Pieter van der Merwe 19 Julie 1972 – 1 April 2024
”Ons weet tog dat wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het wat van God kom, ‘n ewige woning in die hemele, wat nie met hande gemaak is nie. En daarom sug ons, want ons verlang intens daarna om met ons woning vanuit die hemel beklee te word. Daarom is ons altyd vol moed, al weet ons dat, terwyl ons nog in die aardse liggaam woon, ons nie by die Here woon nie; want ons leef deur geloof, nie deur aanskoue nie. Ons bly egter vol moed, al verkies ons om eerder uit die liggaam te verhuis en by die Here te woon.“
2 Korinthiërs 5:1-2, 6-8 AFR20
Eggenoot. Seun. Skoonseun. Broer. Swaer. Brother-in-love. (Supercool) Oom. Oom-oupa. Hondepappa. Vriend. Merkwaardige mens. HY HET VERHUIS EN WOON NOU BY DIE HERE! Sy heengaan los ‘n reusagtige, yslike krater en om te sê dat ons hom gaan mis, is soos om te sê dat ‘n Harley Davidson maar net ‘n gewone motorfiets is en as daar nou een ou is wat weet hoe vêr dit van die waarheid af is, dan is dit hy.
Om hierdie stukkie te skryf, is sekerlik een van die moeilikstes wat ek nog gekryf het, want dit is so onbeskryflik bittersoet. Die lesers wat hom ken, sal heelhartig kan identifiseer hiermee en as ons almal van ons se Pietstories moet saamvoeg, sal dit ‘n reeks boeke moet beslaan, want anders sal dit die wêreld se dikste boek wees! Ek wil hom egter graag voorstel aan die lesers wat hom nie ken nie, sodat ook hulle kan verstaan net hoe merkwaardig hy werklik was. Perhaps I’m setting myself up for failure, but I’m going to go down swinging on this one! Here’s to you, Piet!
Liewe lesers, ek stel julle graag voor aan my swaer, Pieter van der Merwe. Die opvallendste kenmerk aan hom, was hoogs waarskynlik die feit dat hy letterlik die grootste mens in enige vertrek kon wees. Daar was so baie van hom dat gewone klerewinkels bloot misluk het daarin om klere te verkoop wat genoeg materiaal bevat het om die hele Piet te huisves. Ongelukkig is dit net hier waar die meeste mense ophou kyk het. Dis die groep small-minded mense wat ly aan indrukwekkende menswaardigheids- en respeksgestremdheid en oor mikroskopies-klein EQ’s beskik, wat gretig glimlag voor hom en sarkasties spot agter sy rug. Hulle aanvoeling vir gesonde menseverhoudings vergelyk met die van twee-en-‘n-halwe bakstene en hulle is die teikenmark vir die skoonbladsyboek THE ULTIMATE IDIOT’S GUIDE TO SUCCESSFUL WEIGHT LOSS – ALL YOU NEED TO KNOW, BY AN IDIOT FOR AN IDIOT. Moenie soos hulle wees nie! Piet se reuse gestalte het ‘n reuse hart met ‘n onblusbare lewenslus gehuisves. Sy gewone gesondheidsuitdagings was alreeds bo die meeste van ons se vuurmaakplek en ons behoort, genadiglik, daarvan gespaar te bly. Maar dit vergelyk nie eers met die vernietingsgraad van die oorlog wat hy in die laaste paar maande moes veg nie. Hy was intiem vertroud met die menswaardigheidsslagting wat diagnostiese- asook lewensreddende mediese prosedures kan meebring. Tot aan die einde, het hy verbete geveg en meer gatgeskop as wat hy ooit voor vereer sal word. Gisteroggend het sy reuse hart vir die heel laaste keer in die bokskryt geklim. DIE KLOK HET DIE EINDE VAN DIE KAMPIOEN SE GEVEG AANGEKONDIG, ONS REUS HET DIE EWIGE LEWE GEWEN!
