Priemgetalgediggie
Jy kan dit soek of maak en
jy kan dit vind of daarin beland.
Nog voor jy loop of praat, ontmoet jy dit.
Dis so vrek selfsugtig en onverdraagsaam,
elke boelie en elke grootbek se middelnaam.
Dit storm ons lewens binne, soms
so ongevraagd en ongenooid.
Wetgewing kan dit veroorsaak,
maar kan dit nie vernietig nie.
Almal kry dit en niemand spring dit vry nie.
Dis kwylende kernkragknoppie-beneukte
magshonger wêreldleiers se sterkste
woeker-element en terwyl hulle spog oor
die onvernietigbaarheid van hulle vermoëns
om dit wild en wakker rond te slinger, blyk
hulle effe domastrant en doofstom te staan
voor die verganklikheidswerklikheid daarvan.
Magshonger moeilikheidsmakers
moor, manipuleer en minag massas mense.
Jesus-volgelinge hou moed,
hulle oë gerig op Hom
Wie hulle nie kan sien nie,
die ewige Heerser van die heelal.
Hulle oë is nie gerig op die
moeilikheid wat hulle kan sien nie,
want sien, die moeilikheid met moeilikheid is net dit—
moeilikheid het ‘n vervaldatum,
Jesus het klaar sy tjank afgetrap!
“‘Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.’” —JOHANNES 16:33 AFR83






Amen !!!!
Dankie liewe Charnetta. 🙏🏼