Ek kies vandag hierdie vraag as titel van my skrywe, want dit was die laaste woorde van my geliefde oorlede swaer Piet. Hy stel hierdie vraag aan my kleinsus Let op Sondagaand 31 Maart 2024 net nadat sy hom met ‘n soentjie totsiens groet en voordat sy by die hospitaalkamer uitstap. Let se liefdevolle dubbelkuiltjie-glimlag, kopknik en knipoog stel Piet gerus en hy sluit sy oë vir ‘n welverdiende nagrus. Dis die laaste liefdesbetuiging en die laaste gesprek tussen Parra en sy geliefde Hartjie, twee lewenslank-getroue huweliksmaats. In die vroeë oggendure van 1 April 2024 boender ‘n massiewe hartaanval Piet in ‘n koma in en hy herwin nooit weer sy bewussyn nie. Later daardie selfde aand, ongeveer 24 uur nadat Piet die laaste keer met Let praat, sterf hy in sy hospitaalbed terwyl Let sy hand vashou.
Die aangrypende, egte liefdesverhaal wat by ‘n stembus in Secunda tydens Suid-Afrika se heel eerste demokratiese verkiesing 30 jaar tevore begin het, word voltrek. Eers was daar ‘n vonk. Toe ‘n date. Toe ‘n troue. Toe ‘n lewe saam. In goed en sleg. Deur dik en dun. Bitter en soet. Maar toe kom dood. En aan hierdie stukkende kant van die ewigheid is dood alleen, hy bring nie ‘n maatjie saam nie.
‘n Dag na Piet se afsterwe, op 2 April 2024, skryf ek (met stukkendseer in my hart) DIE MERKWAARDIGE TENTWONING VAN ONS REUS IS AFGESLAAN as huldeblyk en plaas dit op VrygekoopteBaanbreker. In die dae wat volg word dit meer as 1,100 keer gelees in 17 verskillende lande wêreldwyd en dit word tot vandag toe nog, steeds gelees. Op 9 April 2024 word Piet, verdienstelik, soos ‘n uiters geliefde held gegroet tydens sy gedenkdiens. Dit is hartverskeurend mooi.
My hart was stukkendgebreek vir my kleinsus. Dood het haar geliefde Piet van haar af weggeruk en sy het alleen agtergebly. Soos ‘n halwe mens met ‘n yslike rou, oopgapende wond waar die ander helfte weggeskeur is. Is dit hoegenaamd moontlik om hiervan te herstel en weer okay te wees? Piet wou weet of Let okay GAAN wees. Ek wou weet of Let weer okay KAN wees.
Vandag is 1 April 2025, die eerste herdenking van Piet se afsterwe, en ek wil so graag hierdie opvolghuldeblyk vandag nog op VrygekoopteBaanbreker plaas. Nog net een jaar het verloop, maar ek het reeds genoeg gesien en beleef om te wéét dat Let nie net okay KAN wees nie, maar dat sy verseker sterk oppad is en dat sy, ongetwyfeld, okay GAAN wees. Dis vir my steeds net so bitter moeilik soos laasjaar om hierdie te skryf, want my hartseer lê baie vlak en dit dreig om my te oorrompel en te verswelg, amper soos die Aberfan steenkoolramp.
Maar, liewe lesers, kom ek vertel vir julle hoekom my geliefde kleinsus, Let, okay GAAN wees.
Ek gaan begin deur die horlosie vêr terug te draai…
Going back to a time when dinosaurs roamed the earth and humans only had black-and-white vision…. (soos my cheeky kinders gewoonlik verwys na die “oertyd” waarin ons grootgeword het)
MY SUSSIE IS DOOD, MY SUSSIE IS DOOD!
‘n Babadogtertjie lê in die stof op die voetpad. Daar is ligte skrapies aan die regterkant van haar gesiggie waaraan stof en klippies vassit. Die babatjie huil nie, maar haar driejarige ousus sit langs haar en sy huil onbedaarlik, want sy dink dat haar sussie dood is.
Dis 1975 in Vredenburg en op ‘n winderige middag stap ‘n jong mamma met haar nuwe baba in ‘n stootwaentjie en haar kleuterdogtertjie aan haar hand winkel toe. Iewers tref die stootwaentjie se wiele ‘n groot klip en die grendelklampe spring skielik los. Dit veroorsaak dat, toe die wiele vassteek, die boonste bababedjie-gedeelte ‘n kort onbeheerbare momentum-gedrewe solovlug onderneem voordat dit enkele meters verder die grond tref in ‘n stofontploffing.