Pietie, jy is verewig in die AssieTribe se onsigbare Hall of Fame. Jy het loshande die heel beste oxtail gemaak en jy het vir Assie aan Gran Turismo voorgestel wat hy, terloops, vandag nog speel. Ek onthou hoe julle twee in die Strand, op ons Kaapse vakansies, Microsoft Flight Simulator gespeel het. Ek onthou ook dat met die terugkeer van ons 2002 Kaapse kersvakansie, julle voor ons by ons huis aangekom het en toe maar by die swembad uitgespan het terwyl julle vir ons gewag het. Vierjarige Jack het langs jou op die rand gesit met sy voete innie water en besluit om, in alle erns, sy sorge met jou te bespreek. Hy het sy handjies innie lug gegooi en met al die erns wat hy met sy MasterJack-charm bymekaargeskraap kon kry, opgekyk na jou en gesê “You know, oom Pietie, everything that goes wrong here…..it’s all my fault! They blame me for everything!” Ek vermoed dat as hy op daardie stadium nie elke keer sy naam, onderaan sy kunswerke (met permanente ink) op kasdeure en mure, geteken het nie, hy dalk in minder moeilikheid sou wees. Oor ‘n klein bietjie meer as 6 maande van nou af, trou hy met sy beeldskone bruid, Megan. Sy het vir my en Annie saamgenooi na haar trourokpas vanoggend en dis pragtig prentjiemooi. Moenie worry nie, ek het heeltemal genoeg trane vir albei van ons. Jy het ons destyds met soveel gevoel vertel hoe tweejarige Annie reageer het toe jy en Tannie Let vir haar ‘n langbeenpop gekoop het en dit met, goedbedoeling, oorhandig het as ‘n Barbie. Annie het dit een kyk gegee en gesê “Dis nie ‘n Barbie nie! Barbie kom in ‘n boks, nie ‘n plastieksak nie!” Ek kon sien dat die parmantigheid van ‘n klein dogtertjie jou nogal geskok het, maar ek kon ook sien dat jou liefde vir haar gemaak het dat jy nie jou lag kon inhou nie. Sy was maar 3 maande oud op julle troue en het gelyk soos ‘n pienk cupcake in haar satyn partytjierokkie. Vandag is sy maande weg van haar dertigste verjaardag af, supermamma van 2 dogtertjies en jy sal altyd haar geliefde Oom Padda wees. In 2022 het ons twee groot parties gehad, eers het jy 50 geword en dae later is Jess getroud. Dis kosbare memories wat nooit uitgewis kan word nie al gaan jy die geboorte van haar eersteling, Stitch (troetelnaam), in Oktober nie in hierdie wêreld saam meemaak nie. Uit die hele AssieTribe, sal Ouboet dalk die heel beste kan identifiseer met die pad wat vir Let voorlê. Hy ken die wrede seer van die verlies van ‘n lewensmaat en ek weet dat dit hom diep raak dat sy Tannie Hartjie nou sonder Oom Padda in ‘n stukkende wêreld moet leef.
Ratanga Junction se MonkeyFalls moes eintlik SensationalSubmarineSplash geword het…. Dit was ‘n legendariese rit wat eintlik nooit moes gebeur het nie, weens die lewensgevaarlike veiligheidsrisiko wat dit ingehou het. Jy, Let, Assie en Makkie het besluit om die aap te tem en die rit aan te pak terwyl ek en my 4 kids op die toeskouerbrug ‘n goeie waarnemingsplekkie gaan uitgesoek het. Die toeskouerbrug is sekerlik maklik 40m in die lug bokant die adrenalien-belaaide hoogtepunt-pylvak van die hele rit. Amper soos die Niagara-waterval, is dit ‘n angswekkende tamaai-vertikale vryvalkanaal vanwaar die pretritwaaghalse se boomstompkarretjies een vir een van bo af “val” en hulle dan waarderende applous ontvang van die toeskouers op die brug. Aan die onderkant van die kanaal, word die pretritwaaghalse papnat gespat tot groot vermaak van die droë toeskouers bokant hulle. Eintlik moes die pretpark-amptenaar julle in twee boomstompkarretjies laat klim het, maar hy het nie en julle moes julleself in een karretjie inprop. Nadat ons reeds vir talle karretjies handegeklap het, het ons begin wonder of julle moed julle dalk begewe het. Toe spot Jack julle boomstompkarretjie en ons let op dat die beduidend anders beweeg as die ander, amper asof dit direk op die onderwaterspore loop en nie dryf nie. Dit was ook duidelik dat julle, anders as die ander, reeds water inneem soos ‘n pieperige ou skuitjie in ‘n wilde seestorm. Teen die tyd dat julle boomstompkarretjie veel stadiger rondom daardie laaste draai kom, was die kids reeds lankal in opgewonde gereedheid. THERE THEY ARE, IT IS THEIR TURN NOW! Ook heeltemal anders as die ander boomstompkarretjes, het magtige swaartekrag-guns op julle ingewerk en het julle Mach5-wegtrekspoed verskeie toeskouers op die brug na hulle asems laat snak. Saam met julle kom daar toe ook ‘n skouspelagtige vloedgolf. Jou pet het afgevlieg en Annie se bekommerde stemmetjie kon skaars gehoor word toe daai vloedgolf almal van ons op die toeskouerbrug tref soos ‘n brandweerslang se water ‘n brandende huis sal tref. Dit is die eerste en (ek vermoed) ook die laaste keer dat toeskouers op daardie brug so direk betrokke was by die waterpret. Julle het nie daardie dag waarderende applous van die brugtoeskouers ontvang nie, want die meeste mense was lam van die skok, die res was ticked off en almal was PAPNAT!
