ASWOENSDAG

POSTED BY

Lulu van Aswegen

Vandag het ek nie groot woorde nie

Ek het nie eers baie woorde nie

Ek wil net vir ‘n kort klein rukkie

By U sit, in stil heiligheid, in oorgawe

 

Die verskriklikste seer hier aan

Die stukkende kant van ewigheid

Oorweldig my so verlammend erg

Dit voel asof dit my siel verskeur

 

Here Jesus, ek nader tot U

In U teenwoordigheid val ek neer

Ek is tog so innig jammer dat ek

So gereeld die pad byster raak

 

Vergewe my asseblief dat ek

My vlamvat humeur en my

Slegte gewoontes en my

Onbeheerste tong regverdig

 

Vergewe my asseblief dat ek

Doen wat ek nie moet doen nie

En nie doen wat ek moet nie

Ek is uit my hart uit jammer

 

Hier is ek en ek bring ook

My seer, gebroke hart en

My stukkendgeskeurde siel en

En my styfgeknoopte derms

 

Here Jesus, ek onthou

Hier, in U teenwoordigheid

Die pad wat U geloop het

Om my vir ewig vry te koop

 

Die bitterste bitter pad

Vol spot en vernedering

Vol smart en verwerping

Vol sondeskuld en verlatenheid

 

Die NIEMAND van Nasaret

Man van smarte en siekte

Gesigte van Hom af weggedraai

Verbrysel, vermink en verag

 

Here Jesus, so BAIE DANKIE

Dat ek volmaakte behoortenis gaan erf

Aan die volmaakte kant van ewigheid

Al is dit nou eensaam en seer

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post