Liewe mede-Pellissier-lidmaat, ek nooi jou graag om saam met my ook jou hart te check…
.
Die klerewinkel waar arm mense kon koop sonder geld
Is weer die stowwerige parkeerterrein vir ons karre
Die restaurant waar honger mense verniet kon eet
Is weer ons kinders se vrolike, kleurvolle kuierplek
Die groot ouditorium met die liggiekruis wat almal insluit
Is weer ons effe uitsluitlike Afrikaanse aanbiddingsplek
Here Jesus, dankie dat ons lig en lewe kon bring
Al was dit net vir ‘n kort, klein rukkie 10 dae gelede
Dankie vir Abraham se glimlag oor sy vol maag
Dankie vir Puleng se kindergebedjie van vertroue
Dankie vir Hlengiwe se warm drukkies van liefde
Dankie vir Timo se diep dankbaarheid oor ‘n koekie seep
Here Jesus, maak ons instrumente van U genade!
Laat ons harte klop vir mense net soos U s’n
Laat ons diep kyk om waarlik te sien
Laat ons versigtig hoor om waarlik te luister
Laat ons eie seer ‘n bietjie aan ons lywe luier sodat
Ons ander mense se stukkend in ons derms kan voel
Here Jesus, mag ons asseblief nooit vergeet nie…
Dat Kenton dalk nog nie weer kos gehad het nie
Dat Flip se stukkende been dodelike infeksie gekry het
Dat Sylvia se dronk man haar weer papgeslaan het
Dat klein Tumi se siel weer stukkend gesteek is en
Haar mooi nuwe klere gesteel is terwyl sy moes ly
Here Jesus, laat ons asseblief altyd onthou dat
Ons nie Shop Day casuals is nie, maar eerder
Voltydse ligdraers van die Lewende God en
Dat 355 dae ‘n baie, baie lang tyd is om te wag
Vir Abraham en Puleng en Hlengiwe en Timo
En Kenton en Flip en Sylvia en Tumi…
… om net weer vir ‘n kort, klein rukkie lig en lewe te ervaar by ons op die volgende Shop Day geleentheid.
Laat ons harte asseblief klop net soos U hart klop vir alle mense, elke dag, 365 dae per jaar, elke jaar vir so lank as wat ons mag lewe!
Amen.






Lulu, wat ‘n aangrypende stuk poësie. Maar dit is nie net letterkunde nie. Dit is jou gebed. Dit is ook my gebed vir die Liggaam van Christus. HERE, al is die soutkorreltjieverhouding tot die deeg so gering, al voel die lig soms soos flakkerende kersvlamlig, al is die oes so groot en die arbeiders so min… werk asseblief duisendvoudig deur dié wat sout en lig vir die wêreld en swetende arbeiders op die land is. Om u Naam ontwil— sodat u Naam, u Wese, daardeur verheerlik sal word. AMEN.
Dankie, liewe Maretha! Vir jou getroue ondersteuning. Vir jou wysheid. Vir jou meelewing. Vir jou gebede wat met myne saamsmelt. Vir jou begrip. Dankie vir JOU! In ons Heer se groter prentjie, of ons nou die uitsteek-sandkorreltjies of die wegsteek-sterretjies is, ons is Sy voltydse arbeiders en Hy weet dat ons papbatteryflitsies en dermknope kry. Mag Hy ons Sonkrag en Peploc wees! 🙏🏼