Ek sal altyd ons 2023 Desember-langnaweekkuiertjie koester. Jy kon ons volgende twee daughters-in-love Megan en Chanré ontmoet en, soos altyd, was jy die most amazing cheerleading games and entertainment captain. Ek het twee (tong-innie-kies) lesse geleer. Eerstens, ek sal nooit beer pong wen nie, al speel my opponent met sy voete terwyl hy geblinddoek is. Tweedens, my eie persoonlike jammerlike voorraad Stella Artois is nie genoeg om ‘n beer pong toernooi te onderhou nie. Maar kom ons sit, net vir ‘n oomblik, al die grappies op ‘n stokkie. Tussendeur al die klankgrensuitdagende AssieTribe-kuierenergie kon ek in jou oë ‘n ontstellende uitgemergel-moeg-moedelose-hartseer SIEN en VOEL. Ek het myself twee keer aan die slaap gehuil en toe ons groet net voor julle vertrek het, het my hart gekramp van benoudheid dat dit moontlik die laaste keer kan wees wat ons mekaar sien. Dit was inderdaad die laaste keer en ek sal nou wat wou gee om net weer deur jou geterg te word al het ek dit intens verpes.
Jy is die heel beste ding wat ooit met my kleinsussie gebeur het. Dankie dat jy so mooi na haar gekyk het. Sy gaan jou meer mis as wat ek ooit in woorde kan uitdruk (en, as ‘n skrywer, ek is flippen goed met woorde), want jy was die anderkant van haar wat nou weggeskeur is. Maar ek wil hê dat jy weet dat sy weer okay sal wees, ons sal mooi na haar kyk. Soos in die skrifgedeelte bo-aan, sal ons saam met haar stap sodat sy moed kan hou totdat haar tentwoning ook eendag afgeslaan gaan word en julle mekaar weer gaan sien.
So, in afsluiting van hierdie skrywe. Jy sal altyd my kleinsussie se hartlam wees. Marvel behoort ‘n held soos jy te skep en ‘n fliek te maak, want jy het ‘n veel groter stryd gestry as wat mense rondom jou ooit sal besef. WELGEDAAN! Jy het jou stryd dapperder gestry het as wat die meeste mense ooit van sal weet! Auf Wiedersehen. Con Te Partirò. Time to say goodbye, until we meet again. Ek salueer jou, liefste Pietie, my beloved brother-in-love. PS: Gee asseblief vir my beloved daugher-in-love, Carli, ‘n stywe drukkie van my af? xoxoxoxoxoxoxo






En so, Lulu, het jy ‘n stukkie lewe op aarde in woorde verewig. Die lewe van ‘n man wie se hart vir my groter klink as sy liggaam. Die lewe van ‘n man wat so geliefd was as wat net mense wat liefde uitgiet, kan wees. Saam met julle gesin en familie— intense, beminlike, Godvresende, merkwaardige mense— salueer Hennie en ek die lewe van Sulette se lewensmetgesel. En ons vra die Gewer van so ‘n lewe om julle almal te vertroos soos wat Hy alleen dit kan doen. HERE, dankie vir Pieter van der Merwe se lewe op aarde. En vir sy onverganklike lewe in en deur Jesus Christus. AMEN.
Dankie liewe Maretha. ❤️