Spesiale huldeblyk aan ‘n grondslag-legende op haar vyftigste lewensjaarviering.
.
Op 2 April 2024 het ek DIE MERKWAARDIGE TENTWONING VAN ONS REUS IS AFGESLAAN geplaas as huldeblyk aan Pieter van der Merwe, my larger-than-life brother-in-love, wat die vorige dag gesterf het. Piet was verseker ‘n merkwaardige legende, maar hy was ook die getroue lewensmaat/sielsgenoot van my kleinsus wat alleen agtergelaat is en op 21 Julie 2024 het ek BITTERSOET VERJAARDAG opgedra aan haar. Vandag is 21 Julie 2025 en my kleinsus is 50 jaar oud en ek dra hierdie skryfstuk op aan haar. Sulette (Let) was die grondslag-legende wat Piet se legende onderskryf, onderhou en ondersteun het. Vandag trek ek haar vanuit die agtergrond uit en skyn die kollig op die merkwaardige LE(T)GENDE.
.
Liewe leser, ek stel jou graag voor aan my kleinsus, Sulette (née Smit) van der Merwe (binnekort Theron).
Met doopname Susanna Wilhelmina is sy vernoem na ons paternal ouma, maar niemand het ooit regtig daardie name gebruik nie. Haar noemnaam is Sulette en dit het tog soveel sagter op veral kinder-ore in die 1980’s geval. Ek vermoed dat sy, soos vele van ons Afrikaanssprekende GenX’ers met shame-triggering familiename, waarskynlik verskeie kere verskoning moes maak aan astrante Boomer/Silent Generation onderwysers wat aangedring het op die doopnaam-aanspreekvorm en dan geen reaksie gekry het van noemnaamkinders nie. Maar ons is lankal nie meer kinders nie, 1980 is 45 jaar gelede en ons is veel beter ingestel op die betekenis van name. Susanna is afgelei van die Hebreeuse naam Shoshanna wat lelie of roos beteken. Die naam word geassosieer met reinheid, skoonheid en grasie. Wilhelmina is van Germaanse herkoms. Dis gewild in koninklike kringe en dit beteken sterk beskermer. Saamgevoeg getuig hierdie name van iemand met krag, deug en elegansie. Inderdaad ‘n kolskootbeskrywing van Sulette!
Sy is 3 jaar jonger as ek, maar sy het my verbygegroei nog voor my tiende verjaardag en, vir ‘n kort rukkie, moes ek tevrede wees met hand-me-downs van haar af. Gelukkig het sy gou die besondere gawe ontwikkel om klere te dra totdat dit die ertjie-sif-vlak van gehawendheid bereik het. Dit kon nie eers deug as skroplappe nie en, soos die opdrag op die gaan-tronk-toe-kaartjie in Monopoly, was dit ‘n geval van GAAN REGUIT ASBLIK TOE, MOENIE BY HAND-ME-DOWN VERBYGAAN NIE! Sy was die enigste mens wat ek geken het wat dit kon regkry selfs met Woolies kledingstukke en Woolies het op daardie stadium hulle hoogstaande-kwaliteitsbeloftes eerbiedig. Nie soos tans, waar hulle steeds belowe, maar ek vermoed hulle hulle goedere bekom vanuit die weggooimandjies van bedenklike massavervaardigingsfabrieke in die duisterhoekies van dodgy derdewêreldlande nie. Dis die tipe plekke waarvoor PEP en Ackermans waarskynlik hulle sal neuse optrek.
Sulette se besorgdheid oor, belangstelling in en liefde vir diere was reeds van kleins af onmiskenbaar duidelik. Sy was nooit bang nie en het haarself altyd met die aansteeklikste opgewondenheid ontferm oor selfs die grillerigste en glibberigste skepseltjies. Ek onthou spesifiek een geleentheid wat gelei het tot ‘n opskuddingskonsternasie. Sy was so ingeneem met ‘n piepklein geitjie in haar hande en wou dit so graag vir ons deftig-geklede ouma wys. Ouma was gretig om te kyk, maar sy was salig onbewus daarvan dat daar lewendige inhoud binne-in Sulette se toe hande was. Ongelukkig het sy die loergleufie tussen haar vingers effe te groot oopgemaak en die verskrikte geitjie se vryheidsduik was reguit in Ouma se handsak in. Binne ‘n breukdeel van ‘n enkele sekonde, en met die oëverblindende ratsheid van ‘n gesoute kulkunstenaar, het Ouma haar handsak “verloor”. Haar aanvanklike bloedstollende gil het ‘n bykans-onhoorbare skokgedrewe piep geword toe dit met mening teruggesuig was in haar asem-benoude longe in. Die geur van 4711 het ontsnap vanaf die stukkende glasbotteltjie op die teerblad van die parkeerarea waar dit uit Ouma se handsak uitgeval het. Daar was ook ‘n klompie ander items rondom die oop handsak gesaai, soos twee volmaak-gevoude wit sakdoekies en ‘n ongedeerde klein fotoraampie met Oupa se foto in, maar niemand het ooit weer die geitjie gesien nie.