NEE, MOENIE RY NIE!
‘n Dogtertjie lê op ‘n teerpad met haar kop op die wit stopstreep van ‘n besige vierrigting-stopstraat. Haar fiets het gegly op die nat pad en sy het afgeval. Haar nek is teenaan die linkervoorwiel van ‘n groen kar. Al die voertuie in die kruising wag, want dis die groen kar se beurt om te ry. Die besef dat die toeslaan van die noodlot hoogs waarskynlik onafwendbaar geword het, tref die dogtertjie se ousus soos ‘n verlammende skokgolf.
Dis 1984 in die Strand en op ‘n reënerige, koel Herfs-oggend kry twee laerskooldogtertjies reg om met hulle fietse skooltoe te ry. Hulle kan nie wag totdat dit heeltemal lig word voordat hulle ry nie, want dan gaan hulle laat wees vir skool. Inteendeel, hulle beplan om effe vroeër te vertrek as gewoonlik, want daar is twee belangrike sake wat alle parate Kaapse fietsryers (selfs skoolkinders) voor oog moet hou in reënweer. Eerstens moet hulle ekstra versigtig optree, want ‘n nat pad is glad en gevaarlik. Tweedens moet hulle ekstra waaksaam wees vir voertuigbestuurders wat sommer skielik slagoffers kan word van neerslag-gedrewe onbevoegdheidswaansin (dis wanneer sekere Kapenaars skielik vergeet hoe om in reënweer te bestuur). Die twee sussies vertrek uiteindelik skooltoe, die kleiner 12-jarige ousus op haar blou Western Flyer en die groter 9-jarige kleinsus op haar rooi Peugeot. Hulle weet dit nog nie, maar vandag gaan hulle leer dat verskriklike ongelukke in ‘n oogwink kan gebeur al is ‘n mens uiters versigtig en dat nie alle Kaapse bestuurders waansinnig is nie.
In 1975 het die twee beskikbare tipes babastootwaentjies glad nie oor dieselfde veiligheid en veerkragtigheid as vandag se 87 beskikbare modelle beskik nie. My babasussie het wel ‘n paar skrapies en kneusplekke opgedoen, maar sy het nie ernstig seergekry nie. Let is okay.
In 1984 het die bestuurder van die groen kar nie gery nie al was dit haar beurt om te ry en my kleinsussie se lewe is gespaar. Behalwe vir ‘n paar skrapies en ‘n groot skrik, het sy nie seergekry nie. Let is okay.
Of dit nou siekte of teenspoed of swaarkry of hartseer was, tot voor Piet se afsterwe kon al Let se lewensstories eindig met hierdie woorde…. Let is okay.
TOE KOM 1 APRIL 2024, PIET STERF EN DOOD VERANDER LET SE STORIE…
Let is NIE okay NIE.
Dit breek my hart, maar ek verstaan dit. Dood is deel van die lewe, maar dit verander ‘n mens vir altyd. Ek het reeds verskeie kere oor dood geskryf en ek gaan beslis nog baie daaroor skryf. Dis ‘n 100% gewaarborgde gebeurtenis vir elke asemhalende sterfling op hierdie planeet en behoort ‘n onderwerp te wees wat uitgehaal, afgestof en oor gepraat moet word. Sedert my ouers by die aftree-oord ingetrek het, gebruik hulle gereeld die beeldspraak DOOD KOM KAP NOU HIER IN ONS WOUD om aan te dui wanneer inwoners sterf. Maar dood kap nie net in aftree-oord woude nie. Hy kap in my woud. Ek het al dood se byl gesien, gehoor en selfs die wind gevoel wat veroorsaak word wanneer dit van hoog af neerkom om ‘n boombas met mening te tref.
