Wanneer dinge anders uitwerk as wat ons verwag
Dis al nege-uur innie oggend en die
mis hang nog swaar in die buitelug.
Die son is daar, onmiskenbaar innie verte,
maar hoekom skyn dit dan nie sterk genoeg nie?
Hoekom is die weer so vreemd die jaar?
Ons Somerreënvalstreek, die semi-woestyn
kry sedert verlede jaar se winter al heeljaar reën.
Dis ongewoon, ongemaklik, ongenooid en onvanpas.
Ek is ‘n blouhemel-sonskynmens en ek begin
al op 4 April die 150 slapies aftel na Lente toe.
Daar is vandag nog net 69 slapies oor, maar
die mis wil net nie voor die son verdwyn nie.
Dan tref dit my soos ‘n papsnoek oppie wang —
die stink en slymerige skaamte van selfsug.
Ek, die ongewone mens wie nêrens inpas nie, is
ongemaklik met iets wat ek nie eers kan uitnooi nie!
Soms bespeur ek nog, in my binneste, die wasems
van die denkbeeldige-towerstaffie-dae toe ek nog die
narre en wolwe, met domastrantheid, nagevolg het.
Here Jesus, vergewe asseblief my verwaandheid?!
Al verdwyn die mis nooit weer voor die son nie,
al reën dit die heeljaar deur of selfs glad nooit nie,
al is daar meer as 150 slapies sonder enige sonskyn,
nogtans sal ek my vreugde vind in en my Verlosser eer!
“Sorg dat julle nooit hardkoppig of domastrant is nie. Doen groot moeite om die wil van die Here reg te verstaan en uit te leef.” —Efesiërs 5:17 DieNuweNuweTestament
“Al sou vyebome nie bot nie, daar geen opbrengs aan die wingerdstokke wees nie, die drag van die olyfbome teleurstel, die landerye niks te ete lewer nie, kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle oor wees nie; nogtans sal ek jubel in die Here, sal ek juig in die God wat my verlos. Die Here, my Heer, is my krag, Hy maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat Hy my loop. Vir die •musiekleier. Met snarespel.” —Habakuk 3:17-19 AFR20






Lief Lulu, nog ‘n hangkop-gelowige hier. Ek sal met ‘n vis op die kop geslaan word as dié wat Ierland om ander redes as sy WONDERLIKE skrywers bemin, die volgende belydenis in die mis hoor: ”Die diep, dwarrelende nag-mis van die Laaglande in Holland is vir my betowerend, vol mistiek, onwêrelds mooi. Maar mis in Ierland laat my koud en verlate voel, sonverlangend en depressief. ” Ek sal nooit iets in Ierland geskryf kry nie, want die droewigheid van die Ierse mis bedroef my gees. Gedurende die misweer van die afgelope dae wat nie uit die Vrystaat wou wyk nie, het ook ek gedink: …En ons wou dan hoegenaamd nie Ierland toe emigreer nie!” Nee, jy is reg. Ook ek moet my geite laat staan en Hom uit wie, deur Wie en vir Wie alle dinge is, gedurende tye van enige vorm van buite-seisoenale dag-en nag-mis eer en verheerlik. DANKIE!
Dankie, liewe Maretha! Gelukkig verkeer ons darem nou net-net aan die regte kant van die wintersonstilstand, die Somer kom. Mens kan net halfpad in iets inloop, want daarna begin jy uitloop en ons begin nou uit winter uitloop. 😎
Great, Lulu!
Thank you, dear Janet!
Dankie Lulu, hierdie woorde is weer raak, mooi saamgevat, en weereens ook my gevoelens teruggebring tot by Jesus se voete.
Liewe Charnetta, baie dankie vir jou mooi waarderingswoorde.