My antwoord op die vraag WIE SÊ JÝ IS JESUS?
.
Ek het ‘n rukkie gelede ‘n plasing van eKerk op Facebook raakgesien en hoewel ek nog nie die videogreep daarvan gekyk het nie, het die afsluitvraag my onmiddellik aangegryp. Ek het dadelik gelos waaraan ek besig was om te skryf om eers hierdie vraag te beantwoord vir die HIER en NOU, sonder om denk-oordadig in my oorweging daarvan te wees. My antwoord is toegespits op my eie persoonlike verhouding met Hom.
.
Hier is Wie Jesus vir my is:
.
Hy is die enigste Een Wie my ALTYD raaksien.
Hy is die enigste Een Wie my ALTYD hoor, selfs wanneer ek die reserwes uit my hart en siel uit bedien op klankgolflengtes wat amper niemand kan hoor nie.
Hy is liewer vir my as wat ek al ooit aan iemand anders probeer uitdruk het.
Hy het ALTYD tyd vir my, selfs wanneer ek gly op kere wat ek eerder moet bly.
Hy kwebbel-klets nie oppervlakkighede wanneer my hart seer en my siel stukkend is nie.
My seer maak Hom ook seer.
Hy dink ALTYD aan my.
Hy versamel elkeen van my trane.
Hy verwelkom die hele ek, alles van my, net soos ek is.
Hy is nie ongemaklik met my nie en Hy sal nooit my swakhede uitbuit nie.
Hy sal my nooit vermy, verwerp of verlaat nie.
Hy stel belang in alles binne-in my hart en siel en ek hoef niks daarvan uit te vee, te verander of te verkort nie.
Selfs in my lelikste oomblikke sal Hy my nooit wegsteek omdat ek ‘n verleentheid vir Hom is nie.
Vir Hom is ek ALTYD ‘n integrale deel (element) van Sy oorspronklike versameling en nooit soos oorbodige oorskietkos wat in wegneemboksies van ontslae geraak moet word nie.
Ek vind behoortenis* by Hom en hoe verder ek vorder op my geloofsontdekkingsreis as Sy vrygekoopte, hoe meer begeer en poog ek om soos Hy te wees.
.
WIE IS JESUS VIR JOU?
.
*Behoortenis is my eie skeppingswoord-vertaling vir belonging. Ek vertaal, dus, finding belonging na VIND BEHOORTENIS. BEHOORT is inderdaad die korrekte Afrikaanse vertaling van belong en dit verwys na ‘n JA/NEE status – JA, die element behoort of NEE, die element behoort nie. Dis ‘n onbetwisbare, voldwonge feit dat ons, as gelowiges, aan Jesus BEHOORT, ons BEHOORT status is JA. Hy, ons sondelose en volmaakte Verlosser, het ons vrygekoop. Ons, in teenstelling met Hom, leef aan die stukkende kant van die ewigheid met ons sondige natuur en onvolmaaktheid. Ons BEHOORT status is nie ‘n veranderlike nie, maar in ons sondige onvolmaaktheid, is ons wel veranderlikes. In Filippense 2:12 word ons aangemoedig om ons verlossing uit te werk en ek glo dat dit verwys na ‘n reis om BEHOORTENIS te VIND, ons lewenslange geloofsreis om ons BEHOORT status van JA ons eie te maak.






Liewe Lulu, terwyl ek jou roerende belydenis gelees het, het Maarten Luther se woorde [uit Duits vertaal] by my opgekom: “Every man must do two things alone: he must do his own believing and his own dying.” Hoe geweldig is dit! Hoe groots en standhoudend is jou eie glo… die werkwoord, ”glo.” Mag hierdie skrywe van jou elkeen wat hier lees, inspireer om ook die vraag te beantwoord: ”Wie is Jesus vir jou?” DANKIE!
Liewe Maretha, dankie vir jou openhartige bydrae, deernisvolle toewyding en die navolgingswaardige voorbeeld van jou eie merkwaardige geloofslewe! ❤️
Liewe Lulu,
Baie dankie vir hierdie diep en roerende woorde oor wie Jesus vir jou is. Jou persoonlike getuienis het my hart geraak – veral hoe jy beskryf dat Hy jou altyd raaksien en hoor, selfs op daardie klankgolflengtes wat amper niemand anders kan hoor nie. Jou woord-skepping “behoortenis” is pragtig en spreek so kragtig van daardie reis om ons JA-status werklik ons eie te maak.
Dankie dat jy jou hart so opreg gedeel het.
Dankie liewe Charles! Vir die oorgawe waarmee jy jou waardering uitspreek, vir jou oortuigende deelname en dat jy, daardeur, ook ‘n stukkie van jou eie mooi, tog kwesbare hart blootstel! ❤️