Iewers na 1986 het ‘n opspraakwekkende skindergerug die rondte begin doen. Daarin was beweer dat ek en Sulette, as tieners, mekaar met broodmesse deur die huis gejaag het. Die versteurde persone wat daardie gerug aan die gang gesit het, verdien ‘n draaiboek-Oscar in die bedenklikheids-genre van Hollywood-flieks. Goeie genugtig, hoe het hulle koppe dan gewerk?! Broodmesse het mos nie skerp punte nie, dit was steakmesse! Ek kan ongelukkig nie bevestig of ontken dat dit so gebeur het nie, want ek onthou net die gerug en nie die handeling nie. Met ‘n groot, hartseer knop in my keel, kan ek wel erken dat ons, gedurende daardie tyd, geen hegte verbintenis gedeel het nie. Ons het mekaar verdra amper soos twee vasgekettingde honde wat vir mekaar lê en loer het omdat ons geweet het dat die kettings net-net te kort was om kontak te bewerkstellig. Ek is nie ‘n Disney Frozen aanhanger nie, want ek verkies Moana & Mulan, maar ek kan nie help om te wonder of ek nie dalk ‘n bietjie soos Elsa (met haar kleinsus Anna) was met my kleinsus nie. Was ek dalk ‘n flash-freezing-frigid Elsa as Elsa ook ‘n female pitbull was? Ek kan nie tyd terugdraai en dit gaan regmaak nie, maar ek kan verskoning maak. Ek is so jammer, liefste Let!
Perdry was een van Sulette se besondere passies en sy kon dit nie wegsteek nie al wou sy ook. Nadat sy my vir ‘n lang tyd lank gereeld genooi het om saam met haar te gaan, het ek toe uiteindelik daardie eenkeer ingestem. Ek het my vrees stewig vasgebind en diep weggepak, sodat ek kon uitsien daarna om op ‘n perd te ry. Sy het my verseker dat ek nie die wildste perd, Country Bumpkin, hoef te ry nie, maar toe word hy aan haar toegeken. Sy het absoluut uitgeblink met haar natuurlike talent en vaardighede – sy en daardie wilde perd was volmaak gesinchroniseer. Ek kan nie eers onthou watter perd aan my toegeken was daardie dag nie, maar ek kan onthou dat ek die teenoorgestelde van Sulette was. Grasie en ritme het my heeltemal ontbreek, ek moes sekerlik gelyk het soos iemand wat probeer wals of sokkie op heavy metal of dalk selfs veel, veel erger. Haar bewegings was grasieuse harmonie en myne was goor hop-hop. Ek het wel die lekker daarvan ook geniet, die gevoel van die wind op my gesig was bevrydend en verfrissend. Na die tyd, terug in die stalle, tydens die roskam en onderhouds-take, het die perd-allergene my longe oorval amper soos die skelm Trojaanse-Perd-soldate wat uitgebreek het om Troye binne te val en ek het my heel eerste asma-aanval gehad. Ek het myself daarna uitsluitlik op ballet toegespits en Sulette het nooit weer gevra dat ek saam gaan perdry nie.
Van ballet gepraat, Sulette het ook haar kortstondige balletloopbaan met oorgawe aangepak al was dit nooit regtig haar cup of tea nie. Dit verg regtig nie in-diepte kennis van fisika om te begryp hoekom die beste professionele ballerinas ondergewig is nie – huiskrane word nie uitgereik as standaard-toerusting vir manlike balletdansers wat ballerinas moet hanteer soos trompoppiestokkies nie. Maar die ballet waaraan ek en Sulette deelgeneem het, was veronderstel om vir dogtertjies en nie trompoppiestokkies te wees nie. Daar was nie manlike balletdansers nie, net dogtertjies wat almal opsoek was na belonging in ‘n veilige dogtertjie-omgewing waar hulle gekoester en nie gekritiseer moes word nie. Daar was omvattend meer aan Sulette as net haar onuitgesteekte geraamte wat effe dieper versteek was as die res van ons s’n, maar die verkrampte geraamte-gedrewenheid het veroorsaak dat die verdraagsaamheids- en deerniskwosiënte van die invloedrykste balletpoppies en balletmammies net so liggewig soos die trompoppiestokkies was. Soms wens ek dat ek net gou kon teruggaan na die voorbokke in die LittleLulu&Tubby spotterskring, want ek het ‘n paar kragtige keurgraadwoorde om op hulle los te laat. Maar dan onthou ek Sulette se glimlag, die cute, double-dimple smile waarmee sy die volmaakste smile-and-wave kon uitvoer nog lank voor die pikkewyne van Dreamworks se Madagascar die term gecoin het. Haar glimlag kon die pyn uit haar oë uittrek en veilig binne-in haar hart bêre (weg van die dowwe oë van begriplose mense af) terwyl dit haar toeskouers stilgemaak of oortuig het. Haar glimlag was soos ‘n oorweldigende onsigbare golf van iets wat onbeskryflik mooi was. My keurgraadwoorde, in teenstelling, was altyd in ‘n volhoubare toestand van oorlogsgereedheid met die vermoë om verdienstelike oortreders bloot te stel aan ongunstige ervarings, soos werklike speekselverstikking en denkbeeldige dermkruipende brandwurms. Sulette mag dalk nog onbewus wees daarvan, maar haar glimlag doen dit steeds en die slaankrag daarvan is soveel sterker as enige lees-tussen-die-lyne zap sign of selfs my keurgraadwoorde wat intussen ontwikkel het tot veelsydig-lanseerbare, akkurate interkontinentale ballistiese kernmissiele. Haar glimlag kan steeds selfs my stem stilmaak!
