Die kwesbaar-eerlike oordenking van een veglustige female wat ‘n toegewyde groepie girlfriends ‘n yslike verskoning skuld…
.
Liewe leser, wanneer laas het jy gevaarlik-verkeerde afleidings gemaak alvorens jy dan ‘n sterk selfregverdigende standpunt ingeneem het om jou verklaringsposisie met onontglipbare bewaking te beskerm en met vernietigende trefkrag te verdedig? Kom ek vertel jou my verleentheidsverhaaltjie, want daar is min dinge wat soveel onnodige skade aan menseverhoudings kan aanrig soos onopgeloste misverstande en/of ongegronde wanopvattings.
.
—Aanloop tot die event, eers die selfregverdiging en dan die toegewing—
“Gaan jy die vrouekamp bywoon?” “Nee dankie, dis nou glad nie my tipe ding nie.”
Ek hou nie van sepies-, kerse- of juwelierswaremaak nie. Ek wil nie probeer oefen saam met fikse, vietse, volmaakgegiete marmerbeeldjie pre-pre-pre-menopausal vroue in fyn gymkleertjies met cute voorkopsweetpêreltjies nie. My sweet is brutal, nie cute nie, om goeie Fantasia-like posture te handhaaf met my eie seekoeilyfie-bo-op-nommer-twee-skoene IS oefening en daar bestaan nie genoeg of geskikte lycra or underwire om swaartekrag te flous nie. Soos dit tans staan, voldoen die reksterkte van my gewone, nie-oefening, ouma-onderklere-vormdrag aan dieselfde vereistes waaraan NASA waarskynlik die reksterkte kan meet van moontlike superketties waarmee hulle vuurpyle van die aarde af in die ruimte in sou kon lanseer. Ek wil eintlik graag die mannebediening se geleenthede bywoon, want hulle tackle real life issues soos verslawing, versoekings, kunsmatige intelligensie en armoede, maar ongelukkig ontbreek daardie vervlakste Y-chromosoom by my.
“Mom, I see that your church is having a camp for girls in October. Are you going?” “No my sweetheart, it is not really my thing. But if you’re interested, you should go.” “I won’t go if you don’t go with me.”
My volwasse kinders se geestelike welstand geniet nog altyd veel hoër prioriteit as my eie gemak en aanpasbaarheid. Ek gaan hierdie kamp móét bywoon en ek kan dan mos net so wel al my dogters saamnooi. Almal aanvaar my uitnodiging en ek skryf 6 AssieTribeGirls in vir die kamp. Ek het geen twyfel oor die onskatbare waarde wat die geestelike bediening deur die diensbare leraars, soos gelys op die agenda, inhou nie en ek sien uit daarna. Ek ken die aangename vroue met wie ek in gesprek tree oor die kamp en hulle is net so vriendelik en verdraagsaam soos ek hulle onthou. Hoe dan nou anders? Hulle is dan mede-gelowiges in my geliefde Pellissier Gemeente en, wesenlik, my peeps. Dis net die girly goete wat nog pla en uiteindelik berus ek daarby om as two-headed female alien among human females ten minste die aandag van my dogters se gevoel van awkwardness af weg te lei. Ten minste het ek darem manicured gel-coloured nails & toenails aan my klein hande en voete, die enigste dele aan my wat petite gebly het toe wraaksugtige gesondheidsbedreigende monstertoestande-onbekend-aan-medici ‘n werklike fat suit aan my toegeken het. Ek het ook darem my hare laat mooi uitblaas al vertoon die off-centered zigzag parting my uitgroeigryshare soos ‘n neon signpost in Vegas. Oor die algemeen dra ek nie grimering nie en ek het nie eers natuurlike wenkbroue nie. Die twee keer wat ek mother of the bride en drie keer wat ek mother of the groom was, het skoonheidskunstenaars wenkbroue op my gesig geteken. Ek is nie ‘n girly girl nie.
.
—Die event, Pellissier Gemeente Vrouespore-bediening se vrouekamp 2025–
Is jy ‘n hardegat, ‘n windgat, ‘n slapgat of ‘n pyn in die gat? Net na ontbyt begelei Charles, Pellissier se eie dierbare dominee, die vroue met sy eie pittige humorsin in ‘n temperamentsontledingsessie wat terselfdertyd insiggewend en vermaaklik is. Sy ingeboude omgeehart vol van onvoorwaardelike naasteliefde en sy fyn-ingestelde mensweesraaksien-radar stel hom instaat daartoe om selfs besoekers van buite die grense van die Pellissier-geloofsfamilie te betrek. Almal neem deel, almal lag en almal leer ietsie nuuts oor hulleself in ‘n groep waar almal welkom is.
