DIE SEWENTIEN SONDAE VAN GRAAD 1 EN DIE BEDREIGING VAN ‘N POEFDOEK VIR ‘N PEDIATER

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

“Baie welkom aan al volgende jaar se graad 1 maatjies, julle is die eregaste vanaand! Welkom ook aan elke familielid van ons eregaste! Maatjies, ons het ‘n baie spesiale aand vir julle beplan met geskenkies en bederfies en ons sien so baie uit daarna om volgende jaar saam met julle te reis. Ons span het alles mooi haarfyn beplan en uitgelê in kleurvolle programme en inligtingsgidse, want as ons al die Sondae rondom skoolvakansies en openbare vakansiedae aftrek, dan het ons slegs sewentien Sondae om saam te reis en ons kan nie bekostig om tyd te mors met slegte beplanning nie. Is julle gereed?” Die kinders klap en gil van lekkerte en dit is ook baie duidelik dat die vriendelik-innemende dominee op die verhoog net so opgewonde soos die maatjies in die gehoor is. Hy kan self nie wag om ‘n geskenkie en bederfie aan elke maatjie te oorhandig nie. Hy en sy span het met groot gewilligheid baie moeite gedoen om hierdie aand wonderlik te maak. As raakvatvoorloper van die voorbereidingsspan, moes hy verskeie kere sy middernagtelike kersie veel langer brand as die ander spanlede, sonder hulle medewete. Sy roeping is vir hom ‘n groot eer en hy leef dit met elke druppeltjie van sy passie ten volle uit. Daar is vir hom iets onbeskryfliks kosbaar daaraan om kinders te bedien en selfs die sielkundig-ongeskoolste mens kan waarneem dat hierdie gevoel wederkerig is en dat die kinders hom ook as ‘n kosbare seën beleef. Maar soos dit maar is met passievolle mense wat met buitengewone verwagting tot op die hoogste sport van die hoopleer geklim het, is die afklap van onvoorsiene omstandighede veel seerder as vir die ouens wat nie so hoog klim nie. Hierdie dominee is geensins onvertroud met die snotklap van teleurstelling nie, maar toe die laaste lekkergoedpakkie oorhandig word aan die dogtertjie in die helderpienkrokkie en daar nog ‘n blinkogie-haasbek-sesjarige-seuntjie agter haar staan, breek dit sy hart in stukke. Natuurlik het hy voorsiening gemaak vir ekstra pakkies en natuurlik het hy geen beheer oor ouers wat laatslaap en administratief-gestremd raak nie, maar voor hom is ‘n kind wie se hartjie seer is. Dit maak nie saak dat hy alles reg gedoen het nie, want hierdie outjie voor hom, is in die steek gelaat en dit MAAK SAAK! Die dominee neem die klein seuntjie in ‘n drukkie-omhelsing en fluister ietsie in sy ore. Sy gesiggie helder op amper asof hy ‘n denkbeeldige lekkergoedpakkie gekry het. Die dominee het net die volgende middag ‘n spesiale lekkergoedpakkie by sy huis gaan aflewer.

 

