VUUR

POSTED BY

Lulu van Aswegen

verterend en voorwaardelik verganklik

 

Vuur tref geen onderskeid tussen mense

nie, met verterende onversadigbaarheid,

brand dit alles wat brandbaar is.

As dit eers aangesteek is, sal dit

voortwoed totdat dit geblus word.

Die brandstigter kan dit nie tem nie en

die brandbestryder kan nie voorskryf nie.

Dit brand menselywe ook, binne en buite.

 

Sterk brandbestryders geklee in

brandbestande beskermingsuitrustings

met die spuitkoppe van brandslange

in hulle hande, gereed om brande te blus.

In woonplekke, slaapplekke, werksplekke,

ontspanningsplekke, aanbiddingsplekke,

gesondwordplekke, leerplekke, strafplekke—

in alle moontlik-brandbare menseplekke.

 

Mediese nooddienspersoneel staan gereed

om gebrande menselywe wat deur

brandbestryders gered is, te behandel.

Brandbestryders kan vure blus en

mense red uit die vlamme uit, maar

hulle kan nie brandskade behandel nie.

Medici kan net brandskade aan die

buitekant van menselywe behandel.

 

Maar op ‘n verskroeide aarde aan die

stukkende kant van die ewigheid,

waar brandbestryders vasgekeerde

mense in hulle vlammehel uittrap omdat

hulle na rook stink en lewensreddende

mediese behandeling slegs beskikbaar

is teen verstikkende heffingskostes, waar

laat dit ‘n weerlose, brandbare sterfling?

 

Terwyl onvermydelike vure rondom ons woed

en dreig om ons buitekante te laat vergaan,

hoop ons op ons Lewende God — Hy vul

ons binnekante met Sy Lewende Water.

Sy ontferming oor ons ken geen einde nie.

Ons deel Sy troue liefde met ons medemens

deur opregte onselfsugtigheid en genadeguns.

Getrou aan Hom tot ons eendag weer verenig word

 

aan die volmaakte kant van die ewigheid.

 

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

0 Comments

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post