Na aandete neem almal weer hulle plekke in. Heel agter in die saal voer twee vroue ‘n gesprek met mekaar terwyl die pasvoorgestelde spreker, Jan-Albert, gereedmaak om sy spreekbeurt af te skop na afloop van die lofprysing. Met aanvoelbare opgewondenheid deel die jong vrou haar opregte waardering vir die spreker met die ouer vrou langs haar. Die jong vrou is ‘n voltydse student in die pylvak van haar Teologiese studies en sy sal hierdie spreker altyd onthou as een van haar gunsteling-dosente. Die ouer vrou luister met deernisvolle aandagtigheid na die jong vrou en haar hart swel met trots. Hierdie is haar hartsdogter wie sy in haar hart ingeneem (soos aangeneem, maar veel dieper) het en vir wie sy reeds onbeskryflik lief geword het. Háár veeltalige Sesotho-sprekende dogter wat ‘n NG dominee wil word en wie self die mamma van die oulikste sewejarige dogtertjie is. Die vreesaanjaende trauma-hindernisse wat sy net in die voorafgaande week moes oorkom, maak van haar sekerlik die dapperste vrou in die vertrek. Sy het geweier om ingetrek te word in die barbaarse geweld en opswepery van oproerige studente-gepeupel en sy moes vir haar lewe vrees en uiteindelik uit die koshuis uitvlug toe die vensters met bakstene stukkendgegooi is. Maar hier sit sy, dankbaar dat sy ekstra tyd met haar dogtertjie kon spandeer, as vlugteling, en opgewonde oor die bediening wat voorlê. Die ligte word afgeskakel vir die lofprysing en die ouer vrou se hart en derms word oorweldig met gevoel en splagchnizomai (Griekse woord wat verwys na die oorweldigende vlak van meegevoel wat ‘n mens se derms knoop) meegevoel. Sy huil onbeskaamd, want die seer en stukkend van die kosbare vroue rondom haar kom lê op haar soos ‘n onsigbare loodkombers.
Jan-Albert stel ‘n paar vrae. “Waar kom jy vandaan?” “Wie is jy?” “Waarheen is jy oppad?” “Watter onmiddellike wonderwerk verlang jy?” “Watter teken sou jy waarneem indien die wonderwerk aan die gebeur is?” Almal oorweeg sy vrae terwyl hulle na begeleidende musiek luister. Daar is mammas wat kinders aan die dood moes afstaan en steeds die uitvalpyn van rousmart in hulle families moet hanteer. Daar is mammas wie se volwasse kinders op geestelike verbypaaie verdwaal. Daar is getroude vroue met stukkende harte omdat hulle huweliksmaats ontrou is aan hulle. Daar is mishandelde vroue wat afhanklik is van huweliksmaats wie hulle met magspeletjies manipuleer en verneder. Daar is eensame vroue wat smag daarna om hulle lewens met spesiale huweliksmaats te deel. Daar is jong vroue wat ‘n onseker toekoms vrees. Daar is ouer vroue wat vrees vir die toekoms van hulle kleinkinders. Daar is vroue wat sukkel met die lewenslange stukkend van verkragting. Daar is vroue wat bitter swaarkry en nie weet waar volgende week se kosgeld vandaan gaan kom nie. Daar is vroue wat angstig wag op mediese toetsuitslae wat hulle lewens onherroeplik gaan verander. Daar vuisvoos vroue wat reeds opgegee het op die onverbiddelike oorlewingstryd, maar die kamp bywoon in ‘n laaste desperate poging van hoop op ‘n reddende uitkoms.
Met verwysing na vier vroue met dieselfde naam, Maria, wie hulleself in Jesus se geselskap bevind het, bring Jan-Albert soveel gesondmakende vertroosting, hernude hoop en die tipe vrede wat menseverstand te bowe gaan. Daar was Jesus se liefdevolle ma wat haar Seun aan die dood afgestaan het. Daar was die vrou van Klopas wat getroude vroue verteenwoordig. Daar was Maria Magdalena wat enkelvroue verteenwoordig, sy was eers verwerp en mishandel en toe word sy die eerste persoon aan wie ons opgestane Here Jesus verskyn het. Laastens was daar Maria van Betanië wie onbeskaamd aan Jesus se lippe gehang het en deur haar suster Martha verafsku is daarvoor. Jan-Albert lees ook die skrifgedeelte in Genesis voor waar Hagar, die Egiptiese slawevrou, beskryf hoe God haar raaksien en hy sluit sy bedieningsessie af met ‘n oproep aan almal om God se lig uit te strooi op almal rondom hulle.
