30 MAART 1995 – 25 JANUARIE 2022 – VIR ALTYD EN EWIG
3 JAAR
36 MAANDE
156 WEKE
1,096 DAE
Hoe vertroos ‘n mens iemand wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het? Die kort antwoord is, JY KAN NIE! Dit is amper soos om ‘n stadionswembad te probeer leegskep deur soms ‘n SOPLEPEL en ander kere ‘n SIF te gebruik. Met die soplepel WONDER jy of jy iets regkry, maar met die sif WEET jy dat jy niks regkry nie.
Dis vandag presies drie jaar gelede dat my geliefde kaalvoetkind Carli oorlede is en in die tuinwoonstel waar sy die laaste keer haar oë gesluit het, is daar weinig min tekens oor van hoe die lewe toe daaruit gesien het. Carli is nie meer daar nie, haar goedjies is nie meer daar nie en selfs Daniel en Micah het uitgetrek en bly nou in hulle eie plekkie. Die woonstel lyk heeltemal anders as destyds, maar daar is ‘n ander prentjie diep ingebrand op ‘n deursigtige film in my geheue, wat direk op my retina projekteer elke keer wanneer ek in die woonstel is. Ek onthou haar. Ek KAN haar nooit vergeet nie. Sy is weg en dit breek steeds my hart! Dit breek my hart elke keer wanneer Micah ‘n bepaalde mylpaal bereik, soos toe hy verlede week Graad 1 begin het. Drie jaar is net mooi die helfte van ‘n sesjarige se leeftyd!
Om eerlik te wees, weet ek nie eers regtig hoekom ek hierdie stukkie in Afrikaans skryf nie. Miskien omdat Carli Afrikaanssprekend was? Miskien omdat Micah in ‘n Afrikaanse skool is en nou kan praat soos ‘n Engelsman en ‘n Boerseun? Miskien omdat ek belonging gekry het in ‘n Afrikaanse kerk en nou die dieptes van my siel kan ontsluit in Afrikaans ook? Ek weet nie…
Die dood het aan my geliefde Carli se lyf kom klop, ingegaan, ‘n rukkie lank gekuier en toe die liggie binne in haar uitgeblaas. Ek het dood gesien, gehoor en gevoel. Dit het alles baie naby aan my eie lyf gebeur en, uiteindelik, het dit verander hoe ek na die lewe kyk. Nie menswetenskap of skyngodsdiens kon dit keer nie. Dit het my ontnugter. My wêreld het gaan stilstaan. Eers het ek saam met die vêr-oor-die-telefoon-cool-aid-mense gebid dat sy gesondword. Maar toe dood vir my lag, het hulle bang geword vir die uitval en soos mis voor die son verdwyn. Toe bid ek saam met die saamstap-saamhuil-chosen-frozen-mense dat sy asseblief sterf. Hulle is nie bang vir dood nie en, al kon hulle dit ook nie keer nie, het hulle altyd opgedaag om te help met die uitval.
Ek drink glad nie meer cool-aid nie, want eintlik het ek nog nooit regtig daarvan gehou nie. My geliefde geloofsfamilie is alles behalwe koud en/of meerderwaardig-verwaand. Dis ‘n groep gewone-en-gewonde mense, net soos ek, waar ek glad nie inpas nie, maar waar ek werklik belong. Ons volg Jesus en ons leer van Hom om meer en meer soos Hy te wees. Ons wy onsself daaraan toe om Hom goed te verteenwoordig en aan Hom gehoorsaam te wees. Dis veel makliker in mooiweer, wanneer die water glad en kalm is en dit aan almal rondom ons duidelik is dat sake vlot verloop. Maar wanneer die donker wolke begin saampak en die storms inrol met vreesaanjaende inslukgolwe, is dit dan ook wanneer ons onthou dat Jesus belowe het dat Hy by ons sal wees. Hy het immers nooit belowe dat ons die storms gaan vryspring nie en al is ons bereid om te erken dat sommige verwoestende storms ons bangmaak, hou ons aan om Hom te volg. Ek is so innig jammer vir mense wat glo dat bangwees boos is en dan voel dat hulle hulleself, met paniek-gedrewe opgeklitsheid, ‘n rangbevordering moet gee na een of ander skynbevelvoerderrang gelykstaande aan Jesus om in Sy Naam (asof Hy tydelik onbevoeg verklaar is) allerhande bevele en verklarings uit te bulder. Gebed is ‘n openhartig-deursigtige gesprek met God, dit word met eerbied en ontsag gedoen. Ons pas toe wat ons ons kinders en kleinkinders leer, om ASSEBLIEF en DANKIE te sê en dan eindig ons dit met NIE MY WIL NIE, MAAR U WIL GESKIED selfs al stem my wil en Sy wil nie ooreen nie. Gebed is NIE ‘n bevel aan God om ‘n klomp eise af te dwing nie.
