‘n Timothy Johnson geïnspireerde kortverhaal
VRYWARING: HIERDIE VERHAAL IS FIKSIE. ALHOEWEL SOMMIGE VAN DIE KARAKTERS HIERIN VERVAT GEBASSEER IS OP WERKLIKE MENSE, IS ENIGE OOREENKOMS VAN DIE KARAKTERS MET WERKLIKE MENSE, BLOOT TOEVALLIG EN GLAD NIE VERTEENWOORDIGEND VAN ENIGE VORM VAN DIE WERKLIKHEID NIE.
Hy lê sekuur aan, sy asemhaling noukeurig beheersd en dan vuur hy die skoot af. Presies. Kolskoot. Bloedkolletjie-ingang tussen die oë, koeël binne-in die brein. Die bok ly nie. Dit is skielik. Dit is skoon. Net ‘n breukdeel van ‘n sekonde tussen lewe en dood.
Twee maande tevore tydens sy oggenderediens-preekbeurt, dra Timothy Johnson ‘n treffende boodskap, op ‘n vermaaklike wyse, oor aan sy geliefde gemeente. Sy twee gretige helpers is die vyfjarige Mikey en negejarige Rudie. Nadat die gemeente die twee seuntjies met applous verwelkom en aangemoedig het, oorhandig Tim aan elkeen ‘n KFC draairoomys op ‘n horinkie. Tim het die roomys uit ‘n blou staalkissie uitgehaal en dit was in dieselfde toestand as toe hy dit vroeër by KFC gekoop het. Die kissie ‘n gespesialiseerde, mobiele vrieskas met ‘n bestendige binnetemperatuur vêr onder vriespunt. Met die oorhandiging van die roomys fluister hy iets in die seuntjies se ore. Tim vra vir Rudie om sy roomys dadelik te eet, selfs terwyl hy die video op die grootskerm kyk. Tim vra vir Mikey om nie soos Rudie sy roomys dadelik te eet nie, maar eers die video op die grootskerm klaar te kyk voordat hy sy roomys eet. Die video is ‘n samestelling van al die hoogtepunte van die onlangse kinderkonsert. Tim kyk na die video terwyl hy beduidend dankbaar is dat, vir die doeleinde van sy preek, dit steeds so warm is in April. Rudie kyk na die video terwyl hy, met groot genot, sy roomys verorber. Mikey word so meegesleur deur die video dat hy heeltemal vergeet van die roomys in sy hand. Na die video klaargespeel het, kniel Tim voor Mikey wie se ogies steeds na die grootskerm staar. Hy sit sy een hand op Mikey se skouer en toe Mikey hom in sy oë kyk, wys hy met sy ander hand na die roomys in Mikey se hand. Mikey se roomys het intussen begin smelt tussen sy vingertjies deur tot waar dit op die grond, in ‘n plassie, gedrup het. Mikey eet dapper, maar die loperige gesmelte roomys wat intussen ook die horinkie gereduseer het tot ‘n papperige flap, maak sy ervaring veel moeiliker en morsiger as Rudie s’n. Tim gryp betyds in, net voordat Mikey sy elmboog wil lek en die papperige gemors dalk op sy kop kon beland. Hy hou ‘n plastieksak uit sodat Mikey die pappery daarin kan gooi en dan span die twee saam om met ‘n paar natlappies te verseker dat Mikey se hande en gesig darem skaflik skoon is. Tim bedank die twee seuntjies en voordat hulle die verhoog verlaat, oorhandig hy ‘n KFC geskenkbewys aan Mikey vir sy dapperheid.