My kleinsus is ‘n hoogs-veelsydige vrou met merkwaardige vernuftigheid op vele gebiede. Ek kan met oortuiging verklaar dat sy besonder begaafd is in die tweeledige rol van vrouwees. Ongelukkig beskik Afrikaans oor net een woord vir beide, so Engels gaan maar moet help. Die eerste rol is die van woman. Soms moet ek my eie onwillekeurig-oopvallende onderkaak met my hand toeklap wanneer ek haar, in verwonderende verstomming, aangaap. Met kleurvolle vreesloosheid het sy oor die jare heen haar eie styl verfyn. Ek dink daar is weinig min haarkleure en haarstyle waarmee sy nie geëksperimenteer het nie en amper alles het haar goed gepas. Sy het ‘n buitengewone gawe om haar afgeronde voorkoms in ‘n visuele mens-meesterstuk te omskep wat koppe laat draai. Op hierdie punt wil ek jou graag herinner daaraan dat volwasse Sulette ook nie ‘n trompoppiestokkie-liggaamsbou het nie. Haar verbintenis met swaartekrag is bo-gemiddeld sterk en sy koop haar stylvolle klere aan van handelaars wat nie suinig is met lap nie. Sy lyk op enige gegewe dag veel mooier as enige van ons wat in lap-suinige winkels kan shop en die mode-industrie kan beslis by haar aanklop om te leer van elegante, bewonderingswaardige styl. Ongelukkig onderskryf die modewêreld ook die gestremde ingesteldheidsmodel dat net vroue met die liggaamsbou van ‘n trompoppiestokkie, aanvaarbaar en mooi is. Sulette het baie vinnig geleer om gemaklik in haar eie vel te wees en haar waarneembare selfversekering is deurtrek met nederige vredeliewendheid. Tog is daar ook ‘n onsigbare beskermingsveld rondom haar wat ‘n duidelike boodskap uitstuur dat sy ‘n fyn-ingestelde bulbollie-radar het en dat sy nie die snollie-snert van skakkerlakke duld nie.
Die tweede rol is die van wife. Ek is nie seker of my woorde enigsins Sulette se afgehandelde rol, as Pieter se vrou, verdienstelik kan eerbiedig nie. Daar is ‘n spreekwoord wat lui… As jy nie sterk is nie, dan moet jy slim wees. My kleinsus is beide sterk EN slim! Sy is die tipe sterk wat NEE-bestand is. Ek bedoel nie die NEE wat kom as antwoorde op ons verwagtings van gewone goete nie. Almal van ons ken die toe deure van NEE-antwoorde en dit is ongetwyfeld sleg, maar ek verwys na ‘n vlak van NEE-antwoorde wat die meeste mense nooit hoef aan te hoor nie. NEE, julle kan nie kinders verwek nie. NEE, al julle alternatiewe vrugbaarheidspogings het misluk. NEE, jou aanstelling word opgeskort en jy word ontslaan. NEE, ons neem geen verantwoordelikheid daarvoor dat ons jou liggaam onherstelbare skade aangedoen het weens ons opgeblaasde ego’s en onderontwikkelde kundigheid nie. NEE, ons is eintlik clueless oor jou chroniese gesondheidstoestande, maar ons sal voortgaan met die peperduur protokol van mislukte mediese behandeling en dan die skuld vir hierdie mislukking op jou slegte gewoontes plaas. NEE, ons sal voortgaan om jou uit te buit met afgryslik-skandelike fooie vir die behandeling van toestande wat ons met omvattende Latyns-akademiese vaagheid kan omskryf, maar nie regtig kan behandel nie en glad nie kan genees nie. NEE, ons mislei jou met die vooruitsig van genesing/herstel van ‘n onomkeerbaar-noodlottige toestand wat jou ontneem van kosbare tyd saam met ‘n sterwende sielsgenoot. Sulette se sterk spiere en haar sterk gees het haar en Pieter gedra deur vele tye van onbeskryflike pyn en lyding. Dit neem die skrander deugsaamheid van ‘n egte slim mens om nie haar sterk spiere aan te wend om die snollie-snert uit skynslim mense uit te slaan nie!
