**Oordenking # 8 : Jesus is dood. Hy is in die graf.**
DINK OOR DOOD:
Jesus is in die graf. Hy. Is. Dood.
My geliefde kaalvoetkind is dood. My kleinsus se geliefde eerste huweliksmaat is dood. Dood wag iewers in die toekoms vir ALMAL van ons. Dis deel van die lewe, dit veroorsaak verlies en verlies bring smart. Rou is ‘n onpeilbare reis met smart as padkaart oppad na ‘n plek toe waar verlies omhels kan word. Daar is nie kitskursusse, kwytskelding of selfs kulkodes vir hierdie reis nie.
Dit gebeur ook dat dood slegs gedeeltelik en nie volledig is nie. Dit gebeur wanneer stukkies lewe doodgaan, maar nie die lewe self nie. Dit veroorsaak ook verlies en, gevolglik, smart en kan in verskeie fasette van die lewe voorkom.
Die verantwoordelikheid om vooruit te beplan in die lewe is belangrik, noodsaaklik en goed. Ons behoort dit met sorg en wysheid te doen. Afhangende van die stadium van ons lewens, beplan ons vir opleiding, huweliksmaats, gesinne, verblyf, vakansies, sport, stokperdjies, inkopies, maaltye, siekefondse, reise, besittings, vervoer, aftrede en vele meer. Maar die een gebeurtenis waarvoor ons beplanning so dikwels vêr tekortskiet, is ook die enigste een uit die hele versameling waarvan ons 100% gewaarborg is. Dood. Voordat ons daarvoor kan beplan, moet ons eers daaroor praat.
Voor ons daaroor praat, moet ons eers daaroor dink.
ROUSMART:
(Sommer net ‘n gediggie uit my hart uit…)
Ek rou, in smart…
My geliefde Jesus is dood
Die Spil waarrondom alles draai
Die Weg en Waarheid is dood
Man van smarte. Weg. Dood.
Rou en smart maak rousmart
Donker en dood maak duisternis
My woorde is min en flou
My hartklop is sag en swak
Ek beweeg asof ek in gom is
Ek hoor asof ek onderwater is
Ek sien alles in waserige blur
Ek voel ALLES, HEELTYD
Ek ken die storie se einde
Ek weet daar is net ure oor
Maar hulle ken dit nie
En ek voel hulle smart
Maria (ima) se siel is doodgesteek
MariaM, drenkeling in donker verlatenheid
Martha en MariaB se ouboet is uit die graf
Maar hulle geliefde Verlosser is in die graf
Ek weet nie, ek verstaan nie
My kop is slim, my hart is dom
My siel is stukkendgebreek
Ek kan nie ophou huil nie
Laat my toe om vir net nog
‘n Kort klein rukkie hier
Te bly, te sit in duisternis
Ek het dit tog so baie nodig
Want hoe dieper die duisternis
Van my smart op hierdie swart dag
Hoe helderder gaan die Lig blink
Wanneer môre uiteindelik kom
Hulle weet dit nie, maar môre kom
En dit gaan ALLES verander
Dit verander reeds ALLES vir my
Maar vir nou….laat my net rou
In smart.
§—Oordenking # 9 : OPSTANDINGSONDAG volg môre—§






Lulu, so gou, so oombliklik het hierdie woorde tussen die ander opgespring om my hart binne te dring: ”Dit gebeur ook dat dood slegs gedeeltelik en nie volledig is nie. Dit gebeur wanneer stukkies lewe doodgaan, maar nie die lewe self nie” Ons sien dit mos soms twee, drie kerkbanke voor ons. Ons ervaar dit in onsself. Misbruikte vroue en kinders dra hierdie soort dood dikwels onder sprankel en ‘n warm glimlag met hulle saam. Vanaand bid ek sommer vir sulke vroue en kinders: HERE, laat elkeen wat hier lees en so-iets deurgemaak het, asseblief herleef. Beskik U die herlewing asseblief, HERE.En verder, HERE, u lyding, selfs in films uitgebeeld, is onverduurbaar elkeen wat nadink, soos LULU. Ons dank U vir die heel grootste onbegryplikheid en die onvernietigbare triomf: dat U die dood oorwin het, dat U nou in heerlikheid regeer… dat ons U met die wederkoms sal sien soos U is. Dankie, Lulu, vir ‘n aangrypende oordenking.
Baie dankie vir jou opvallende waardering asook jou deelname met soveel insig en begrip, Maretha! ❤️