“Mev, jy kan maar jou baba se doek omruil hier, maar neem asseblief die vuil weggooidoek saam met jou huistoe.” Die jong eerstekeermamma is effe uit die veld geslaan met hierdie vreemd-spesifieke opdrag van haar babaseun se pediater. Wat kan dan tog so bedreigend wees aan die stewig-toegeplakte vuil weggooidoek van ‘n borsmelkbabatjie? Die pediater neem waar dat die babaseuntjie in ‘n uitstekende gesondheidstoestand verkeer en al haar afmetingslesings toon dat hy reeds al sy vroeë mylpale doeltreffend behaal. Die mamma glimlag met selfversekering wanneer die pediater haar gelukwens met haar indrukwekkende moederskapsvaardighede. Sy het immers, tot dusver, getrou opgevolg met besoeke aan die babakliniek en sy het, met noukeurige waarneming, op hoogte gebly met haar seuntjie se lewensvordering. Dis dan ook vanuit hierdie omvattende kennisdra dat die mamma oplet dat, na afloop van haar meting, die pediater haar kind se lengte neerpen as 2cm korter as die vorige week se klinieklesing. Sy is oortuig daarvan dat haar seuntjie nie gekrimp het nie, maar sy sê niks nie, want sy besef dat die mediese speletjie van hit-and-miss waaraan sy moes gewoondraak met haar eie gesondheid, nou ook amptelik afgeskop het vir haar seuntjie. Die standaardgrootte van ‘n sentimeter verskil blykbaar van voorstad tot voorstad. Die pediater se ondersoek is deeglik en wanneer sy opkyk nadat sy elke vierkante millimeter van die babatjie krities beskou het, maak sy die volgende opmerking. “Ek kan sien dat hy verkies om op die linkerkant van sy koppie te slaap, want dit vertoon nie simmetries met regterkant nie, dis skeef aan die linkerkant. Laat hom op sy regterkant slaap.” Selfs met die beste kwaliteit kopfoto sou ‘n mens waarskynlik steeds beduidende zoom moes toepas om dalk ‘n tikkie van die skeefheid waar te neem. Die mamma se laaste versoek aan die pediater is vir ‘n voorskrif vir die dertien-teiken-entstof vir sy eerste inentings twee dae later en, met opmerklike teësinnigheid, reik sy die voorskrif uit. Sonder om te verduidelik, verklaar die pediater dat sy haarself egter eerder skaar by die tien-teiken-entstof waarvoor die regering betaal.

 

Beide bogenoemde gebeurtenisse het plaasgevind gedurende die afgelope twee dae en my ervaring daarmee was direk in albei gevalle. Die dominee is een van my kosbaarste vriende en ek het sy stukkende hart binne-in myne geVOEL, maar ek WEET dat sy hartsbediening aan hierdie kindertjies hulle jong lewetjies aangrypend gaan aanraak. Die jong mamma is my dogter en ek het aanbeveel dat sy dalk haar seun se pediatriese gesondheidsorg sal skuif na een van ons poefdoek-onbedreigde AssieTribe-geliefde pediaters. My dogter se pediater het nie iets verkeerd gedoen nie, maar die afwesigheid van basiese geriewe wat aan doekdraende pasiëntbehoeftes kan voldoen terwyl spesialistariewe gehef word vir nietige waarnemings en betwisbare afmetings laat ‘n wrang smaak in die mond rakende moontlike sorg wanneer gesondheid wel in gedrang kom.

 

Oor die algemeen werk dominees en dokters ongetwyfeld met die kwesbaarste en kosbaarste gedeeltes van menswees, die geestelike- en gesondheidswelstand van mense. Aan die eenkant van die skaal is daar oorwerkte dominees wat deur selfsugtige lidmate soos skoothondjies misbruik word omdat hulle ‘n salaris daarvoor verdien en aan die anderkant is daar verwaande dokters vir wie gesondheidsorg bloot winsgewende saketransaksies is. In ‘n stukkende wêreld met stukkende stelsels gebeur dit tog so gereeld dat mense regoor die spektrum slagoffers word. Maar stukkende stelsels sal nie aangespreek word totdat die kitaarslaners nie ook slagoffers word nie en tot dan sal dominees wat nie kan bedien nie, nie meer dominees wees nie, maar dokters wat nie gesond kan maak nie, steeds dokters bly. As sakevrou verstaan ek heeltemal dat elke dominee en elke dokter ‘n onderhoudende geldelike lewensbestaan moet maak en daarom gaan ek afsluit deur ‘n klip in die bos te gooi. Dalk kan ons die pendulum weer ‘n bietjie nader na die herstelposisie bring as ons hardwerkende dominees wat bedien, help om selfsugtige mense teen spesialistariewe te hef vir tydmors en die verstikkende rekeninge van dokters wat nie gesond kan maak nie, as onwettig verklaar.

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    Hoe fyn is jou waarneming en hoeveel stof tot nadenke is daar nie in elkeen van die twee vertellings nie. Ek kan die toegewyde leraar — vir wie ons mos ook ken— net salueer. Die tere myl wat hy loop om die geskenkpakkie by die leëhandjiekindjie se huis te gaan afgee! Ek het byna nie woorde nie. En dan, die besoek aan die pediater, die strengheid met ‘n nuwe mamma, een wat so raakvat en alles so verstommend reg doen! Sy verdien dit nie. Die kontras wat jy daarstel, is skitterend.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie Maretha.

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post