde oor God se oneindige goedheid, het hy, wat Tim is, ook nodig om herinner te word daaraan dat Jesus dieselfde hemels-kosbare LIEFDE soos wat hy op daardie koue aand 13 jaar gelede so tasbaar begin voel het, wat nie verklaar kan word of mensgemaak is nie, in die harte van spesifieke mense in sy lewe sit sodat (Tim will) know that (they) will be the one(s) who’ll be there when (he) need(s) someone to depend upon (and when he needs someone to have his back). Tim glimlag effe verleë omdat dit steeds soms so moeilik vir hom is om daardie mense toe te laat om Jesus vir hom te wees, maar ook met teer dankbaarheid dat hy steeds somtyds Jesus vir daardie selfde en ander mense mag wees. Dan skakel hy sy bedliggie af en, sonder enige nagmerries, droom hy daarvan om, soos Fin en Desi, saam met sy geliefde Cherise die trotse oupa en ouma van die oulikste kleinkinders in die hele wye wêreld te wees. Vervulling in volmaakte LIEFDE.

 

 

*Splagchnizomai is ‘n Griekse woord wat beteken “om medelye hê met”. Dit verwys na ‘n diep, dermknopende emosionele reaksie, dikwels gekenmerk deur ‘n sterk gevoel van medelye, liefde en deernis.

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    Hierdie, Lulu, is nou regtig ‘n voorbeeld van ‘n meesleurende Evangeliese kortverhaal. Eietyds, met ‘n hele klomp subtemas, waarvan Tim se gewoonheid as uitsonderlike, Geesvervulde Christen vir my een van die mooistes is. Na ‘n standaard soos hierdie moet elke Christenskrywer streef. skryf voort, Lulu! Want eintlik moet ons beter skryf as dié wat nog min erg aan Jesus Christus het. Ons sal nooit eens aan die some van die Bybelskrywers se lang rokke kan raak nie, maar daardie tydlose, vir ons onbereikbare standaard is presies waartoe die Heilige Gees hulle inspireer het.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Maretha.

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post