VERANDER JOU KOERS!

POSTED BY

Lulu van Aswegen
Lulu van Aswegen

Die meeste van ons wat al ‘n rukkie lank op hierdie aarde vertoef, is vertroud met keerpunt- of draaipunt-oomblikke. Dit is daardie gebeurtenisse op ons lewensreise wat ons onwillekeurig tot stilstand bring by PAD GESLUIT padtekens en ons dan dwing om ‘n ander rigting in te slaan. Dis gewoonlik op hierdie punt waar die Lola’s* op ons karre se GPS-stelsels hulle recalculating route roetines begin uitvoer.

 

Daar is ‘n bekende staaltjie in seevaartkommunikasie wat so ‘n mooi beeld skep van verpligte koersverandering. Die kaptein van ‘n groot skip let op dat daar ‘n ander struktuur in sy skip se pad is en hy maak die aanname dat dit ‘n ander skip is. Hy stuur ‘n duidelike boodskap aan die bevelvoerder van die ander skip. HIERDIE SKIP IS VEEL GROTER EN KRAGTIGER AS JOUNE. JY IS IN MY PAD. BEWEEG VINNIGER OF KOM UIT MY PAD UIT! Die antwoord kom terug. ONS IS INDERDAAD VEEL KLEINER AS JY, MAAR ONS KAN NIE BEWEEG OF PADGEE NIE. VERANDER JOU KOERS. Die kaptein, nou erg opgeklits, laat weet die volgende. HIERDIE IS DIE MAGTIGSTE OORLOGSKIP IN DIE MENSDOM SE GESKIEDENIS EN ONS BESKIK OOR VERNIETIGINGSKRAG WAT JOU IN ‘N OOGWINK SAL UITHAAL. GEE PAD! Na afloop van die aanhoor van die terugvoer op sy dreigement, verander die opgeklitste kaptein onmiddellik sy koers en geen verdere kommunikasie vind plaas nie. HIERDIE IS DIE LIGTORING EN AS JY NIE JOU KOERS VERANDER NIE, GAAN JY JOU INDRUKWEKKENDE OORLOGSKIP SINK!

 

Hierdie oordenking het my laat terugdink aan verskeie PAD GESLUIT oomblikke in my eie lewe oor die jare heen. Een van hierdie oomblikke het in die winter van 2000 gebeur en daartoe gelei het dat ek en my geliefde Assie ‘n beduidende koersverandering moes maak. Hierdie koersverandering was om ons kern-AssieTribe te trek vanaf bekoorlike Ballito na bevrore Bloemfontein toe op 26 Junie 2000. Vandag is ons 25-jaar herdenking van ‘n rampvermydende koersverandering. Soos die opgeklitste kaptein, het ons gehoor gegee aan die ligtoringwaarskuwing ondanks al my dreigement-gelaaide verwaandheid. WIE IN HULLE REGDENKENDE, GESONDE VERSTAND VERRUIL DAN NOU BALLITO VIR BLOEMFONTEIN?

 

Ongelukkig kan ek ook geleenthede onthou waar ek, in astrante dwaasheid, chicken met ligtorings gespeel het en wel my oorlogskepe gesink het. Ek is nie trots daarop nie, maar ek kan getuig dat hierdie ongematigde reise van my op geslote paaie genadiglik ook gelei het tot ander PAD GESLUIT oomblikke waar ek tweede (en derde en selfs meer) kanse gegun is. Hierdie oomblikke was, amper sonder uitsondering, die heel laagste punte in my lewe. Platgeslaan en verpletter.