Roomys is ‘n bevrore lekkerny, ‘n groot bederf op snikhete Somersdae. Tim glimlag terwyl hy die stelling maak, want hy hou self baie van ‘n lekker draairoomys. Soos wat die glimlag rondom sy mondhoeke wegsmelt, verskyn daar ‘n erns in sy oë en sy stem raak dringender. Rudie se roomys het hom bederf, maar Mikey se roomys het sy hele ervaring bederf. Roomys is eintlik ‘n taamlike kwesbare stof wat slegs sy inherente integriteit kan volhou onder baie spesifieke voorwaardelike toestande, in ‘n vrieskas met ‘n temperatuur vêr onder vriespunt. Gesmelte roomys is nie meer roomys nie. Selfs al sou Mikey se pappery teruggesit word in ‘n vrieskas, kan dit nooit weer die integriteit van draairoomys terugkry nie. As gelowiges is ons inherente geloofsintegriteit in ons Christus-identiteit en die volhoubaarheid van hierdie geloofsintegriteit, hang af van ‘n toegewyde verhouding en verbintenis met Jesus Christus. Soos ‘n draairoomys, is die menswees in ons geloofslewe eintlik baie kwesbaar. Verskillende aspekte van hierdie menswees gaan verseker soms smelt soos ‘n draairoomys en sodoende ons inherente geloofsintegriteit verraai. Net soos Mikey sy pappery kon weggooi in die plastieksak en wegstap met ‘n geskenkbewys vir ‘n nuwe vars roomys, het Jesus ons vrygekoop met Sy kruisdood (verteenwoordig deur die plastieksak waarin ons pappery gegooi word) en is Hy ons Geskenkbewys vir ‘n vars nuwe lewe. Ons rig elke dag ons oë op Hom, want Hy is die Voleinder van ons geloof, Sy ontferming ken geen einde nie en dis elke oggend splinternuut. Tim stap na die blou staalkissie en sleep dit tot voor die leerstoel voor hy op die stoel gaan sit. Daar is ‘n groot stuk teerheid in sy sagte stem, “Die skrywer van Spreuke herinner ons in hoofstuk 4 dat lewe ontspring vanuit ons harte en dat ons dit ernstiger moet bewaak en bewaar as enigiets anders. Daar kom tye wanneer die pappery-gemors van die lewe ons onderkry en ons, teensinnig, wegvoer uit ons gemaksones uit. Dis wanneer ons harte intensiewe versorging benodig.” Dan plaas hy sy hande bo-op die kissie terwyl hy oogkontak maak met soveel van die mense voor hom as wat hy kan. JOU HART IS KOSBAAR EN KWESBAAR, MAAK SEKER DAT DIT INTEGRITEIT BEHOU DEUR DIT IN DIE VEILIGSTE BEWARING VAN JESUS SE ONTFERMING TE PLAAS.
Tim se roeping is om spanleier-leraar van ‘n groot stedelike gemeente te wees en hy is met gewillige toewyding, uitverkoop aan daardie roeping. Die Heer het hom geseën met ‘n besondere teer hart vir die seer van stukkende mense. Beide die diepte en drakrag van sy hart kan nie menslik verklaar word nie. Maar soos met alle mensweesdinge duskant die ewigheidsgrens, het dit perke. Daar kom tye wanneer diep te diep en swaar te swaar raak. Dis wanneer die spreekwoordelike draairoomys van Tim se roeping begin smelt. Oor die jare heen het hy geleer om dit getrou te bestuur sodat dit nie meer ‘n papperige gemors word nie. Van die moeilikste lesse wat Tim moes leer was dat, ten spyte daarvan dat hy geroep is om ‘n dominee te wees, hy nie ‘n enkele ander mens se pappery gemors kan keer, bestuur of hulle harte kan bewaar nie. Hy kan mense net liefhê en begelei op ‘n pad om dit self te doen terwyl hy ‘n navolgenswaardige voorbeeld stel met sy eie lewe. Hier in die veld, vêr weg uit die stad uit, word sy kwesbare hart intensief versorg deur ‘n liefdevolle Skepper in die eenvoud van die natuur. ‘n Wonderlike wêreld waar tegnologie oorbodig is en vars lug oorvloedig beskikbaar is. Waar tyd deur die Skepperson aangedui word en nie deur ‘n smart watch nie. Waar hy die voorreg het om die grens tussen lewe en dood deur die visier van ‘n jaggeweer te aanskou. Daar vind hy weer die Bron van nuutgemaakte lewe sodat die spreekwoordelike draairoomys van sy roeping weer nuut, varsbevrore word en hy seer mense kan bedien in ‘n stukkende wêreld. ‘n Wêreld waar geen mens die grens tussen lewe en dood kan sien nie. ‘n Wêreld waar die Enigste Jagter sy jaggeweer vervang het met ‘n houtkruis en die visier aan Sy kinders gegee het sodat hulle Hom altyd kan sien.
Aan die einde van sy down time, oppad terug stad toe, stop Tim altyd by ‘n KFC in een van die dorpies op sy roete. Daar koop hy ‘n draairoomys en hy eet dit dadelik, want ‘n huistoegaan-draairoomys is die heel lekkerste draairoomys!






Hierdie is een van die mees uitsonderlike eietydse Skrifgetroue [nie slegs Skrifgefundeerde nie] interaktiewe gelykenisse denkbaar. Hoe geseënd is elkeen wat die Heilige Gees so deur die leraar van ‘n gemeente hoor praat! En hoe geseënd is die wyer skare van luisteraars wat dit nou só deur ‘n fyn, intens betrokke waarnemer-boekstawer mag aanhoor/waarneem/voor hulle oë kan sien afspeel. Dankie , tog dat die Internet nie net gevaarlike, perverse, haatsprakige, rassistiese stellings behou asof dit in graniet gegraveer is nie. Dankie, tog, dat dit ook eietyds-Evangeliese gelykenisse tot eer van God vir ‘n meestal gesiglose skare stoor en behou.
Dankie liewe Maretha.