LAASTE DONDERDAG

POSTED BY

Lulu van Aswegen

**Oordenking # 6 : Die dag van aardse laastes – laaste saamkuier, laaste ete, laaste vryheid. Bloedsweet. Môre is GOEIE VRYDAG, môre sterf Jesus aan die kruis in die wreedste menseslagting.**

 

VOORWOORD:

Liewe leser, op hierdie punt in jou leesreis van my oordenkings, wil ek graag die volgende met jou deel. Hoewel ek myself beywer om die gebeure Skrifgetrou weer te gee, is daar ‘n paar van my eie unieke eienskappe wat ek graag met jou deel en vra dat jy dit in ag sal neem wanneer jy lees wat ek skryf.

Ek is ‘n passievolle storieverteller met ‘n Godgegewe vermoë om dieper te voel as wat gerekende medies-sielkundige kenners toeskryf aan mense en dit oorweldig my gereeld. Ek kan sommige ander mense se stukkendseer voel en selfs soms hulle fisiese pyn. Ek het altyd daarna verwys as my derms wat knoop totdat ‘n kosbare vriend my geleer het van splagchnizomai en dit my geknoopte-derms-term vervang het. Met my Lydensweek-reeks, plaas ek myself binne-in die gebeure en vertel die storie vanuit my eie gevoelsperspektief en ek vermoed dat dit dieper is as die deursneeweergawes van soortgelyke vertellings. Ek maak hoegenaamd geensins aanspraak daarop ek enigsins weet hoe Jesus kon voel nie. Hy het splagchnizomai in die oortreffendste trap gevoel en Hy was ‘n sondeloos-volmaakte mens. Ek, aan die ander kant, voel onbeskryflik diep, maar hierdie gevoelens oorweldig my nogal gereeld tot op ‘n punt waar ek myself probeer beskerm deur gedrag wat soms alles behalwe volmaak is.

Ek is ook ‘n pyn-innie-nek analitiese perfeksionis met ‘n ekstrafyn-ingestelde fout-radar vir wie die logika van korrekte bewerkings en nagegaande feite uiters belangrik is. Alles móét sinmaak en daarom moet ek alles uitfigure. My kognitiewe bedryfsnaald is gereeld in die rooigebied van die outisme spektrum, so ek moet soms gebeurtenis- en tydlyn-gate opvul in my storievertellings sodat die beginsel van die boodskap sinvol kan wees. Ek is nie altyd so kolskoot-akkuraat en/of -korrek nie en op hierdie skryfreis sover, het ek sekerlik al meer onvrywillige onakkurate opvullings gemaak en beslis meer foute begaan as waarmee ek al ooit tevrede was.

Ek is net ‘n doodgewone, onmerkwaardige mens met ‘n sterk wil en ‘n sterker passie om my Godgegewe skryfgawe aan te wend om my Verlosser te behaag deur stories te skryf met die spesifieke toerusting wat Hy in my tassie gepak het.

LET WEL : Van hier af verder in my storievertelling raak dit bykans onmoontlik om eers te probeer om myself voor te stel hoe en wat Jesus gevoel het, want die koue, harde feite rondom die gebeure is vir my omvattend oorweldigend. Ek beskik nie oor die toepaslike woorde om dit te beskryf nie, maar my beste poging sal wees om te sê dat dit voel asof my hart en siel eers in ‘n wood chipper en dan in ‘n blender gegooi word. PS….die Afrikaanse vertalings rook net nie hierdie pyp nie!

Dankie dat jy lees wat ek skryf!

 

BETREE DIE VERHAAL:

Dis die voorbereidingsdag vir die Pasga-maaltyd wat met sononder aanvang neem. Jesus weet dat dit Sy laaste maaltyd saam met Sy geliefde dissipels gaan wees en die emosionele besef hiervan, oorweldig Hom taamlik.