Soos bangwees, is dood deel van die lewe en die twee stap gereeld hand-aan-hand saam. Beide het hulle oorsprong in die Tuin van Eden en beide is die gevolg van die sondeval toe die mens, ondanks sy Godgegewe oneindige versameling van volmaakte vryheid, die een ding gedoen het wat hy nie moes nie. Die mens het die vrugte geëet van die boom van die kennis van GOED en KWAAD. Bangwees is ‘n mensegevoel en dood is ‘n vervaldatum op menselewens. Vandag nog is alle mense okay met GOED en nie met KWAAD nie. Bang mense het nogal die geneigdheid om dinge te doen en sê wat uit die KWAAD-versameling uit kom en selfs die gevolge van hulle woorde en dade kom daaruit. Die SOPLEPELS en SIWWE van mense op sosiale media getuig hard en duidelik hiervan. Hulle skep verwoed weglaatbaar-klein hoeveelhede uit ‘n ondreineerbare poel van uiteindelik-verganklike mensekwessies terwyl weerlose mense binne-in daardie einste poele verdrink.
Ons gaan almal in hierdie lewe bangword en geliefdes aan die dood afstaan. Poele van siektes, tragedies en rampe is rondom ons en ons kan dit nie leegskep nie. In teenstelling met Carli se storie, kom dood soms nie eers klop aan die deur van ‘n geliefde se lyf nie. Dit kuier nie, maar storm bloot, uit die bloute, binne en blaas die liggie binne uit. Die dood van geliefdes, ongeag vinnig of stadig, laat poele van rouseer-verlies agter wat ook nie leeggeskep kan word nie. God is ALTYD GOED en in Hom is GEEN KWAAD nie. Sy vlekkelose reputasie bly onveranderd selfs wanneer Sy antwoord op ons gebede NEE is, want ons gebede handel oor gebeure aan hierdie stukkende kant van die ewigheid. Hy het reeds Sy eie Seun, Jesus Christus, gestuur en Hy, Jesus, het Sy eie lewe gegee as losprys om ons vry te koop van ewige doodstraf sodat ons aan die volmaakte kant van die ewigheid vir altyd sonder KWAAD kan leef. Jesus is die Enigste Antwoord vir dood en bangwees – Hy het dood se angel getrek en Sy volmaakte liefde vir ons dryf bangwees weg.
In hierdie ou stukkende wêreld van ons waar mense verdrink in inligting en uitgedors is vir wysheid, is dit dalk tyd om die SOPLEPELS en SIWWE eenkant te gooi sodat beide ons arms oop is om mense waarlik lief te hê. Moenie meer WONDER nie, WEET sommer dat hoe nader/dieper ons liefde vir mense aan die van Jesus se liefde is, hoe verder weg beweeg bangwees en hoe minder seer voel die rouseer van lewensverlies.






Liewe Lulu… Ek het nou pas vir Hennie vertel van die soplepel/gaatjieslepel waterskep úit ‘n swembad vol leed/gemis/trane. Van die onsigbare teenwoordigheid van ‘n geliefde in ‘n woonplek waarin alles verander het. Lulu, mag DUISENDE mense hierby aanklank vind en huil en weer in die krag van God opstaan en LEEF. Die Heilige Gees het jou hiertoe geïinspireer. Dankie, HERE!
Dankie Maretha!