Die volgende oggend net na ontbyt neem die vroue weer hulle plekke in en die samekoms begin met lofprysing voordat ‘n vrou met ‘n deminhoedjie en sonder waarneembare girly-fieterjasies haar plek inneem as spreker. Sy word voorgestel word as Riekie, die dominee van Dealesville en met die sagtheid in haar teer oë, maak sy oogkontak met almal wat vir haar kyk en sien hulle raak net soos wat haar Jesus sou doen en Wie sy aan hulle wil voorstel as enigste Oplossing vir die grootste lewensterleurstellings. Eers vertel Riekie ‘n hartroerende storie oor ‘n peperduur swart nommertjie wat ten minste twee nommers te klein was en waarmee ‘n dwase dominee die selfbeeld van ‘n jong vrou versplinter het tydens ‘n vieslike fat shaming ete in ‘n weelderige restaurant. Riekie was daardie jong vrou en wanneer sy dan uiteindelik by die deel in haar storie kom waar sy wel daardie spesiale iemand ontmoet en hy haar vra om te trou, kleur sy eers die donkerder gedeelte van die prentjie rondom die mooi gebeurtenis in.
Die bronskleurige spanjoel se stert swaai verwoed toe die onbekende vrou naderstap en toe die twee se oë mekaar ontmoet, is dit liefde met eerste oogopslag. Hulle deel ‘n soort onuitspreekbare hartseer met mekaar. Agter die tralie-hekkie is Jessy, die weggooi SPCA special met blaasprobleme, wie se toekoms aan skerwe lê omdat sy slegs ure weg is van die genadedoodsinspuiting af. Voor die tralie-hekkie is Riekie, wie se teer vrouehart aan skerwe lê omdat die ondeurdenkte projeksiewoorde van ‘n goedbedoelende mens die veiligheidsgrens van vertrouenswaardige kwesbaarheid oortree en dit stukkendgebreek het, die keer in ‘n victim shaming skouspel. Riekie neem daardie dag vir Jessy aan en die twee begin ‘n saamstappad wat uiteindelik 22 jaar sou duur. Riekie het Jessy se lewe gered en gekoester tot aan die einde van haar hondelewe. Jessy het Riekie se hart laat gesondword sodat haar innerlik-innige begeerte om dit te deel met ‘n huweliksmaat, vervul kon word.
Wanneer Riekie, ma van ses en kanker-gatskopper, vertel van hoe Jesus haar storie skryf ondanks al die stukkendseer van fat & victim shaming teleurstellings, dan is dit onomwonde geloofwaardig. Haar roerende getuienis wat sy met ongefilterde egtheid vertel, word soos gom wat die vroue aan mekaar verbind en die wonde van hulle seer heg. Trane. Liefde. Samesyn. Girlfriends, hand in hand.
.
—Die gewaarwordinge wat my siel diep aangegryp het—
Weens onvoorsiene omstandighede, kon net een van my dogters een van die bedieningsessies saam met my bywoon en teen die tyd dat Riekie die event afgesluit het, was ek die enigste van die 6 AssieTribeGirls oor by die kamp. Ek het oorspronklik beplan om my dogters te ondersteun terwyl hulle geestelik bedien word met sound & solid Theology en dalk selfs ‘n persoonlike ontmoeting met Jesus ervaar. My beplanning het nie heeltemal uitgewerk soos wat ek verwag het nie en dit het my herinner aan ‘n preek van Stephan Joubert op eKerk ‘n paar weke gelede. Hy het verwys daarna dat ons eerder in Jesus se verwelkomingskomitee behoort te wees en nie deel van ‘n soort mensgemaakte beplanningskomitee nie en alhoewel die konteks waarin hy dit gebruik het, verskil van myne, dit tog so toepaslik is. By hierdie kamp het Jesus beplan om met my te ontmoet en ek is so dankbaar dat ek kon oorskakel van beplanning af na verwelkoming toe.
