‘n Gediggie oor 2-9 opgedra aan my geliefde daughter-in-love, Chanré, op haar 29e verjaardag.
Ons wêreld is evalueringsbefoeterd
Alles-of-niks word onderskryf
Die standaarde is skeef en
Die maatstawwe is ongesond
Almal ken die 1-10 skaal en
Alles word hieraan gemeet
Net 1 of 10 tel regtig, want
Tussenin is ‘n verleentheid
Daar iewers tussen 1 en 10
Lê die digste riwwe van
Vindingrykheid gereed om
Ontdek en ontgin te word
Deur ongekende begaafdes
Wat gemaklik tussen 2 en 9
Beweeg en bedryf om dan
Balans te bring en te vestig
Nie op die verhoog of grootskerm
Waar almal dit kan sien nie, maar
Waar die tekkie die teer ontmoet
Daar waar almal dit nodig het
Hierdie 2-9 mense is soos gom
Wat die samelewing stewig heg
Noodsaaklik soos water en lug
Vir almal, selfs die 1’e en 10’e ook
Die 2-9 mense het ‘n geheim
Mislukkings maak hulle sterker
Topprestasies maak hulle stiller
Hulle is die onbesonge helde
Chanré, jy is beslis ‘n besondere onbesonge held (ek vermy steeds geslagstoekenning aan Afrikaanse selfstandige naamwoorde vanweë die Engelse flater mistress of ceremonies). Al is jy besonder begaafd en score jy gereeld, in baie areas ‘n volmaakte 10, is jy gemaklik daarmee om in die 2-9-tussenin te beweeg en noodsaaklike balans te bring. Jou prestasies is selfs meer prysenswaardig omdat jy nie jou menswaardigheid daaraan heg nie. Jy is level-headed en jou onmiskenbare beskeidenheid skyn helderder as enige van die bekende sterre in die glanswêreld!
Baie geluk met jou verjaardag, my sweetheart! Mag ons Heer jou met nog baie meer seën! ❤️
Micah het hierdie vir jou op sy tablet gemaak:

“Vir die opregtes hou Hy vindingrykheid in bewaring, as ‘n skild vir hulle wat onberispelik leef,”
Spreuke 2:7 AFR20






0 Comments