Deur die loop van die dag maak Hy, soos altyd, deernisvolle oogkontak met elkeen van Sy geliefde dissipels en dit lei tot vele terugflitse. Hy herleef weer hoe Hy elkeen van hierdie kosbare mense ontmoet het. Jesus onthou hoe steeksdonkie-hardkoppig Simon Petrus aanvanklik was en hoeveel konflik dit tot gevolg gehad het, maar Hy onthou ook dat dit juis daardie hardkoppigheid was wat gemaak het dat Petrus uit die boot geklim en op die water na Hom toe geloop het. Hy onthou hoe stukkendseer MariaM was, ‘n misbruikte, duiwelsbesete, onversorgde vrou wat enkele sekondes weg was van ‘n wrede selfdood. Vandag is sy ‘n beeldskone vrou met ‘n sagte omgee-hart en diep wysheid waarmee sy vele mense bedien. Hy onthou iets, nee eintlik alles, van elkeen en die warm deernis in Sy hart dwing ‘n sagte glimlag om sy mond af. Soveel verhale van die mooiste mooi wat soms uit die vuilste, stinkste mensvleisverrotting en lyksontbinding gekom het.

Teen sononder daag Jesus se dissipels op vir die Pasga-maaltyd en vind Hom by ‘n skottel water met ‘n handdoek rondom Sy middel gebind. Met die grootste sorgsaamheid was Hy elkeen van hulle se voete, die manne is ongemaklik huiwerig en die vroue is tranerig ontvanklik. Dit verbaas Hom glad nie wanneer Petrus daarteenskop, maar tog toegee nie. Bull-in-a-china-shop-Petrus, die rots waarop Hy Sy kerk gaan bou. Johannes, Sy geliefde dissipel, is heeltemal stom, maar hy straal die hoogste waardering uit. Martha en MariaB verkeer in ‘n aansteeklike toestand van eerbiedigheidsvervoering. MariaM huil saggies, onbedaarlik en Maria (ima) is beide die dapperste asook die broosste. Met die eienaars van elke paar voete voor Hom, deel Hy, vir oulaas, ‘n kosbare oomblik.

Die heel laaste paar voete voor Hom behoort aan Judas en, met ‘n tikkie ekstra sorgsaamheid vir ‘n tikkie langer, was Hy ook die voete van die man wie se bymekaar-buitekant en onberekenbaar-beskadigde-binnekant nie weer ooreen gaan stem nie….ten minste nie aan hierdie kant van die kruis wat oor minder as 24 uur van nou af alles gaan verander, nie. Die doderyk lê reeds oop voor Jesus en Hy ken die hart van die man voor Hom, iemand vir wie Hy onbeskryflik lief is.

Almal neem hulle plekke aan tafel in vir die ete. Dis die heel laaste saamkuier. Die heel laaste ete. Weer maak Jesus oogkontak met elkeen aan tafel en die bitter van dit wat voorlê vermeng met die soet van Sy innige liefde vir almal van hulle, oorweldig Hom. Hy neem die brood en die wyn en stel die Nagmaal, die ETE VAN DIE HERE, in. Hy verduidelik dat die brood Sy liggaam en die wyn Sy bloed verteenwoordig. Binnekort gaan Sy liggaam gebreek word en Sy bloed vloei om die mensdom vry te koop van ewige dood en verderf. Elkeen wat in Hom glo en Hom bely, het toegang tot hierdie maaltyd wat hulle, van nou af tot aan die einde van tyd, sal herinner aan Sy verlossingsdaad.