 

Sover in my lewensreis het ek tot ‘n paar taamlik eenvoudige PAD GESLUIT insigte gekom wat ek heelhartig probeer implementeer (soms maar met gemengde sukses) en ek deel dit graag:

  • As die Lola* van jou lewensreis-GPS nie die stem van die Heilige Gees is nie, verander dit onmiddellik! Haal die mute af en draai die volume op sodat jy Sy rigtingaanwysings kan hoor en volg. In Junie 2000 het ek Sy stem gevolg en nie die “regdenkende gesonde verstand” van die Lola’s wat ek gevolg het elke keer toe ek die oorlogskepe laat sink het nie.
  • Moenie die STIL in STILSTAND onderskat of minag nie. Ongeag van hoe erg die verwoesting rondom jou is, vertoef ‘n rukkie in die stilte, maar doen dit in die veiligheid van jou skuilplek by Jesus, in Sy teenwoordigheid. Daar kan jy sit of staan of selfs net in ‘n klein bondeltjie lê. Die stilte by Hom bring altyd weer sin.
  • Moet nooit agteruitloop van die PAD GESLUIT padteken af nie, ongeag van hoe verslae jy dalk mag wees. As die Rigtingaanwysing aandui dat jy moet teruggaan, draai dan om en loop vorentoe terug. Agteruitloop is ‘n bietjie soos om ‘n fliek op mute agteruit te kyk. Dit kan moordlustige kettingsaagkranksinniges (slasher flieks) en bloeddorstige monster-oerdiere (Jaws & Jurassic Park) laat lyk soos goedhartige skepsels wat aan verskrikte mense afgeskeurde ledemate teruggee…en ons almal weet hoe belaglik dit klink!

 

Liewe liewe leser, ek sluit graag hierdie oordenking af met die volgende:
Al vergeet jy al my quirky randomness, moet nooit vergeet dat die Heilige Gees se stem altyd aanvoelbaar sag is, dat jou skuilplek by Jesus altyd veilig is en dat God se ontfermende, onvoorwaardelike liefde vir jou oral en altyd beskikbaar is, ongeag van die pad waarop jy jouself bevind nie!

 

PS (tong-innie-kies): So… it turns out dat ek wel nog in Afrikaans kan skryf! 😉

.

 

*Lola is die naam wat Robin Williams se karakter toegeken het aan die vroulike stem op die GPS van sy gehuurde Recreational Vehicle in die fliek RV.

About Author

Lulu van Aswegen

Lulu van Aswegen is a writer, wife, mother, and grandmother from Bloemfontein, South Africa. Inspired by life, faith, and family, she writes reflections and short stories in English as RedeemedPioneer and in Afrikaans as VrygekoopteBaanbreker.

7 Comments

  1. MJ Maartens

    Liewe Lulu, hoe dikwels het ek al aan die PAD GESLUIT-aspekte van my eie lewensreis gedink en gewonder of ek nie dalk my eie stopblokke op sekere plekke aangebring het nie. As ek maar…as ek maar…. as ek maar net…. En dan, op ‘n dag. weet ‘n mens dat jy niks ander sou wou doen en wees as waar die HERE jou gebring het nie. Ebenhaeser! Nee, Halleluja, Ebenhaeser! Want waar Hy ons bring, is waar ons die naaste aan ons is en ons die naaste aan Hom. Dankie vir hierdie wonderlike inskrywing.

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Liewe Maretha, baie dankie vir jou waardering en insiggewende bydrae! 🙏🏼

      Reply
  2. Charles James

    Baie dankie Lulu!! Ek is mal oor die beeld van die GPS en die HG as die “stem” wat ons die regte pad wys. Ook die kosbaar van “stilhou plekke” en dat ons soms langer in die seer moet vertoef om God se nabyheid en genesing te kan beleef en ontvang. 🙏🙏🙏

    Reply
    • Lulu van Aswegen

      Liewe Charles, baie dankie vir jou deel en waardering! 🙏🏼

      Reply
  3. Janet Rodriguez

    Excellent food for thought! Don’t despise the silence in silence…. Good is faithful!

    Reply
    • Janet Rodriguez

      Moenie die STIL in STILSTAND onderskat of minag nie. God is faithful!

      Reply
    • Lulu van Aswegen

      Thank you, dear Janet! I used to struggle with staying in the silence, but the indescribable resultant peace makes it easier every time. 🙏🏼

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Related Post