Hoewel Charles en Jan-Albert met hulle onderskeidelike Y-chromosome nou nie juis kan klassifiseer as girlfriends nie, kon hulle tog daarin slaag om ‘n soort geslaglose girlfriend connection met ons te maak. Charles het my herinner daaraan dat ek nie ‘n two-headed female alien is nie, maar ‘n mensvrou met maanhaarleeu-eienskappe en met haar innemende drukkie, het sy geliefde Carien my as sodanig verwelkom tussen die ander mensvroue.
Jan-Albert, met sy gentle stemtoon en vriendelike kind-heartedness, het my herinner aan my eie kosbare Jesus-ontmoetingsoomblikke op my skryfreis. Ek het Hagar leer ken, die Egiptiese slawevrou wie se lewe my nou alreeds maande lank aangryp en wie ek inskryf in my werklikheidsfiksie-kortverhale en wie die lewens van my hoofkarakters Baru, Amani & Tamara ingrypend verander het. Hagar is die enigste persoon in mensegeskiedenis wat die voorreg geniet het om aan God ‘n naam toe te ken – El Roi, die God Wie my raaksien. Ek het ontdek dat die Hebreeuse woord wat die engel gebruik het om aan Maria te verduidelik dat sy, ‘n maagd, gaan swanger word, dieselfde woord is wat gebruik word om God se heilige teenwoordigheid rondom en binne-in die tabernakel en tempel te beskryf. Ons almagtige lewende God het met ‘n vrou ‘n vennootskap gevorm om Sy Seun aarde toe te stuur om die ganse mensdom vry te koop. Die allerheiligste grond waar die Heilige Gees oor Maria gekom het was, soos met die tabernakel en tempel, nie eers toeganklik vir die manlike hoofpriester nie. Maria Magdalena het seersekerlik aan die diepste onuitspreeklikste graad van vrouwees-stukkend gely, maar Jesus het haar gesondgemaak en sy het Hom getrou gevolg. Hy het haar waardig genoeg geag om heel eerste aan haar te verskyn nadat hy uit die dood uit opgestaan het.
Voor ontbyt op die Sondagoggend het ek op die stoep gesit en skerts met ‘n splinternuwe girlfriend toe ‘n vrou met ‘n wit bloes en blouerige hoedjie in ‘n kleinerige karretjie by ons verbygery het. Daar was geen onsigbare vernaamheids-aankondigingswolk rondom haar of haar kar nie en met eerste oogopslag, kon sy selfs beskou word as ‘n lid van die kombuispersoneel. Later in die eetkamer hoor ek hoe iemand die vrou met die wit bloes en blou deminhoedjie voorstel as Riekie en ek voel die warmte van die diensbaarheidsliefde wat sy uitstraal. Ek het dadelik geweet dat sy inderdaad daar was om te bedien, maar beslis nie roereier en roosterbrood nie. Ek het dadelik aanklank gevind by hierdie besondere vrou en nog voordat sy die eerste woord van haar preek uitgespreek het, het twee gedagtes by my opgekom. Die eerste was dat Riekie ook soos ek, die diepste seer en stukkend van kernontploffing-binnestryde en RockyIV-boksgeveg-oorlewingstryde ken. Die tweede was dat dit tyd geword het vir die minder-lekker gewaarwordinge wat Jesus by my wou tuisbring.
Ek en Riekie volg dieselfde Jesus – die Een Wie ons met Sy lewe vrygekoop het én die Een vir Wie almal van ons goed genoeg is. Jesus het nooit weerlose mense geshame nie – nie die siekes nie, nie die armes nie, nie die kreupeles nie, nie die blindes nie, nie die dowes nie, nie die stommes nie, nie die kinders nie, nie die weggestote randfigure nie EN NIE DIE VROUE NIE! Maar dis toe ek die maanhaarwoede binne-in my voel opbruis het teenoor Koos, die fat shaming dominee in Riekie se storie, dat ek tot baie ongemaklike insigte kom. Voor hierdie kamp het ek dan my selfregverdigende standpunt gestaaf met age & gender shaming! As gelowige ouer vrou, behoort ek mos liefdevolle waardering te hê vir die mooi, swaartekrag-ontduikende jonger vroue en hoewel ek bittermin bygedra het tot my eie fat suit, het hierdie jong vroue immers geensins daartoe bygedra nie. NIEMAND het my verplig om deel te neem aan oefen of arts & crafts nie en dis mos taamlik liefdeloos-vyandig van my om my hele geslag te shame net omdat ander vroue belangstel in sake wat glad nie my aandag trek nie.