Ek het al gehoor hoe mense sê dat rousmart ‘n bitter pil is om te sluk. Rousmart is nie ‘n pil nie. Om te hoor dat ‘n geliefde gesterf het, is wel ‘n pil wat ‘n oorlewende moet sluk. Maar dis nie bitter nie. Dis ‘n plastiekomhulsel gevul met honderde piepklein vlymskerp lemmetjies wat jy afsluk en sodra die plastiek opgelos het, sny die lemmetjies alles in hulle pad oop. Dan, wanneer daardie oorlewende wat verdrink word in die skoknuusverwerking, dit regkry om met brandende longe bokant die wateroppervlakte uit te kom vir suurstof, is daar net brandrissiegas van ‘n wêreld wat voortgaan asof niks gebeur het nie. Daarna, op ‘n dag, sommer uit die bloute uit, daag ‘n ongenooide gas op wat sommer permanent by jou intrek. Sy naam is Rousmart. Jy kan hom ignoreer, maar jy kan hom nie uitsmyt nie. Die vermoë om weer okay te wees na die verlies van ‘n geliefde hang af van die oorlewende se verhouding met Rousmart, die ongenooide permanente gas. Dit begin by erkenning gee. Daarna volg droeë brood, kraanwater en kopknikgroete. Dan word dit meer beskaafd met varser kos, sagter slaapplek en langer gesprekke. Uiteindelik deel jy jou yskoue Coke, Lindt chocolate en selfs drukkies met die indringer. ‘n Goeie verhouding met Rousmart is soos ‘n vredesooreenkoms waarin ooreengekom word dat jou stukkend altyd iewers tussen gesondword en rou sal wees en jou seer altyd iewers tussen warmwatersakverligbaar en morfienverpligtend.
Op ‘n vreemde manier het dood die band tussen my en Let versterk. Ek kan niks doen om haar stukkendseer weg te vat nie. Maar ek kan voel, luister, bid, troos, bemoedig, aanmoedig, verstaan, belangstel, waardeer, ondersteun en onvoorwaardelik liefhê. Met haar stukkende halwe lyf hou sy aan met lewe en het sy nog nooit gaan lê en/of opgegee nie. Met diep lemmetjie-snye in haar siel en brandrissiegas in haar longe, verdra sy bot, begriplose, gevoellose, onsensitiewe en verwaande mense en staan sy elke keer weer op wanneer sy platgeslaan word. Binne weke verrig sy wat die meeste roubeklaende oorlewendes nie in jare kan vermag nie. Sy kan steeds altyd deur ‘n ring getrek word en sy lyk altyd asof sy die inspirasie agter invloedryke mode-tydskrifte is. Ek vermoed dat haar Rousmart reeds lankal sag slaap en lekker kos eet en dit sal my glad nie verras as ek sou uitvind dat sy ‘n geheime calamari lunch vir hom by Chapman’s Peak Hotel gekoop het nie! Dit was Piet se happy place en Let het onlangs Piet se as daarnaby in die see gaan strooi. Ek het spesiaal daardie foto gekies vir vandag se skrywe.
My kleinsus is sekerlik een van die sterkste vrouens in ons stukkende wêreld. Sy is nie ‘n yster of ‘n rots nie. Nee, sy is wolfram-chroom (tungsten-chromium alloy) en nie eers dood kan haar nie uitmekaar trek of verpletter nie. Ek het haar grootste fan geword en dis my eer en voorreg om haar ousus te wees en in haar ondersteuningshoek te wees. Ek kan nie my liefde vir haar akkuraat, in woorde, uitdruk nie en ek is so ongelooflik trots op haar! Ek wil so graag haar storie vir die hele wêreld vertel en dan (in fynskrif) byvoeg dat die amazing hero in die verhaal my kleinsussie is!
As dit enigsins moontlik was vir my om ‘n boodskap by Piet daar aan die volmaakte kant van die ewigheid te kry, sal dit kort en eenvoudig wees:
Liefste Piet, jou geliefde Hartjie gaan verseker okay wees!






Liewe Let… vir ander is dit dalk gekkedag. Vir ander is dit vakansietyd, lekkertyd. Vir jou is dit méér onthou-tyd, nog meer as op ander dae. Weet dat die beeld van ‘n vrou wat in ‘n rooi rok die as van haar geliefde in die water staan en strooi, nou in baie, baie harte gegraveer is. Dat talle van ons vanaand vir jou bid. HERE, wees asseblief goed vir Let! En dankie vir Piet se onuitputlike nalatenskap. Vanaand dra ons ook vir Lulu aan die HERE op: jou suster wat so intens ”voel, luister, bid, troos, bemoedig, aanmoedig, verstaan, belangstel, waardeer, ondersteun, onvoorwaardelik liefhet” en dan haar liefdesoffer vir jou en vir alle ander treurendes gaan skep: hierdie essay van diepe erbarming, geloof en meelewing. Dankie, Lulu. Ons salueer albei van julle.
Dankie Maretha! ❤️