Daar breek ‘n twis uit onder ‘n paar van die manne, hulle stry met mekaar oor wie van hulle die belangrikste is. Jesus, die Een Wie almal van hulle reeds erken het as die Seun van God, sluk hard aan daardie groeiende seer knop in Sy keel, maar dit bly vassit en dan, met die teerste deernis, praat Hy met hulle in Sy aanvoelbaar-sagte stem:

“My dierbare geliefdes, tot nou toe het julle voorry-sitplekke gehad in My bediening. Julle het gesien, gevoel, gehoor, geproe en geruik hoe Ek die minderwaardigste geringstes onvoorwaardelik lief het en hulle onbegrensd bedien. Ek het julle geleer en gewys hoe om dit te doen en julle doen dit dan reeds self. Niks het verander nie en dit gaan ook nie verander nie. Die belangrikstes in die Koninkryk van My Vader, is diegene wie My volg en bedien soos Ek. Hulle verwag nie om bedien te word nie. Heelhartige diensbaarheid dra geen status nie. Dis onmoontlik om die vlak van iets wat nie bestaan nie, te verander of te betwis. Raak nou rustig en geniet hierdie laaste kuier saam met My, asseblief?”

Tydens die laaste gedeelte van die ete, maak Jesus twee verklarings wat almal dadelik weer in ‘n skoktoestand instamp. Dit voel vir Hom asof, buiten die seer knop in Sy keel, Sy Siel in ‘n versmorende denkbeeldige skroefklamp vasgeklem word wanneer Hy verklaar dat Judas Hom gaan verraai en Petrus Hom gaan verloën. Soos verwag, reageer beide van hulle met self-regverdigende verontwaardiging, maar dit verander niks aan die onafwendbaarheid van die gebeure nie.

Petrus, Jesus se klaskaptein-vakleerling en rots waarop Sy kerk gebou gaan word, gaan DRIE keer voorgee dat hy Jesus nie ken nie. Judas, die uitvoerende rentmeester van Jesus se bediening, het reeds sy dodelike transaksie beklink om sy Rabbi en Verlosser uit te lewer aan ‘n kontrakmoord-peloton. Petrus verdedig homself eers luidrugtig voordat die skielike ontnugtering hom sprakeloos laat. Maar Judas spring op en hardloop haastig die donkerte in om sy donkerdaad te gaan voltrek. Die kontrakmoord-peloton wag in spanning op hom.

Jesus lig Sy dissipels in dat Sy tyd saam met hulle bykans verstreke is en dat Hy heengaan na ‘n plek waar hulle Hom nie kan volg nie. Hy sluit af met ‘n nuwe gebod aan hulle, dat hulle mekaar moet liefhê net soos wat Hy hulle liefhet, want aan daardie naasteliefde sal die wêreld weet dat hulle Sy dissipels is.

Na ete neem Jesus ‘n paar van Sy dissipels saam na die tuin van Getsemane in die Olyfberg om te gaan bid. Met doodsbenoudheid bidsmeek Hy Sy Vader, in nederigheid en met intieme diepte, om Sy lyding weg te neem. […nie My wil nie, maar U wil geskied.] Jesus is so oorweldig deur angs dat Hy letterlik bloed sweet terwyl Sy dissipels nie eers kan waghou sonder om aan die slaap te raak nie.

Dan verskyn Judas skielik met ‘n gewapende weermag van soldate agter hom en hy loop reguit na Jesus toe. Hy soen Jesus en die soldate huiwer nie om Hom, met oordadige geweld, gevange te neem nie. Maar daar breek chaos uit toe Petrus sy swaard trek en Malgus, een van die soldate, se oor afkap. Jesus genees vir Malgus deur sy oor op te tel en dit weer, herstellend, terug te plaas waar dit regmatig hoort asof niks gebeur het nie. Voordat die soldate Hom wegneem, kry Hy nog een geleentheid om, weer met deernis, oogkontak te maak met Sy dissipels en Hy herinner hulle daaraan om haat met liefde te beantwoord. Jesus verset Homself nie, Hy gee Homself vrywillig oor terwyl die soldate Hom weglei van Sy dissipels af. Hy is nou heeltemal alleen en die woorde van die profeet Jesaja weerklink in Sy gedagtes.

