RAAKSIENGENADE VIR SELINA, MINA EN SARA

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

‘n Kernkortverhaal in die PGSD2025-reeks. PGSD2025 verwys na Pellissier Gemeente se 2025 Shop Day geleentheid waar gemeentelidmate uitreik na die geringstes in hulle plaaslike gemeenskap om hulle te bedien en te bederf. Hierdie verhaal is werklikheidsfiksie wat beteken dat die plot/storielyn geloofwaardig is, maar dat die karakters nie noodwendig ware mense uitbeeld nie.

.

 

Selina kan skaars die kos-pot van haar familie aan die kook hou al werk sy by drie verskillende plekke en is sy amper nooit tuis nie. Haar growwe hande is vol krake en barste en die hopeloosheidshartseer in haar sagte oë is aangrypend. Adri is ‘n gesoute maatskaplike werker, maar sy sluk swaar aan die knop in haar keel. Haar hart breek vir Selina se swaarkry en sy bid saggies in haar binneste.

 

Adri begelei vir Selina en haar twee dogters na ‘n vrolik-gedekte tafel waar sy vir hulle die stoele uittrek en sekermaak dat hulle gemaklik is voordat sy die kelner aan hulle voorstel. Teen die tyd dat die drie hulle worsbroodjies wegsluk met romerige warm sjokolade, het Adri se binne-gebede verander in desperate pleitkrete. Met haar kundigheid en ervaring, kon sy ‘n paar waarnemings maak wat haar diep skok en ontstel. Die dertienjarige Mina is waarskynlik reeds lankal in die tweede trimester van ‘n swangerskap en die stomstil sewejarige Sara hou haar mamma se klere in ‘n doodsgreep met haar linkerhandjie vas terwyl sy haar misvormde regtergewrig styf teen haar vashou. Daar is geen twyfel by Adri dat hierdie kosbare mense beduidend meer as kos en klere benodig, maar na ete help sy die drie dames om eers klere, skoene en toiletware uit te kies voordat sy ‘n lang ruk spandeer om hulle geestelik te bedien en vir hulle te bid nadat Selina haar hart kon uitpraat het oor afgryslike misbruik en uitbuitery.

 

LIEWE, LIEWE SELINA EN MINA EN SARA, JESUS SIEN JULLE RAAK EN HY IS SO BAIE LIEF VIR JULLE!

 

Vir ‘n klein rukkie laat Adri die dames in die stil veiligheid van die bedieningsarea terwyl sy na buite gaan om ‘n paar belangrike oproepe te maak en dan sluit sy weer by hulle aan. Dit neem nie lank voordat haar foon lui en sy die drietal dames na buite toe begelei nie. ‘n Vriendelike vrou in uniform wag op hulle by ‘n noodvoertuig waar Adri aan elkeen ‘n BarOne oorhandig en hulle dan stywe drukkies gee voordat hulle in die voertuig klim en wegry. Adri weet dat hulle veilig is, maar sy pleit steeds in haar hart.

 

O HERE JESUS, HELP ASSEBLIEF HIERDIE KOSBARE VROUE, MAAK ASSEBLIEF HULLE STUKKENDSEER GESOND?

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

2 Comments

  1. MJ Maartens

    O, Lulu, o, Pellissier gemeente, in hierdie werklikheidsverhaal met mense van vlees en bloed wat nie ontbloot word nie, sien ons wat gedoen kan word, wat deur die Kerk as Liggaam van Christus gedoen moet word. Niemand kan so ‘n werklikheidsflits skryf sonder om self daar betrokke te wees nie. Dankie, Lulu, vir die geweldige werk wat jy prakties daar doen, maar ook van elke mens wat hier lees, op skrif stel. HERE, seën Pellissier gemeente en seën vir Lulu, asseblief. AMEN.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Liewe Maretha, baie dankie vir jou mooiste waarderingswoorde en ook vir jou ondersteunende seënbede! ❤️

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post