Veldblommetjie-gediggie
Op die Vrystaatse vlaktes
En langs die Hoëveldpaaie
In die doodsnikke van Somer
In Herfs se eerste lewenslig
Lê laslappiekomberse oopgesprei
Met wit, pers en pienk spikkeltjies
Vlae van vrolike veldblommetjies
Kosmossies — kwistig en kleurryk
Groei welig in helder sonskyn,
Droogte-bestand in swak grond
Selfsaaiers — veerkragtig & veelsydig
Getroue verskynseltjies, jaar na jaar
Skoonheidsprag in vars eenvoud
Vervullende vrede in vreedsaamheid
Die onmiskenbare balans tussen
Die gewone en die merkwaardige
Maar eenkant is ‘n enkelblommetjie
Nie ‘n spikkel op die kombers nie
Dis nie wit of pers of pienk nie
So anders en tog so dieselfde
Die skarlakenrooi blommetjie
Is eintlik ook net ‘n kosmossie
Hopeloos te naby aan die pad
Waar mense dit plat kan ry
Net soos die skarlakenrooi kosmossie, is daar mense in ons samelewing wat eenkant staan omdat hulle anders is. Daardie eenkant is soms te naby aan die pad, waar hulle weerloos staan en uitgelewer word daaraan om platgery te word. Maar selfs al word hulle platgery, verskyn hulle seisoen na seisoen weer daar…..eenkant.
Miskien kan die wit, pers en pienk mense ‘n KOSMOS-les leer oor die skarlakenrooi mense:
Dit KOSMOS niks om goed te wees vir mense wat platgetrap word deur slegte lewensomstandighede nie, want dit KOSMOS alles vir hulle om keer op keer weer op te staan van die grond af.






0 Comments