Die toneel verskuif na die hoëpriester, Kajafas, se huis toe waar Jesus onderwerp word aan ‘n barbaarse bosverhoor. Sy skuldigbevinding word reeds voltrek nog voordat Hy daar opdaag. Soos Maandag by die tempel, klink dit hier ook soos ‘n kattebasaar, maar hierdie keer is dit ‘n kattebasaar van kranksinnigheid waar malmense gelykpraat om vals getuienis te lewer wat mekaar weerspreek. Wanneer Kajafas dan uiteindelik, in die veragtelikste dom-astrantheid, vir Jesus koggel met die vraag of Hy dan nou die Seun van God is en Jesus dit beaam, skeur hy met skouspelagtig-treffende dramatiese uitnemendheid sy eie klere. Daarna breek alle hel los en die vlak van die wreedaards se kranksinnigheid skuif in hoogste rat in. Jesus se onuitspreekbaar-afgryslike lyding skop amptelik af.

Jesus Christus, Seun van die mens, Seun van God, Immanuel, onskuldig-sondelose Man word veragtend-genadeloos aangerand deur Joodse leiers, Sy eie mense. Hulle spoeg Hom in Sy gesig terwyl hulle Hom spot & koggel. Met hulle vuiste en met stokke word Hy wild en genadeloos geslaan. Hulle is bloeddorstig en moordlustig, maar ondanks hoëpriester Kajafas se ‘doodsvonnis-profesie’, beskik die Jode nie oor die gesag om mense geregtelik om die lewe te bring nie. Die Romeine beskik wel oor daardie gesag en die Jode oorhandig Jesus aan die Romeinse prokurator, Pilatus.

 

§—Oordenking # 7 : GRUWELIKE GOEIE VRYDAG volg môre—§

 

“Die doderyk en die onderwêreld lê oop voor die Here – hoeveel te meer die harte van mensekinders!”
Spreuke‬ ‭15‬:‭11‬ ‭AFR20‬‬

“Voor die Fees van die Pasga het Jesus reeds geweet dat sy uur aangebreek het dat Hy van hierdie wêreld na die Vader sou oorgaan. Daarom, omdat Hy sy eie mense in die wêreld liefgehad het, het Hy hulle liefgehad tot aan die einde. Gedurende die aandete het die Duiwel dit reeds in die hart van Judas, seun van Simon Iskariot, gelê om Jesus te verraai. Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het, en dat Hy van God gekom het en weer na God terugkeer. Daarom het Hy van die ete opgestaan, sy boklere uitgetrek, ‘n linnedoek geneem en dit om Hom vasgebind. Toe gooi Hy water in die waskom en begin om die voete van die dissipels te was en dit met die linnedoek wat om Hom gebind was, af te droog. Toe Hy by Simon Petrus kom, sê dié vir Hom: ‘Here, gaan U my voete was?’ Jesus het hom geantwoord: ‘Wat Ek doen, verstaan jy nie nou nie, maar hierna sal jy verstaan.’ Petrus sê toe vir Hom: ‘U sal beslis nie my voete was nie – tot in ewigheid nie!’ Jesus het hom geantwoord: ‘As Ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie.’ Toe sê Simon Petrus vir Hom: ‘Here, dan nie net my voete nie, maar ook my hande en my kop.’ Maar Jesus sê vir hom: ‘Iemand wat gebad is, het nie nodig dat iets anders as sy voete gewas word nie, omdat hy reeds heeltemal skoon is. En julle is skoon, maar nie almal nie.’ Want Jesus het geweet wie Hom sou verraai, en daarom het Hy gesê: ‘Julle is nie almal skoon nie.’ Toe Hy hulle voete klaar gewas het en weer sy boklere aangetrek en aangeleun het om te eet, sê Hy vir hulle: ‘Verstaan julle wat Ek vir julle gedoen het? Julle noem my Meester en Here, en julle sê dit tereg, want Ek is dit. As Ek, julle Here en Leermeester, dan julle voete gewas het, behoort julle ook mekaar se voete te was. Ek het immers vir julle ‘n voorbeeld gegee sodat julle ook kan maak soos wat Ek gemaak het. Amen, amen, Ek sê vir julle: ‘n Slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en ‘n gesant nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie. As julle dit begryp, gelukkig is julle as julle dit doen. Ek sê dit nie van julle almal nie; Ek weet wie Ek uitgekies het, maar die Skrif moet vervul word, Die een wat my brood geëet het, het sy hakskeen teen my gelig. Ek sê dit nou reeds vir julle, voor dit gebeur, sodat julle, wanneer dit gebeur, kan glo dat Ek Is. Amen, amen, Ek sê vir julle: Wie iemand wat Ek stuur ontvang, ontvang My en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het.’”
Johannes‬ ‭13‬:‭1‬-‭20‬ ‭AFR20‬‬

