SIEN IS NIE ALTYD GLO NIE

POSTED BY

Lulu van Aswegen

Soms moet jy dieper en langer kyk…

 

Daar was ‘n man wat op ‘n tyd vir sy geliefde ouma ‘n iPad vir Kersfees gestuur het. Vanuit hulle opvolgtelefoonoproepe was dit duidelik dat sy die geskenk baie waardeer het. Die kleinseun was nogal nuuskierig en het uitgesien na hulle kuier ‘n paar maande later. Met die instap in sy ouma se kombuis in, merk hy toe dat die iPad se boks netjies op die rak tussen al die kookboeke gepak is. Met haar helder voorskoot aan groet sy ouma hom, soos altyd, met groot opgewondenheid voordat sy weer terugkeer na dit wat haar die grootste vreugde besorg — om kos te maak vir haar kuiergaste. Daar is harmonie in die klanke van Ouma se onophoudende stem, die ritme en die geure van haar handewerk. Hy was nog altyd ‘n ywerige ooggetuie van haar begaafde vermoë om doodgewone bestanddele te omskep in koningskos in en vandag is geen uitsondering nie. Maar dis wanneer sy die laaste ui klaar gekap het, dat alles skielik verander. Hy let op hoe sy die kapbord optel, afspoel onder die kraan, in die skottelgoedwasser laai en dan na hom toe draai met trane in haar oë. “Ou seun, so baie dankie vir my Kersgeskenk, ek waardeer dit so baie!” Hy hoor haar woorde, maar dis die wêreldbekende embleem van ‘n gehapte appel aan die onderkant van Ouma se ‘kapbord’ wat vassteek en die hele, spreekwoordelike, appelkar omgooi!

Ouma het werklik haar geskenk waardeer, maar die sy het nie die waarde daarvan besef of geken nie. Vir haar het die iPad soos ‘n luukse kapbord gelyk en sy het dit so gebruik. Sy het dit selfs goed opgepas en altyd deeglik gewas. Onskuldige onkunde het gemaak dat sy nooit die waardevolle woorde van haar gunsteling gedigte of die wêreldensiklopidieë van wenresepte of die kleurryke klanke van haar gunsteling musiek sou kon sien, lees of hoor nie. Die tragiese waarheid is dat, hoewel Ouma se iPad reeds deur herhaaldelike skottelgoedwasser-siklusse gegaan het, dit waarskynlik na die eerste een reeds bestem was om nooit weer meer as net ‘n kapbord te wees nie.

In ‘n sekere sin lyk ons almal soos kapborde en kan ons so funksioneer, maar ons is eintlik iPads — ons beskik oor onuitputbare potensiaal en gawes wat ontdek en ontgin kan word met doelgerigte soektogte. Gelukkig is ons effens meer veerkragtig — ons buitekante se beskermingsskanse is kapbestand en ons fyn binnewerke is waterweerstandig. Maar ons veerkragtigheid is beperk en niemand van ons spring uiteindelik kap- en waterskade vry nie.

Ons kan mekaar WAARDEER as kapborde en dis nie noodwendig verkeerd nie, maar dis nie dieselfde as om mekaar se WAARDE as iPads te EER nie.

 

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes poems, reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. Charnetta

    Hahaha, weet nie of mens wil lag of huil nie. Kosbaarheid is om elke mens se waarde te besef, nie net wat dit vir my beteken nie, maar vir wat dit werklik is in die oe van die Here.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Dankie liewe Charnetta. Dis nogal ‘n loodswaargedagte om te besef dat ons mense kan waardeer sonder om hulle waarde te ag! Mag ons albei doen! 🙏🏼

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post