Net ingeval dit nie duidelik was nie, ek is die ouer vrou wat in die donker gehuil het. Oor die onlangse lewensbedreigende trauma wat my een dogter moes deurmaak. Oor my naweekplanne vir die ander dogters wat nie uitgewerk het nie. Oor die herinnering aan verskriklike gesinstrauma in die verlede wat die kampvenue gesneller het. Oor die seer en stukkend van die kosbare Maria’s-met-ander-name voor my – die met familiename en die daarsonder, die met mooi en die met mindermooi name. En ook oor al die mense-Jessy’s-met-blaasprobleme wat smag daarna om liefgehê en gekoester te word.
Ek het by die kamp aangekom as iemand wie nie eintlik regtig daar wou wees nie – my antwoord op Jan-Albert se vraag WAAR KOM JY VANDAAN?
Ek het geleer dat dit heeltemal okay is dat ek ‘n hardegat met maanhaar-eienskappe is wat ook soms ‘n pyn-innie-gat kan wees terwyl die diepte van my vrouehart onpeilbaar is – my antwoord op Jan-Albert se vraag WIE IS JY?
Ek het besef dat ek moet werk daaraan om nie weerlose mense te pynig met my hardheid nie – my antwoord op Jan-Albert se vraag WAARHEEN IS JY OPPAD?
Met betrekking tot Jan-Albert se versoek om te dink aan ‘n WONDERWERK wat ek dalk mag begeer, kan ek onomwonde verklaar dat my bewuswordende gerusstelling dat ek ‘n mensvrou en nie ‘n two-headed female alien is nie, juis daardie einste boksie tick. En verder dat, hoewel ek reeds amper vyf jaar lank belonging vind in my geliefde Pellissier Gemeente, my transformation from two-headed female alien na mensvrou toe wat graag volgende jaar se vrouekamp sal bywoon, dan ongetwyfeld ‘n teken is van die WONDERWERK.
.
Natuurlik is ek ook die veglustige female wat die Vrouespore-bedieningspan van my geliefde Pellissier Gemeente daardie yslike verskoning skuld en ek sluit graag af daarmee.
Liewe, liewe Corlé, Annelise, Mariette, Carien, Elsa, Mia & Ilzé
Ek is so jammer oor my eensydig-verwronge opvatting van julle kosbare bediening en dat ek dit nog boonop met die verkramptheid van my eie insecurities versier het net om my standpunt mee te regverdig! Ek was tog so verkeerd!
Baie dankie vir die toewyding waarmee julle ‘n pragtige wegbreek-bedieningsbederf vir alle belangstellende vroue gereël en uitgevoer het, dit het my hart aangegryp en my siel verkwik.
Ek dink dat ek reeds die antwoord op hierdie vraag ken, maar ek gaan dit in elk geval vra. Kan ons asseblief girlfriends wees?
….want EK LIKE JOU, GIRLFRIEND!






Liewe Lulu, hierdie is verhale binne ‘n verhaal binne ‘n groter verhaal. Dit het my tot in my diepste wese aangegryp : van die inleidende vraag af, tot die nederige, blye slotvraag van ‘n Vrygekoopte Baanbreker. Daardie inleidende vraag is so nodig in elkeen van ons se lewe: ”Wanneer laas het jy gevaarlik-verkeerde afleidings gemaak alvorens jy dan ‘n sterk selfregverdigende standpunt ingeneem het om jou verklaringsposisie met onontglipbare bewaking te beskerm en met vernietigende trefkrag te verdedig?” Afleidings kan verkeerd en vernietigend wees. Op grond van sulke afleidings kan ons in selfregverdiging verval en vashaak en ly en self ondergaan terwyl ons klippe na ander gooi. Sjoe, Lulu. Dankie vir ‘n stuk werk onder leiding van die Heilige Gees gelewer. Mag die HERE jou ryklik, ryklik seën.
Liewe Maretha, baie dankie vir jou mooiste mooi woorde en seënwense! Dit was vir my nogal ‘n hartverskeurende ontnugtering om te besef dat ek dan eintlik dieselfde doen as die mense vir wie ek so smoorkwaad kan word…the vile hypocrisy of selfrighteous indignation. 😢
Baie dankie vir die dankie!
Dankie Charles!
Ag, en ek….. laaik jou kwaai, ook maar n opinie gevorm, en toe jou regtig leer ken!
Dankie Corlé! ❤️