“Nadat Jesus dit gesê het, was Hy diep ontroerd, en het Hy getuig en gesê: “Amen, amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai.” Die dissipels het na mekaar gekyk, onseker van wie Hy praat. Een van sy dissipels, hy vir wie Jesus liefgehad het, het teen Jesus se bors geleun. Simon •Petrus het vir hom geknik om uit te vind wie dit sou kon wees van wie Jesus praat. Hy het toe teruggeleun teen Jesus se bors en vir Hom gevra: “Here, wie is dit?” Jesus het hom geantwoord: “Dit is die een vir wie Ek ‘n stukkie brood sal indoop en aangee.” Toe Hy die stukkie brood ingedoop het, het Hy dit geneem en aan Judas, seun van Simon Iskariot, gegee. Nadat Judas die stukkie brood geneem het, het Satan in hom ingevaar. Toe sê Jesus vir hom: “Wat jy wil doen, moet jy gou doen.” Niemand van dié wat daar aangeleun het om te eet, het verstaan waarom Hy dit aan Judas gesê het nie. Omdat Judas die geldbeurs gedra het, het sommige gedink dat Jesus aan hom gesê het: “Gaan koop wat ons vir die fees nodig het,” of dat hy iets aan die armes moes gee. Nadat Judas die stukkie brood geneem het, het hy onmiddellik buitentoe gegaan. En dit was nag.”
Johannes‬ ‭13‬:‭21‬-‭30‬ ‭AFR20‬‬

“Nadat Judas uitgegaan het, het Jesus gesê: ‘Nou is die Seun van die Mens verheerlik, en God is deur Hom verheerlik. As God deur Hom verheerlik is, sal God Hom ook in Homself verheerlik, en Hy sal Hom dadelik verheerlik. My kinders, Ek is nog net ‘n kort tydjie by julle. Julle sal My soek, maar soos Ek vir die Jode gesê het, sê Ek ook nou vir julle: Waarheen Ek gaan, kan julle nie gaan nie. Ek gee julle ‘n nuwe gebod: Julle moet mekaar liefhê. Net soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Dit is hoe almal sal weet dat julle my dissipels is – as julle liefde teenoor mekaar het.’”
Johannes‬ ‭13‬:‭31‬-‭35‬ ‭AFR20‬‬

“Toe sê Jesus vir hulle: ‘Julle sal almal in hierdie nag van My afvallig raak. Daar staan immers geskryf, Ek sal die herder neervel, en die skape van die kudde sal uitmekaar gejaag word. Maar nadat Ek opgewek is, sal Ek voor julle uit gaan na Galilea.’ Petrus het egter vir Hom gesê: ‘Selfs al sal almal van U afvallig raak, ek sal nooit afvallig raak nie.’ Jesus het hom geantwoord: ‘Amen, Ek sê vir jou, jy sal My in hierdie nag, voor ‘n haan kraai, drie maal verloën.’ Petrus sê toe vir Hom: ‘Selfs al moet ek saam met U sterf, ek sal U beslis nie verloën nie!’ Al die dissipels het dieselfde gesê.”
Matteus‬ ‭26‬:‭31‬-‭35‬ ‭AFR20‬‬