Hoewel ek en Sulette nader aan mekaar begin groei het sedert ons oorgang van tienerjare in volwassenheid in, was dit die nasleep van dood wat ons lewens vervleg het met ‘n hegtheid wat ek nie behoorlik kan verwoord nie. Selfs in die ergste, lewensbedreigendste storms is ons harte verenig in geloof, hoop en liefde. Onwrikbare geloof in Jesus, ons Verlosser, Wie ons vrygekoop het van ewige dood en ons nooit sal verlaat aan hierdie stukkende kant van die ewigheid nie, ongeag van hoe seer, stukkend of sleg dit raak. Standvastige hoop in ewige lewe sonder stukkend en seer aan die volmaakte kant van die ewigheid. Onvoorwaardelike liefde VAN God, DEUR Jesus VIR ons om DEUR ons NA mekaar en ander te vloei. Oor die laaste maande het ek verskeie kere oor Sulette geskryf in verskeie van my werke en ek haal graag stukkies aan:
Uit MOTHER’S DAY 2024:
“To my offspring and their offspring, you are known as Tannie Let, and if you and I had to ever compete in a Coolest Rolemodel contest, you would win hands down! You are stylish, sassy, strong, witty, wise and wonderful….
I would like to honour you for all the womb-independent MOTHER’S love you so generously bestow on my offspring, their offspring, your other nieces and nephews and the children of your friends. Thank you for giving so selflessly and unconditionally!”
Uit HARTJIE, GAAN JY OKAY WEES:
“Op ‘n vreemde manier het dood die band tussen my en Let versterk. Ek kan niks doen om haar stukkendseer weg te vat nie. Maar ek kan voel, luister, bid, troos, bemoedig, aanmoedig, verstaan, belangstel, waardeer, ondersteun en onvoorwaardelik liefhê. Met haar stukkende halwe lyf hou sy aan met lewe en het sy nog nooit gaan lê en/of opgegee nie. Met diep lemmetjie-snye in haar siel en brandrissiegas in haar longe, verdra sy bot, begriplose, gevoellose, onsensitiewe en verwaande mense en staan sy elke keer weer op wanneer sy platgeslaan word….
My kleinsus is sekerlik een van die sterkste vrouens in ons stukkende wêreld. Sy is nie ‘n yster of ‘n rots nie. Nee, sy is wolfram-chroom (tungsten-chromium alloy) en nie eers dood kan haar nie uitmekaar trek of verpletter nie. Ek het haar grootste fan geword en dis my eer en voorreg om haar ousus te wees en in haar ondersteuningshoek te wees. Ek kan nie my liefde vir haar akkuraat, in woorde, uitdruk nie en ek is so ongelooflik trots op haar!”
Daar is nog twee kindertydstories in HARTJIE, GAAN JY OKAY WEES en ‘n vermaaklike vertelling van interaksie tussen Sulette en Pieter tydens ‘n check-your-mate-speletjie in BITTERSOET VERJAARDAG. Lees gerus ook die verwysing na Sulette se nuwe lewenshoofstuk saam met Sarel in my onlangse werk TRIBUTE TO TWO.
Ek kan soveel meer skryf oor my kleinsus, maar ek glo dat ek daarin geslaag het om ‘n oorsigtelike kykie te gee agter die skerms van Let se lewensstorie, LE(T)GENDE.
.
Aan my geliefste kleinsus, sekerlik die sterkste, deugsaamste en elegantste vrou wie ek ken, baie geluk met jou vyftigste verjaardag! Mag jy ons Heer se guns en genade in oorvloed geniet!






Liewe Sulette, selfs voordat ek hierdie hartgrondiglik eerlike en liefdevolle skrywe van Lulu gelees het, het ek lank na jou foto en daardie volmaakte glimlagkuiltjies sit en kyk. Hoe pragtig is jy! Hoe pragtig is jou siel wat so van binne af deur jou oë skyn… Mag die Here jou ryklik op die volgende stukkie lewenspad seën, En, Lulu… wat ‘n suster is jy! Daar is mense wat meer as hulle voortande sou gee vir ‘n suster soos jy. Dankie vir ‘n LIEFLIKE ode aan ‘n LIEFLIKE suster.
Liewe Maretha, baie dankie vir jou mooiste woorde van diep, waarderende bewondering asook jou egte seënwense! ❤️