“Toe gaan Jesus saam met hulle na ‘n plek wat Getsemane genoem word, en Hy sê vir die dissipels: “Bly hier sit totdat Ek klaar gaan bid het.” Hy neem toe vir •Petrus en die twee seuns van Sebedeus saam. En Hy het bedroef en beangs begin word. Toe sê Hy vir hulle: “My siel is diep bedroef, tot die dood toe. Bly hier en waak saam met My.” Hy het toe ‘n entjie verder gegaan, met sy gesig teen die grond neergeval en gebid: “My Vader, as dit moontlik is, laat hierdie beker by My verbygaan. Nogtans, nie soos Ek wil nie, maar soos U wil.” Hy kom toe by die dissipels en vind hulle aan die slaap, en Hy sê vir Petrus: “Was julle dan nie in staat om een uur lank saam met My te waak nie? Waak en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak.” Hy het vir ‘n tweede keer weggegaan en gebid: “My Vader, as dit nie moontlik is dat hierdie beker verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied. ” Toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer aan die slaap, want hulle oë was swaar van die slaap. Hy het hulle toe daar agtergelaat, weer teruggegaan en vir die derde keer gebid, en dieselfde woorde herhaal. Toe kom Hy by die dissipels en sê vir hulle: “Julle slaap en rus nog steeds? Kyk, die uur het aangebreek, en die •Seun van die Mens word in die hande van sondaars oorgelewer. Staan op, laat ons gaan. Kyk, die een wat My verraai, is naby.” Jesus was nog besig om te praat, toe Judas, een van die twaalf, skielik daar opdaag. Saam met hom was daar ‘n groot menigte met swaarde en knuppels, gestuur deur die leierpriesters en familiehoofde van die volk. Sy verraaier het vir hulle ‘n teken gegee: “Die een wat ek soen, dit is hy. Gryp hom.” Hy het dadelik na Jesus gegaan en gesê, “Gegroet, Rabbi!” en Hom gesoen. Jesus het vir hom gesê: “Vriend, doen waarvoor jy hier is.” Toe het hulle nader gekom, Jesus gegryp en Hom gevange geneem. En skielik het een van dié saam met Jesus na sy swaard gegryp en dit uitgetrek. Hy het die slaaf van die hoëpriester getref en sy oor afgekap. Toe sê Jesus vir hom: “Bêre jou swaard op sy plek. Want almal wat die swaard opneem, sal deur die swaard omkom. Of dink jy nie Ek kan maar net my Vader aanroep, en Hy sal dadelik meer as twaalf legioene engele tot My beskikking stel nie? Maar hoe sal die Skrifte dan vervul word wat sê dat dit so moet gebeur?” Op daardie oomblik het Jesus vir die menigte gevra: “Het julle soos teen ‘n rower uitgetrek met swaarde en knuppels om My gevange te neem? Dag ná dag het Ek op die tempelterrein gesit en onderrig gee, en julle het My nie gevange geneem nie. Maar dit alles het gebeur, sodat die Skrifte van die profete vervul sou word.” Daarop het al die dissipels Hom in die steek gelaat en gevlug.”
Matteus‬ ‭26‬:‭36‬-‭56‬ ‭AFR20‬‬

 

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    Liewe Lulu, voordat ek hierdie diep-diep-diepgevoelde liefdes- en dankseggingsoffer gelees het wat jy vandag op die lofoffer-altaar voor die HERE geplaas het, het ek na Debora Govenor se lied, REMBEMBER ME op YouTube geluister. Terwyl ons ander dalk ons woonplek skoongemaak en in orde gekry het vir die heiligste van alle dae op die jaarkalender — die dag toe die Lam van God op die bestemde tyd die straf vir ons ongeregtighede gedra het — het jy geworstel, gebid, gepleit dat die HERE jou aanwysing na die kruis en na die Lam aan baie harte sal seën. Hy doen dit… en Hy sal dit bly doen. Dankie, Lulu. Gebruik hierdie oordenkings asseblief tot seën vir baie, HERE. AMEN.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Baie dankie Maretha! ❤️

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post